Klein spasie, 50 vreemdelinge en groot geld

Vyftig vreemdelinge moet ’n tweeslaapkamerhuis deel wat net vir twee mense toegerus is.

Hoe lank sal jy kan uithou om ’n tweeslaapkamerhuis – toegerus met kos, toiletware en beddegoed vir net twee mense – met 49 vreemdelinge te deel? En as jy prysgeld van honderde duisende rande kan losslaan?

Dit is presies wat vir deelnemers wag in die splinternuwe VIA-werklikheidsprogram, Trap! Dis my huis.

Trap! Dis my huis is gegrond op die gewilde internasionale televisierealiteitsreeks Get the f**k out of my house. Dié reeks het oorspronklik in Nederland ontstaan, maar het intussen ook kykers in Duitsland en Brasilië aan die gons gehad. Trap! Dis my huis sal dié formaat se eerste vertakking op die Afrika-vasteland wees.

Gedurende die verfilming van Trap! Dis my huis moet 50 uiteenlopende vreemdelinge drie weke lank saam in ʼn tweeslaapkamerhuis deurbring. Dit is egter nie so maklik soos dit klink nie. Dié huis het net genoeg kos, beddegoed en ander voorraad vir twee mense.

Die huismaats het egter geleentheid om nog kos en ander voorraad te kry. R1 miljoen word gespaar in ’n geldpot en deelnemers het die opsie om van dié geld te gebruik om voorraad vir die huis te koop. Hoe meer geld egter gebruik word, hoe kleiner raak die wenner se uiteindelike kontantprys.

Voorraad kan ook deur middel van mini-kompetisies en -speletjies losgeslaan word.

VIA waarborg dat die finale wenner van Trap! Dis my huis met minstens R600 000 kan wegstap.

Die 50 huismaats moet die drie weke in die huis deurbring sonder om die huis te verlaat. Huismaats wat oorweldig voel deur die ervaring, het die opsie om enige tyd die huis – en gevolglik die kompetisie – te verlaat. Deelnemers word ook gereeld deur die huismaats uit die huis gestem.

“Ons is rasend opgewonde oor hierdie formaat,” sê Izelle Venter, kanaalhoof van VIA. “Ons het besluit dis reg vir die tydsgees – die wêreld is bietjie wild, deurmekaar en ʼn onverwagte avontuur, en dié reeks se formaat ook! Boonop word die konsep van privaatheid tot sy uiterste beproef.”

Trap! Dis my huis sal in Januarie volgende jaar op VIA uitgesaai word in samewerking met Elco. Mense wat graag deel wil wees van dié ongewone reeks, kan nou al inskryf deur hier te klik of na VIA se Facebook‑blad te gaan en op die skakel in die plasing bo‑aan die blad te klik. Dié skakel lei na ’n aanlyn vraelys wat ingevul moet word om die inskrywingsproses te voltooi.

Belangstellendes moet 18 jaar en ouer wees om in te skryf en moet vir drie weke in Oktober vanjaar beskikbaar wees vir verfilming in Kaapstad. Suksesvolle kandidate moet hulself in die Kaap kan kry vir die verfilming van die reeks.

Trap! Dis my huis word vervaardig deur Afrokaans, die produksiemaatskappy verantwoordelik vir die huidige seisoen van Survivor South Africa. Vir meer besonderhede, kontak Robert Kaden by [email protected] of besoek viatv.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bokka ·

Daar is nie n manier nie!! Nee dankie, daai geld is nie naastenby genoeg nie…..

Andre Stander ·

Mag mens die ander huis mense vermoor, en dan wen….?

charmaine ·

Nee hulle sal te veel raas en met my leestyd inmeng! En ek sal eerste geskop word want ek sal heeldag en aldag net wil skoonmaak!!

Pop ·

Nee wat, hou verby. Ek is manies oor my badkamer en toilet se hygiene. Jiggie as ek net dink aan al daai kieme????????????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.