Kyk: Beeldskone foto’s op stel van ‘Nêrens, Noord-Kaap’

Frank Opperman in ‘Nêrens, Noord-Kaap’. (Foto: kykNET)

In Nêrens, Noord-Kaap vind drie vervreemde broers die kronkelpad terug na hulle ouers se plaas, Nêrens, waar geheime, hartseer en die waarheid oor hulle ma se dood in die pad van verlossing staan.

Dié reeks van 13 episodes begin einde van die maand op die kassie draai en is ʼn verwerking van Nico Scheepers se gelyknamige teaterstuk, wat sedert 2017 uitverkoopte teaterlokale gehad het.

Die stuk is as beste nasionale debuut op die Vrystaat-kunstefees bekroon en het in 2018 die kykNET Fiësta-toekenning vir beste ensemblewerk ingeoes.

In die reeks, wat op 31 Augustus begin uitsaai, vertolk Frank Opperman die rol van Lourens Adendorff, die boer en patriarg van hierdie dorre koninkryk en kom skaars uit die huis uit. Die gordyne van sy sandsteenkasteel is altyd toegetrek.

Sy Nederlandse vrou, Katja, vertolk deur Tinarie van Wyk Loots, is reeds 20 jaar oorlede en sy drie seuns het hom almal verlaat.

Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse in ‘Nêrens, Noord-Kaap’. (Foto: kykNET)

Frans (Geon Nel), die oudste seun, bestuur nog die plaas, maar praat skaars ’n woord met sy pa. Ronnie (Albert Pretorius), die middelkind, is van sy vrou geskei en sit in Kaapstad en probeer sy seuntjie oor ’n afstand grootmaak. Andries (De Klerk Oelofse), die jongste, is die appel van sy pa se oog, maar het hulle almal verwerp en is al jare lank oorsee.

Nico Scheepers (Die Maan Val Bewusteloos, Posbus 1), skrywer van die teaterstuk, het die teks vir televisie aangepas. Saartjie Botha het as teksredigeerder bygestaan en saam het hulle die teaterstuk in ʼn 13-episode-familiedrama omskep.

Scheepers en Johan Cronjé (Wonderlus, Meisies wat Fluit, The day we didn’t meet) behartig die regie van die reeks.

Dean Balie, wat vroeër vanjaar ʼn kykNET Fiësta Sinjatuur-toekenning ontvang het as opkomende kunstenaar, vertolk die rol van Jan-Jan, die voorman op die plaas. Ilse Klink (Stroomop, Skemerdans, Arendsvlei) vertolk die rol van Maggie, wat ʼn integrale rol in die grootmaak van die drie Adendorff-seuns speel.

De Klerk Oelofse in ‘Nêrens Noord-Kaap. (Foto: kykNET)

Marion Holm, Gideon Lombard, Ludwig Binge, Patricia Baadjies en Melissa Willering maak ook deel uit van die rolverdeling.

ʼn Paar nuwe gesigte, onder meer die van Johannes Jordaan, Lehan Swanepoel en Thommi Swanepoel, wat die jonger weergawes van Andries, Ronnie en Frans vertolk, maak hulle debuut in die reeks.

Arnold Swart maak ook sy televisiedebuut as Lourens, Ronnie se seun uit sy verbrokkelde huwelik.

Nêrens, Noord-Kaap word vervaardig deur Nagvlug Films en word vanaf Dinsdag 31 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.