‘Kwarantyn’ se Le Roux-familie: ‘Dit het nog nie ingesink nie’

Die Le Roux-familie het die eerste seisoen van ‘Kwarantyn’ gewen.

“Oorstelp, uitgeput en geskok.”

Só beskryf die Le Roux-familie hoe hulle voel nadat hulle Woensdagaand tydens die eindepisode van kykNET se werklikheidsprogram Kwarantyn as die wenners van die eerste seisoen aangewys is.

Pa Braam, seun Manie, dogter Lisa, haar verloofde Adriaan en neef Heinrich was oorstelp toe Die Opsigter, Ferdinand Rabie, aangekondig het dat hulle met die kontantprys van R250 000 wegstap.

“Ons het vanoggend eers 05:00 in die bed geklim ná al die opwinding van die aankondiging. Ons is verskriklik opgewonde, hoewel ek dink dit het eintlik nog nie heeltemal ingesink nie,” sê pa Braam, wat die familie op sy eie moes lei nadat ma Jana (49) die huis verlaat het.

Lisa (25) sê dit is ʼn gevoel wat sy nie kan beskryf nie. “Jou kop is eintlik heeltemal leeg. Daar gebeur niks daar binne nie. Jy sien swart en sterre – dit was net ʼn crazy gevoel.”

Sy en Adriaan Briel (26) het van die begin af geen geheim daarvan gemaak dat hulle ʼn gedeelte van die prysgeld vir ʼn bruilof wil opsysit nie.

Braam (50) sê hy gaan self “ʼn paar gaatjies toestop” met die prysgeld en ook vir sy seun se kursusse betaal.

Hy lag wanneer hy sê die lekkerste deel daarvan om die Kwarantyn-huis te verlaat, was om sy mikrofoon af te haal. “En om nie meer vir die kameras weg te kruip nie. Ons kon nie regtig nie, al het ons probeer.”

Lisa beaam dit. “Toe ons by ons eie huis instap en die alarmliggies sien, het ons skoon geskrik, want dit lyk presies soos ʼn kamera. Dit is soms ʼn uitdaging om onophoudelik deur kameras dopgehou te word, maar jy raak dit later gewoond.”

Die kameras het Manie (19) en Heinrich Olwage (26) egter glad nie gepla nie en hulle het ook die uitdagings binne die huis baie geniet.

Jana le Roux en haar dogter, Lisa. (Foto: Instagram)

“Die kunsuitdagings was beslis die moeilikste, want ons is nie regtig ʼn vreeslik kunstige gesin nie. Ek dink tog ons het ten spyte daarvan ons bes gedoen. Die speletjiesaande en die tye wanneer ons saam met die Scheepers-familie buite om die vuur by die gazebo gekuier het, was ook vir my ʼn persoonlike hoogtepunt,” sê Manie.

Volgens Braam het hy die minste van die sanguitdagings gehou. “Dit was vir ons moeilik omdat Austin [van die Scheepers-familie] so ongelooflik mooi sing.”

Hy voeg by dat hulle nie besef het hoe droewig die lewe aan die buitekant werklik is nie. “Dis vir ons hartseer dat dinge soveel slegter lyk in die buitewêreld as toe ons in die huis gegaan het,” sê hy.

En as hulle weer die hele proses moes meemaak? “Beslis, sonder twyfel!” is hulle dit eens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Baie geluk Le Roux’s.
Julle het verdien om te wen.
Vir my was julle die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.