Alhoewel Tjaart en Jan, twee geliefde Kokkedoor Vuur & Vlam-deelnemers, huiswaarts moes keer nadat hulle nie die mas in die jongste episode van die reeks kon opkom nie, sal hulle dié kosbelewenis vir niks verruil nie.
Tjaart, ʼn koffewinkeleienaar en boer van Stilbaai, en Jan, ʼn predikant van Cradock, is in die vyfde episode van Kokkedoor Vuur & Vlam huis toe gestuur nadat hulle daarin misluk het om die beoordelaars met hul biefstuk-braaivernuf te beïndruk.
Dit was die eerste uitdaging in die reeks wat dié twee kombuisliefhebbers as ʼn span moes aanpak. Kobus Botha, een van die beoordelaars, se gunsteling-vleissnit, Côte de Boeuf, ʼn Franse weergawe van rib-oog-biefstuk (rib-eye steak), was die spreekwoordelike spyker in dié span se doodskis.
“Gemeenskaplike liefde vir kos skep vriendskap” sê Tjaart
“Ek was broos en gebreek. Die gevoel van teleurstelling was super oorweldigend – ek sou vir seker nie so vroeg al wou huis toe gaan nie,” het die 27-jarige Tjaart oor sy uittog uit die Kokkedoor Vuur & Vlam-kombuis vir Maroela Media gesê.
Hy onthou elke keer wat hy saam met sy mede-deelnemers sy sitplek in die kolekamer, waar besluite oor elke deelnemer se toekoms in die kompetisie geneem word, ingeneem het. Elke keer het hy maar ʼn skietgebedjie opgesê, en elke keer het ʼn gevoel van rustigheid oor hom gespoel.
Ná die laaste uitdaging, het dié rustigheid, waaraan hy deurentyd gewoond geraak het, ontbreek. Daar het ʼn idee in hom gewoel dat dit sy laaste keer in die kolekamer sou wees.
Tog, wanneer dié Stilbaaise sjef en koffiewinkeleienaar aan sy tyd in die kompetisie in die Kokkedoor-kombuis dink, is dit die mense wat hy bloot nie kan vergeet nie.
“Iets wat opmerklik was, is dat ons twintig mense van soveel verskillende agtergronde was, tog het ons baie vinnig na aan mekaar geword,” sê Tjaart.
“Dit is ons gemeenskaplike liefde vir kos wat ons byeen gebring het. Kos verskuif berge, dit bring mense se kultuur en agtergronde bymekaar.”
Alhoewel Tjaart se tyd op die program geëindig het, kyk hy nog getrou om die res van die deelnemers te ondersteun.
“Almal verdien ʼn plekkie in die son – en niemand het ingeskryf om nié te wen nie. Elkeen het ʼn rede om daar te wees.”
Tjaart en sy ma besit ʼn koffiewinkel, Coffee & Cream, in Stilbaai. Dit is juis daar waar hy elkeen van sy kosdrome ten volle kan uitleef, veral wanneer dit by bak kom. Hoewel kykers hom in ʼn braaiershoedanigheid leer ken het, erken Tjaart dat hy homself ten volle kan uitdruk wanneer hy besig is om te bak. Hy boer ook saam met sy pa met boerbokke, ʼn lewenspad wat nie net sy belangstelling prikkel nie, maar sy verhouding met sy pa versterk het.
“Dit was ʼn goeie middeweg om weer ʼn pad tussen my en my pa te bou. Ons het ʼn gemeenskaplike belangstelling in die boerbokke gekry, en ons liefde vir mekaar het daardeur gegroei.”
“Om te braai, is om te ontsnap” sê Jan
Wanneer mens na Jan, die predikant van Cradock, kyk, is dit moeilik om nie sy rustigheid aan te voel nie.
“Elkeen in die kompetisie het hierdie ongelooflike verhaal, en dis waarin die kykers moet inkoop. Dit gaan nie help om een gunsteling te kies nie, want elke liewe deelnemer kom met ʼn storie van hoop waarom hulle aan die kompetisie deelneem,” het Jan aan Maroela Media gesê.
“Wanneer jy besef wat elkeen se storie is, gaan jy baie maklik elkeen wat deelneem ondersteun en bly wees wanneer hulle aan die einde van die dag wen.”
Jan erken dat hy teleurgesteld in homself en hartseer vir sy spanmaat, Tjaart, was toe daar bekendgemaak is dat hulle huiswaarts moes keer.
Vir hom, nes vir Tjaart, het hulle maklik vriende geraak.
“Ons was in ʼn ongewone omstandighede ingegooi saam met mense wat ons eintlik glad nie vooraf geken het nie. Daar was soveel druk en emosie in die lug – ʼn mens kan amper nie help om vriendskappe te vorm nie.”
“Mens stap weg met familie, eerder as vriende, juis omdat ons hierdie ervaring gedeel het.”
Alhoewel Jan vir ʼn wyle sy preekstoel moes verlaat, sê hy dat hy nie vir mense gesê het dat hy aan die kompetisie gaan deelneem nie. Hy het bloot verlof ingesit en later, met die bekendstelling van die deelnemers, die blye nuus met sy gemeente gedeel.
Sedertdien het dié gemeente bankvas agter hul leraar gestaan.
Jan was nog altyd lief vir kosmaak, en nog liewer vir braai. Hy beskou dit as ʼn kans om asem te haal en te ontsnap. Hy het ook nog altyd ʼn prentjie in sy geestesoog gesien waar hy aan ʼn koskompetisie of -program deelneem – en toe hy die vuur van Kokkedoor Vuur & Vlam sien, het hy geweet dat daardie dag vir hom aangebreek het.
“Kos is vir my ʼn ontsnapping van alledaagse bekommernisse en uitdagings. Ek wou ook iets vir myself doen, as predikant doen ʼn mens so baie vir ander dat ʼn mens dikwels van jouself vergeet.”
“Deur die loop van die program het ek geleer dat om basiese kennis oor kosmaak te hê baie belangriker is as om fancy dinge te kan doen. Ek weet ook nou dat om my eie instinkte te vertrou, van onskatbare waarde is.”
- Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.