‘Kwêla’ op soek na 2019 se dorp van die jaar

Het jou dorp se mense die lekkerste gebak? Is dit die een dorp in die land waar jy altyd sal tuis voel as jy in die strate afry? Hoeveel skatte lê versteek in jou gemeenskap? Is julle slaghuis die besbewaarde geheim in die land?

Dit is weer tyd vir Kwêla se gewilde “Dorp van die Jaar”-kompetisie. Benoem nou jou gunsteling-dorp en staan ʼn kans om met die dorp en die mense daar te spog.

Verlede jaar is Jeffreysbaai as die agtste wenner in die Kwêla “Dorp van die Jaar”-kompetisie aangewys, terwyl Mosselbaai in 2017 met die louere weggestap het. Mariental, Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg het ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra.

Dorpe kan van nou tot 15 Februarie om 12:00 benoem word.

Stuur net die naam van die dorp wat jy wil benoem per SMS gestuur na 33157 (ʼn SMS kos R1,50). Daar is geen beperkings op die aantal SMS’e wat gestuur kan word nie.

Wie kwalifiseer?

Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit:

  • minder as 500 000 inwoners het
  • nie ʼn streekswenner in die laaste twee jaar was nie
  • nie ʼn wenner van die kompetisie in die vorige ses jaar (2013-2018) was nie.

Streeksuitdunne waartydens die publiek weer kan stem vir wie hul streek moet verteenwoordig, word op 3, 10 en 17 Maart op Kwêla uitgesaai.

Die insetsel met die uitsending van die eerste finalis word op 31 Maart op Kwêla uitgesaai en nadat al die finaliste ʼn beurt gekry het, sal kykers in Mei kan stem vir die wenner. Die wendorp sal in Junie aangekondig word.

Soos elke jaar sal die wendorp ʼn heerlike makietie wen, asook ʼn 45-sekonde advertensie oor die dorp, wat deur Homebrew Films vervaardig word. Dié advertensie sal R1 miljoen se lugtyd op kykNET kry.

Kwêla word Sondae 18:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LV ·

Ek was so 2 weke gelede op Fouriesburg,een van die vorige wenners,wat n absolute teleurstelling,Daar gaan nie veel aan nie,en die diens by een van die eetplekke was so pateties dat ons na n ruk geloop het,sonder om enige kelner te sien.

Gys ·

Enige Karoodorp kwalifiseer. Daai deel van die land is motorfiets paradys.

Johanna Botha ·

Slaggate oral met straatligte wat 24/7 brand en dit is as hulle werk ….bossies oral op middelmannetjies en sypaaitjies , verkeerstekens wat omgery is en netso gelaat word en n revier wat stink …ummm so dit kannie Centurion wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.