Kuier regstreeks saam met bekendes op ‘chatNOU!’

Stephan van Huyssteen, Carla MacKenzie, Willem Botha en  Ansu Visser (Foto: Verskaf)

Stephan van Huyssteen, Carla MacKenzie, Willem Botha en Ansu Visser (Foto: Verskaf)

Die splinternuwe Afrikaanse televisiereeks op kykNET, chatNOU!, is ʼn regstreekse versoek-, musiek en leefstylprogram waarin kykers en aanbieders direk met mekaar geselsies kan aanknoop.

Suzaan Keyter, kykNET mediabestuurder, sê dié reeks bied ʼn gulde geleentheid aan kykers om in te skakel en hul gunstelingvideo aan iemand op te dra, om hul spesiale boodskappe op die skerm te vertoon en selfs onderhoude met die bekende gaste te voer.

“In die 21ste eeu besluit jy wat jy waar en hoe wil sien en hoor. Dis wat digitale burgerskap beteken. Hoekom dan nie ook vanwaar jy ookal is saamgesels tydens dié nuwe regstreekse program nie?” het sy gesê.

Die program word van Maandag tot Vrydag tussen 16:00 tot 18:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) gebeeldsaai.

Die vier aanbieders van chatNOU! is die voormalige NRG-sanger, Stephan van Huyssteen, beter bekend as “Stephantasties”, die blogger-aktrise Ansu Visser, Jacaranda FM-omroeper, Carla MacKenzie en die sanger-akteur, Willem Botha.

In die geselskap van dié aanbieders bied die program ’n platform vir kykers om hul menings oor onderwerpe oor sosiale media met die aanbieders en kykers te deel.

Onder die leefstylonderwerpe wat gereeld aangeraak sal word, tel flieks, musiek, mode, kos, rekenaarspeletjies, tegnologie, vermaak, teater, ontwerp, boeke, reis, doen-dit-self en sosiale media.

Plaaslike en internasionale musiekvideo’s sal in die loop van die program gespeel word. Bekendes uit die mediabedryf sal oor sosiale media met die kykers praat, vrae beantwoord en aanhangers besig hou met staaltjies en hul menings oor die temas wat bespreek word.

Vir meer inligting oor die program, besoek kykNET se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.