Kyk: Pittige kleinding oor ‘oom Cyril’ se werk

Klein Mila Smit (8) van Mosselbaai het kykers van ‘Kyk wie praat’ laat skater met ‘n pittige antwoord oor die president. (Foto: Skermgreep)

Die nuwe vermaakprogram Kyk wie praat met die akteur De Klerk Oelofse as aanbieder, het Donderdagaand op kykNET afgeskop.

In die eerste episode moes die bekendes Emo Adams, Tracey Lange, Margit Meyer-Rödenbeck en Pierre Greeff raai wat ʼn groep kleingoed tussen die ouderdomme van ses en nege se antwoorde op sekere vrae was.

Lange het uiteindelik met die louere, en R10 000 vir ʼn liefdadigheidsorganisasie van haar keuse, weggestap.

Klein Mila Smit (8) van Mosselbaai het kykers laat skater op die vraag of sy dink dit is lekker om die president van die land te wees.

“Ja,” het sy geantwoord, maar het bygevoeg dat sy nie self Suid-Afrika se president sou wou wees nie. Sy het ook daarop gewys dat pres. Cyril Ramaphosa, oftewel “oom Cyril” soos sy na hom verwys, nou sekere keuses het wat hy moet maak.

De Klerk Oelofse is die aanbieder van ‘Kyk wie praat’.

“Dan is die drankwinkels toe en dan is dit weer oop. Hy moet nou keuses maak, want anders gaan my ma die heeltyd huil oor haar wyn,” voeg Mila dan by.

Van volgende week neem die publiek deel aan Kyk wie praat. Die vier deelnemers per program word ronde per ronde uitgeskakel tot net een oor bly. Op die spel is ʼn naweek weg indien die deelnemer genoeg punte versamel het. Daar is ook ʼn kans om R10 000 per program te wen, maar indien dié bedrag nie gewen word nie, staan dit oor tot ʼn boerpotprys wat in die 13de episode, die finale program in die reeks, gewen gaan word.

In hierdie episode neem die vier deelnemers wat die meeste punte in die vorige 12 programme ingesamel het, deel.

Kyk wie praat is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mattk ·

Ja nee, as ‘n agt jarige kan sien dat “oom Cyril” nie lekker besluite kan neem nie, moet jy weet die land het moeilikheid. Daar is mos ‘n gesegde “uit die mond van die suigeling (jongeling) hoor jy die waarheid”, dus, oom CR, jy sal moet bykom of ons maak vir Mila ons president.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.