‘Kitskoskonings’ wil nou die vetjies afskud

Alvin en Gerhard in Konings van Kitskos (Foto: Facebook)

Alvin Bruinders en Gerhard Steyn, oftewel die bekende Konings van kitskos, gaan nou van die vetrolletjies probeer ontslae raak in hul jongste program, Skud dit af.

In Konings van kitskos het dié duo al wat ʼn pizza, burger en aartappelskyfie is, uitgetoets en natuurlik het dit sy tol op hul gesondheid geëis.

Alvin het vroeër aan Maroela Media vertel hy is nie heeltemal seker hoe hy soveel gewig oor die jare aangesit het nie, maar die Covid-19-pandemie het hom laat wakker skrik. Daarom het hy in Oktober verlede jaar ʼn gesonder leefstyl begin volg waar hy let op wat hy eet, baie water drink en oefeninge doen.

Alvin doen allerhande oefeninge om gesonde te bly (Foto: Facebook)

“Ek het vir myself gesê ek kan as ʼn ongesonde mens vir sowat 60 jaar lewe of ek kan as ʼn gesonde mens vir 80 jaar of langer lewe. Ek wou nie myself beroof van daardie 20 jaar nie,” het hy gesê.

Suné Esterhuizen, hoof van reklame by VIA, sê die eerste episode van Skud dit af sal op 20 April om 17:00 op die kassie wees. Melinda Bam, voormalige Mej. Suid-Afrika, is die aanbieder van die program.

“Die konings van kitskos skuif ʼn slag die burgers en tjips opsy om ʼn gesonder eet-en-oefenplan aan te pak. Sal dié duo die kilo’s kan afskud?” lui ʼn verklaring oor die program.

Alvin het laat hoor hy is nie bang vir ʼn uitdaging nie en hy voel al klaar beter danksy die resultate wat hy op sy eie vermag het.

Hy is vasberade om ʼn verandering in sy hele leefstyl te maak en dit nie as ʼn kitsoplossing te beskou nie.

Gerhard Steyn en Alvin Bruinders saam met Melinda Bam (Foto: Instagram)

“Ek het ook besef ek is nogal ʼn ou wat daarvan hou om myself uit te daag en dan voluit te gaan vir iets as ek dit wil hê. Ek doen dit in my werk, so hoekom kan ek dit nie hiermee doen nie? Ek het vir myself gesê: Daar is niks wat jy nie kan doen nie. Get a grip, man.”

Hy het gesê hy is bereid om die tyd en moeite in te sit om ʼn langer en gesonde lewe saam met sy geliefdes te kan geniet.

“Jy kan nie jare lange ongesonde gewoontes in ʼn paar maande regmaak nie. Dit is ʼn kopding en ek moet net aanhou en uithou. En as ʼn mens dit regkry, raak dit jou as mens, jou hele menswees en jou selfvertroue.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dup ·

Sterkte en voorspoed vir die twee.Hulle sal ook uitvind dat dit harde werk en dissipline verg om fiks en gesond te leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.