Kry hiér jou kykstof aanlyn

(Foto: Freestocks/ Unsplash)

Die onlangse nuus dat DStv sy stroomdienste van Maart af gaan beperk, sal talle Suid-Afrikaners na alternatiewe bronne van kykstof laat soek.

Hiér is ʼn lys van moontlike stroomdienste, hoe dit jou beursie gaan raak en wat jy vir jou rand en sent te siene gaan kry.

  1. AcornTV

Teen R79,00 ’n maand kan jy ’n string nuwe reekse en rolprente ontsluit. Dit is ’n Amerikaanse stroomdiens wat onder meer programme en rolprente soos Clean Break, Finding Joy, Jack Taylor en Kingdom bied.

  1. Amazon Prime

Om dié stroomdiens deel van jou kykgeriewe te maak, sal jy ook R79,00 per maand daarvoor moet opdok. Dexter, Mad Men en The Marvelous Mrs Maisel is net van die opsies waaruit jy kan kies wanneer jy by Amazon Prime aansluit.

  1. Apple TV+

Teen R84,99 ʼn maand sal jy toegang kry tot al die oorspronklike Apple-reekse en -rolprente. Acapulco, Ted Lasso en The Morning Show vorm deel van dié stroomdiens se kykprodukte.

  1. Britbox

Dié stroomdiens is ʼn gesamentlike poging van die BBC en ITV om Britse reekse en rolprente aan die wêreld beskikbaar te stel. Teen R99,99 kan jy onder meer Midsomer Murders, The Graham Norton Show en Line of Duty te siene kry.

  1. eVod

is ʼn gratis stroomdiens wat talle Suid-Afrikaanse programme en rolprente aan kykers bied. Wrede Stad, Vierspel Vuurspel en Madam & Eve is van die titels wat op dié diens beskikbaar is.

  1. Netflix

Netflix is ʼn stroomdiens wat ʼn wye verskeidenheid van bekroonde reekse en rolprente aan kykers bied. Na gelang van jou pakket sal dié diens jou R99,00 tot R169,00 kos. Bridgerton, Inventing Anna en Space Force is maar enkele voorbeelde van dít wat Netflix aan kykers bied.

  1. Showmax

Hierdie stroomdiens bied ʼn verskeidenheid van internasionale en plaaslike rolprente en reekse om van te kies. Na gelang van die pakket wat jy kies, sal jy tussen R39,00 en R449,00 per maand vir dié diens moet opdok. Why Women Kill, Euphoria en Fynskrif kan onder meer op Showmax gekyk word.

Waarna kan lesers uitsien?

Disney+ sal vanjaar op plaaslike skerms beland en sal jou tussen R100,00 en R150,00 kos. Hierop sal jy talle Disney-produksies kan geniet.

Paramount+ sal in 2023 in Suid-Afrika beskikbaar wees en jy sal enigiets tussen R100,00 en R150,00 daarvoor moet opdok. Amazing Race, Celebrity Big Brother en The Twilight Zone sal onder meer op dié diens beskikbaar wees.

Stroom in Afrikaans

Daar is talle Afrikaanse stroomdienste waaruit kykers kan kies.

  • GLOmedia.TV, ʼn stroomdiens wat Christelike inhoud teen R49,00 ʼn maand aan kykers bied.
  • AfriForumTV is ʼn Afrikaanse stroomdiens wat talle reekse, rolprente en dokumentêre aan kykers bied.
  • RoepTV is ʼn familievriendelike stroomdiens wat jou, na gelang van jou pakket, R129,00 of R149,00 gaan laat opdok.
  • NET Afrikaans bied oorspronklike Afrikaanse programme en gaan jou R79,00 ʼn maand kos.
  • JOU Afrikaans bied rolprente en reekse wat die nostalgie sal aanwakker. Hierop kan jy teen R80,00 ʼn maand of R800,00 ʼn jaar talle bekende Afrikaanse reekse en rolprente van nuut en oud te siene kry.

Wat van sport?

Terwyl daar talle sportstroomdienste in ander lande beskikbaar is, is dit nog een afdeling van beskikbare stroomplatforms waar daar nog nie baie opsies in Suid-Afrika is nie.

Sportliefhebbers kan Now TV Sky Sports aflaai, maar gaan ongelukkig ʼn debiet- of kredietkaart gekoppel aan ʼn adres in die Verenigde Koninkryk nodig hê.

Showmax PRO is teen R449,00 beskikbaar en bied ʼn verskeidenheid van sportgebeurtenisse. Hiér is daar nie aangewese SuperSport-kanale nie, elke wedstryd en geleentheid word individueel uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek is al jare ‘n Afriforum lid en hierdie is die eerste keer wat ek van AfriforumTV hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.