Kleurvolle Karen kies positiwiteit te midde van ‘Housewives’-kritiek

Karen Schwendtke. (Foto: Verskaf)

Sy het die afgelope paar maande onder skerp kritiek deurgeloop as een van die ses “Real Housewives van die Wynlande”, maar volgens Karen Schwendtke het die lewe se struikelblokke haar geleer om eerder die mooi in moeilike omstandighede raak te sien.

“Mense kan gemeen wees, maar dit wat iemand sê of skryf, is ʼn groter refleksie van hulself as van my. Ek is oop vir kritiek en om myself te verbeter. Ek probeer dinge altyd omswaai om die positiewe raak te sien,” vertel die sakevrou vanuit haar tuiste in die luukse Val de Vie-landgoed in Franschhoek aan Maroela Media.

Natuurlik beteken dit nie dat dié vurige blondekop nie haar man kan staan nie.

“Ek is die vriendelikste, gaafste mens wat jy kan kry. Ek vat net nie ‘nonsies’ nie. Mense wat my jarelank al ken sê net: ‘Daai’s Karries. Daar’s nie ʼn ding wat sy nie vir jou sal doen nie, maar moet net nie aan haar verkeerde kant kom nie’.”

Karen nie meer bang om kwesbaar te wees nie

Karen het kykers in die eerste van twee Real Housewives-reünie episodes geskok toe sy verklap het dat sy in 2021 twee beroertes oorleef het.

Sy het deur dié werklikheidsreeks ook openhartig gesels oor haar egskeiding en persoonlike reis na selfaanvaarding, ʼn onderwerp wat sy sê nie sonder eerlikheid aangepak kan word nie.

Baie het egter kopgekrap oor dié sogenaamde “huisvrou” se besluit om haar gesondheidskok nóú eers met die publiek te deel.

“Daar was deur die reeks soveel opmerkings uit alle oorde teenoor my voorkoms gemaak, onder meer dat my oë die heeltyd rooi is, dat ek dronk is, dat my mond skeef trek en wat nog meer? Ek wou nie die heeltyd myself verdedig of verduidelik nie, en het mense maar eerder toegelaat om te sê wat hulle wou sê.”

Karen het die huisvroue vroeg-vroeg gewaarsku om nie aan haar slegte kant te kom nie. (Foto: Skermgreep/Verskaf)

Hoewel sy weens ʼn operasie nie in lewende lywe by haar medehuisvroue vir die reünie kon aansluit nie, het sy steeds haar sê oor dié kritiek gesê.

“Ek was amper dood, maar ek voel geseënd. Ek voel geseënd dat ek met Anita – wat eens aanmerkings oor my spraak gemaak het – hieroor kon gesels en antwoorde kan gee, ongeag wat sy van my dink.”

Die ma van twee vertel dat haar dogters, Saskia en Arabella, eerste deur haar gedagtes geflits het toe die beroertes haar onverwags in 2021 op pad na haar wildsplaas getref het.

“Ek kan nie die gevoel beskryf nie en wens dit aan niemand toe nie. Ek het net gesê: ‘Here help my, my kinders het my nodig.’ Ek het vir my vriendin wat saam in die kar was, gesê om om te draai en hospitaal toe te jaag, want ek dog ek gaan doodgaan.”

Karen verduidelik dat sy die tweede beroerte kort daarna voel aankom en probeer keer het, maar meen haar liggaam wou nie saamspeel nie. “Ek kon voel hier kom die tweede een. Dit klink vreemd, maar ek het skoon gevoel asof ek na die ‘ander kant’ toe gaan.”

Karen het verklap dat sy twee beroertes gehad het. (Foto: Verskaf)

Sy skryf haar herstelproses aan haar geloof en genade toe.

“Ek is so bevoorreg dat my brein okei is. My ou ogie hang soms, maar Liewe Jesus het my so mooi beskerm. Ek wou sommer uit die hospitaal direk wildsplaas toe gaan.”

Hoewel daar in ʼn vroeër episode tydens die huisvroue se vakansie in Mauritius geleentheid was om dié hartsaak met die ander huisvroue te deel, het opmerkings oor “swakhede as verskoning vir mense se optredes” haar daarteen laat besluit.

