Kykers ken Kobus Botha as die Kokkedoor Vuur & Vlam-beoordelaar met die vlymskerp tong. As’t ware is dié koskenner ʼn egte Suid-Afrikaanse Fransman wat op een slag, manalleen, vir duisende mense kan kosmaak.
“Ek is nie ʼn sjef nie, ek het verskeie sjefvriende, maar ek is nie ʼn sjef nie. Sjefs kan by ʼn kombuis instap en goed maak wat ek nog nooit van gehoor het nie,” het Kobus op sy grapperige wyse aan Maroela Media vertel.
“Ek kan redelik goed werk met vuur, wat eintlik ʼn mooi manier is om te sê dat ek ongelooflik goed kan werk met vuur,” skerts hy.
Dit is juis sy natuurlike vaardigheid om te braai, en lekker te braai daarby, wat sy pad na Kokkedoor Vuur & Vlam plavei het.
Dekades as braaiende Fransman
Kobus woon en werk al vir die afgelope 20 jaar in Frankryk, waar hy die braaivleisvure hemelhoog laat brand.
“Ek het nou al ʼn hele paar myle op my, hoewel jy dit nie sal sê as jy na my gesig kyk nie,” sê hy met ʼn lag.
Sy terugkeer na Struisbaai, waar Kokkedoor Vuur & Vlam verfilm is, was ʼn volsirkel-oomblik vir Kobus. Dit is juis aan die kus van dié dorp waar hy gereeld vis geskiet het, wat hy later verkoop het om vir sy studies te betaal.
Alhoewel hy drie en ʼn half jaar by die Universiteit van Kaapstad studeer het, sê hy dat hy vandag “dalk een eerstejaarskrediet” agter sy naam het.
Hy het drama studeer, hoewel hy eintlik daarna gesmag het om flieks te maak. Ná ʼn paar jaar op universiteit, het hy besef dat dié akademiese tog vrugteloos is. Hy gaan sy eie potjie moet begin krap.
“Ek is glad nie akademies nie. Ek is iemand wat doen waarvan ek hou, en waarvan ek hou absorbeer ek vinnig, maar ek is glad nie goed daarmee om goed te memoriseer nie. Ek wil dit self uitdink.”
Dit is juis dié vasberadenheid om te skep, wat hom na die stel van die Amerikaanse rolprent, Curse of the Crystal Eye, gelei het. Daar moes hy aanvanklik kledingstukke aanmekaarplak, maar in sy eie woorde het hy besluit dat hy nie sy tyd so gaan mors nie. Toe gaan koop hy sy eie naaimasjien.
As planmaker en vooruitdenker van formaat, het dié plan hom spoedig ʼn posverskuiwing besorg. Dié nuwe taak, bokse bou, het hom ook nie lank besig gehou nie.
Kort voor lank was Kobus aan’t stuur van die hele departement, met tientalle mense wat onder hom gewerk het.
Hy bieg dat hy en van sy vriende steeds nou en dan byeenkom om Curse of the Crystal Eye, wat hy vandag as “belaglik” beskryf, te kyk. Dan lag hulle heerlik saam en bewonder daardie eerste treë in die bedryf wat hy later huis sou noem.
Hierdie eerste fliek het ʼn vlam onder Kobus laat brand. Hy wou nog altyd flieks maak, maar noudat hy ʼn smakie daarvan gekry het, gaan dié vlam nie binnekort geblus word nie.
Nie hierna nie het Kobus sy eie vervaardigingsonderneming gestig. Daardeur het hy tientalle reekse en rolprente gemaak, en die wêreld platgereis. Dit is ook hoe hy sy gewese lewensmaat en ma van sy 19-jarige seun ontmoet het.
“Sy het aan ʼn dokumentêr in Suid-Afrika gewerk. Ons het nie dadelik bymekaar uitgekom nie, maar toe ons het, was dit baie lekker.”
Hul seun is in 2004 gebore, en die paartjie het gesamentlik besluit om die fliekmakery te halt, sodat hulle ten alle tye saam by die huis kan wees. Daar en dan het Kobus die kamera neergesit en die braaitang opgetel.
Ruil jou ʼn kamera vir ʼn braaitang?
Gebore en getoë in Oudtshoorn in die Klein Karoo, het dit vir Kobus sin gemaak dat sy eerste restaurant in Frankryk Karoo heet. Deur die jare was hy aan’t stuur van menig restaurante voordat hy eindelik besluit het om sy mobiele braaitoerusting te gebruik om regoor Frankryk vir mense te braai.
“Ek het my braai op wiele gesit en geweet dat dit is wat ek wil doen. Kyk, ek doen baie fancy goed, mense betaal baie om my daar te hê – en hulle is geweldig tevrede.”
Dit is juis met dié mobiele braaiery dat Kobus vir soveel as 6 000 mense op ʼn slag braai. Hy skerts dat die animasiefiguur van ʼn sjef wat rustig deur ʼn mark stap, nie naby die werklikheid kom nie.
Een van sy gunstelingplekke is Marché International de Rungis, of net Rungis Mark, soos wat hy daarna verwys. Dit is ʼn reusemark waar hy vars, heerlike bestanddele vir sy braaigeregte aanskaf.
“Dit is ʼn absolute hemel van wonderlike kos. Alles ruik vars, en lyk mooi,” beskryf hy die mark, waar daar sowat 100 000 mense werk.
Dit is so groot dat jy selfs deur ʼn tolhek gaan om eindelik by die mark uit te kom. Dit is egter een van die plekke waar hy die gelukkigste is.
Kokkedore so na aan die hart
Kobus sal altyd in Suid-Afrika geanker wees, sê hy. Hy het immers nog ʼn huis saam met sy sussie in Somerset-Wes.
Sy terugkeer na Suid-Afrika om as beoordelaar vir Kokkedoor Vuur & Vlam op te tree, het ʼn soet smaak op sy tong agtergelaat.

“Kokkedoor”-beoordelaars, Bertus Basson en Kobus Botha, op die wit strande van Struisbaai. (argieffoto)
“Dit [Kokkedoor Vuur & Vlam] is ʼn interessante proses. Aan die begin is daar twintig mense, wat nogal baie vir so ʼn gedistilleerde omgewing is. Alles is verskriklik intens,” onthou hy die eerste ontmoeting met die deelnemers.
Hy bieg dat hy gesukkel het om almal se name aan die begin te leer, en dat hy eintlik probeer het om nie te veel van die deelnemers te hou nie. Hy erken dat hy en Bertus hulself soms eenkant gehou het om te verhoed dat hulle te na aan die deelnemers raak.
“Maar soos wat die reeks verloop, raak dit al hoe moeiliker, ʼn mens raak maar emosioneel betrokke.”
Met Bertus, sê hy, gaan hy nog lank ná die program vriende wees.
“Ons het van die begin af lekker gesels. Hy weet baie van kos,” sê Kobus.
Dit was natuurlik ook vir hom heerlik om voor die kameras, en nie oudergewoonte agter die kameras te staan nie.
“As vervaardiger kom mense na jou toe met probleme wat jy moet oplos. As jy voor die kamera is, kom mense na jou toe om vir jou te sê dat jy goed doen of om vir jou koffie aan te bied. Dit is werklik ʼn klomp talentvolle mense wat aan die reeks gewerk het.”
“Dit klink altyd oordrewe, maar dit was werklik ʼn wonderlike ervaring.”
- Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.