Koekedoortjie-wenner: ‘Dis ’n droom wat waar geword het’

Wicus van Deventer

Wicus van Deventer (12), wenner van kykNET se gewilde Koekedoortjie-werklikheidsreeks, meen hy het nou baie meer selfvertroue.

Wicus het in die finale episode van Koekedoortjie, wat Woensdagaand uitgesaai is, teen Nix Korff (13) meegeding en gewen.

Maroela Media het vroeër berig oor die plaasjapie Wicus van Prieska in die Noord-Kaap en die stadsmeisie Nix van Centurion.

Wicus en Nix moes ’n “supernova-sterrekoek wat na die sterre reik en hemels proe” bak. Wicus se weergawe en tegnieke het die beoordelaars, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, die meeste beïndruk en hy het weggestap as die wenner van die kompetisie.

“Ek kan steeds nie glo ek het gewen nie, maar ek dink dit het my gewys dat aanhouer wen,” het Wicus gesê, wat in die Prieska Gekombineerde skool is. Wicus se pa, PG, is ’n boer en ma, Nini, is ’n onderwyseres.

Die beoordelaars is dit eens dat Wicus ’n waardige wenner is. “Wicus was die under dog, maar soos wat ek al dikwels oor hierdie tipe reekse gesê het, moet deelnemers net elke uitdaging vat soos dit gebeur,” het Van Wyk gesê.

“Wicus het geluk aan sy kant gehad, want hy het dikwels droog gemaak, maar die wonderlike ding is dat dit hom nooit ondergekry het nie. Dit het hom eintlik sterker, en ’n meer gedugte mededinger gemaak, want hy gooi nie die handdoek, of eerder voorskoot, in nie.”

Mari-Louis Guy glo Wicus, wat sy as ’n ware “jintelmin” beskryf, het ’n bakinstink soos min. “Hy’t regtig ’n baie goeie aanvoeling vir gebak – veral van wat lekker sal smaak en hoe lank iets moet rys,” het sy gesê.

“Soms het sy gebak – soos met die heuningkoek – nie so goed op die oog af gelyk nie, maar dan het sy smake ons betower! Hy proe sy produkte en verstaan sy instinkte.”

Wicus het ná die finale episode in ʼn video gesê dat die kompetisie hom baie geleer het. “Ek het ongelooflik baie by die beoordelaars geleer, en ek het meer selfvertroue gekry. Dis is net ʼn droom wat waar geword het,” het Wicus gesê.

Wicus se ma, Nini, het gesê sy is trots op Wicus se deursettingsvermoë, hoe sterk hy is en dat hy elke uitdaging, hoe moeilik ook al, net aangevat het en klaargemaak het. “Jy is ʼn yster!” het sy gesê.

Wicus se hoofprys is ’n vakansie in Dubai saam met sy gesin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

EK is baie bly dat Wicus gewen het. Hy’s ‘n HAAN onder die hennetjies. Nix het my baie geïrriteer met haar blasé houding. Sterkte vorentoe, Wicus – ek is seker jy gaan eendag ‘n bobaas-bakker en spysenier word!

sonja coetzee ·

BAIE BAIE GELUK WICUS JY’T VERDIEN OM TE WEN JY WAS ONS GUNSTELING VAN DIE BEGIN AF!!!!!!EK DINK DIE HELE BLOEFONTEIN HET ONS GEHOOR TOE HULLE JOU AS KOKKEDOORTJIE 2018 AANWYS IS JY’T STOF IN NIX SE OE GESTOF IS BAIE BAIE TROTS OP JOU WICUS!!!!GENIET JOU VAKANSIE JY VERDIEN DIT!!!!!
NOGMAALS BAIE GELUK WICUS!!!!!!

Zettie ·

Alhoewel Wicus en Danika my gunstelinge was, het Nix se sê-goed my laat skaterlag. Ek sou baie graag vir haar in drama produksies wou sien optree, want sy “act” baie goed.

bak en brou ·

Hulle is sowaar bevoorreg om op so ‘n jong ouderdom die plesier van bak en brou te ontdek

Fan ·

Geluk Wicus. Daar word gesê die beste kokke en baksters is mans. Daar is weereens ñ bewys. Stof al die dametjies uit. O en ek is ñ vrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.