Kook en Geniet die legende – nou ʼn TV-reeks!

Kook en Geniet is ʼn ikoniese resepteboek – en nou het dié staatmaker sy eie kosprogram gekry.

Lise Swart is die aanbieder wat saam met ʼn verskeidenheid Suid-Afrikaners agter die kospotte inskuif om te hoor watter invloed dié boek op hulle lewens gehad het. Sy gesels onder andere met die dogters van die kookboek se skrywer, mev. SJA de Villiers, en ontmoet die uitgewers van die boek.

Kosredakteurs vertel hoe die resepte in Kook en Geniet opweeg teen die resepte in tydskrifte, en bloggers toets of die resepte geskik is vir moderne verbruikers. Lise klop ook by sjefs en spyseniers aan om te kyk hoe die resepte in Kook en Geniet hulleself leen tot die professionele kosbedryf.

Kook en Geniet is veral gewild onder pasgetroudes wat vir die eerste maal leer kosmaak, en in die reeks waag twee sulke vrouens hul hand aan van die resepte.

Kinderkokkies maak ook ʼn draai om hul vaardigheid te kom wys met die resepte in Klein Kook en Geniet, en ʼn ete-klub berei ʼn hele maaltyd uit Suid-Afrika se gunstelingkookboek voor.

Twee resepteboekskrywers en lede van die VLV wys ook hul slag in die kombuis met resepte uit Kook en Geniet: Soetsuurdeegbrood, appelkooskonfyt, lamsboud en broodpoeding was nog nooit so lekker nie.

Uiteindelik beleef ons ook ʼn deftige teepartytjie wat deur die ACVV op Franschhoek voorberei word vir bejaardes op die dorp, en in die laaste episode wys Lise self hoe haar kookkuns met behulp van Kook en Geniet verbeter het, wanneer sy vir mense na aan haar hart ʼn maaltyd voorberei.

Hierdie reeks sal jou mond laat water en jou lekker lus maak om self jou hand aan heerlike Suid-Afrikaanse kontreikos te waag. Teken in op Showmax as jy wil aansit vir watertand kosprogramme soos Kook en Geniet, net wanneer en waar jy wil.

Vanaf 6 Julie is Kook en geniet die legende vir die eerste keer op Showmax beskikbaar. Indien jy nog nie vir Showmax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

*Let daarop dat hierdie reeks op 6 Julie aanvanklik net vir Showmax-kykers in die buiteland beskikbaar gemaak word. Laat weet gerus jou vriende en familielede in die buiteland!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Potts ·

Alhoewel dit wonderlik klink sit die feit dat dit aanvanklik vir die buiteland is my af, gaan nie trek om dit te kyk nie.
Kan julle dalk meer local shows bemark.

Sune van Heerden ·

Dagsê Potts

Dankie vir jou terugvoer.
Die betrokke reeks is ook elke Woensdagaand plaaslik op kykNET beskikbaar.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

John ·

Die aandagsoekende aanbieder doen afbreek aan die nederige en geliefde outeur se gewilde resepteboek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.