“Ek dink toe net by myself, hierdie is nie die tyd en plek om dit te deel nie. Ek is stil as ek voel ek het niks om tot die gesprek by te dra nie. Ongelukkig is party mense, lyk my, anders as die kollig op hulle skyn.”

Real Housewives dwing haar uit haar gemaksone

Ondanks negatiewe kommentaar vanuit hoofstroom én sosiale media, vertel Karen dat daar deurlopend vroue was wat in ʼn positiewe lig na haar toe uitgereik het.

“Ek het die mooiste direkte boodskappe ontvang en nie besef dat so baie vroue met my kon vereenselwig nie. Ek sê altyd ʼn mens moet jou kop, liggaam en siel in balans probeer hou, maar dis nie altyd maklik nie. Ek hoop hulle het besef dat hulle nie alleen is nie.”

Karen en die huisvroue by Michelle se TikTok-partytjie. (Foto: Verskaf)

Sy is ook oor niks spyt wat sy op die program gesê of gedoen het nie, en glo die reeks het haar buite haar gemaksone gedwing.

“Ek het dit vreeslik geniet om nuwe restaurante en besienswaardighede te besoek en al die glansgeleenthede by te woon. Met Michelle se TikTok-geleentheid het ek byvoorbeeld ook nie geweet wat ‘colour blocking’ is nie, ek het gedink ek moet soos my tienerkind aantrek,” skerts sy.

Hoewel sy die opdollie-sessies as ietwat uitdagend beleef het weens die besige verfilming skedule en haar sensitiwiteit vir sekere grimeerprodukte, het sy net lof vir die hele Real Housewives-produksie- en verfilmingspan.

“Ek het vriende voor én agter die kameras gemaak. Hulle het almal so diep in my hart gekruip.”

Die skinderpraatjies was egter die minder aangename deel van haar ervaring.

“Ek moet bieg, ek het geloer na van hierdie Facebook-groepe en selfs van die ander dames verdedig as mense lelike of valse goed geskryf het, maar toe vra ek myself af: waarom mors ek tyd en energie hierop?”

Sy was ook nie bang om haarself in die media te verdedig nie, “veral as hulle nie direk met my gesels het nie.”

“Hoe kan jy iets oor my skryf as jy nie met my gepraat het nie? Dan ken jy nie vir ‘Karries’ nie.”

Karen sien kans vir tweede rondte

Al het sy via video haar insae by die Real Housewives-reünie gegee, is Karen deeglik bewus van sommige kykers se mening dat sy dit aspris misgeloop het.

“Baie kykers en mense is vies, maar my hartjie is baie seer dat ek nie daar kon wees nie. Dit was vir my fisies onmoontlik. Ek het niemand probeer vermy nie en skroom nie vir moeilike gesprekke nie; ek dink die episodes bewys dit.”

Anita Lloyd, Amy Kleinhans-Curd, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Karen verduidelik dat sy haar arm op twee plekke gebreek het nadat sy in haar huis in die donkerte gegly het op pad badkamer toe. Sy het gevolglik nou ʼn permanente plaat en skroef in haar skouer.

“Die herstelproses was maar moeilik, maar my wonderlike ma het my help versorg. Dit het my ook gedwing om rustig te raak, en laat besef dat die wêreld sal aanhou draai, al is ek nie op en aan die gang nie.”

Sy was verder bly dat Anita die “Mammon-opmerking”, waar sy tergend aangevoer het dat al die vroue die geldgod dien, aangespreek het.

“Ek was eintlik verbaas dat Anita om verskoning gevra het, maar baie bly, want ʼn mens wil nie noodwendig oor dieselfde kam geskeer word met so tipe opmerking nie.”

Op die vraag of sy desondanks die drama, besige verflimingskedule en snedige opmerkings op sosiale media kans sien vir ʼn tweede rondte van Real Housewives, antwoord sy met groot opgewondenheid: “Absoluut! Met my nuwe Robocop-arm en al.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leeubekkie ·

Ek is mal oor Karen. Sy is vir my die mooiste van al die vroue. Haar kleurvolle uitrustings het my altyd getrek soos ‘n magneet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.