Kykers krap kop oor ‘Waterfront’

Waterfront (Foto: kykNET)

Aanhangers van die gewilde kykNET-drama Waterfront krap behoorlik kop oor die slotepisode van dié reeks wat kykers met talle “onbeantwoorde vrae” gelaat het.

Kykers het vandeesweek in hul honderde na sosiale media gestroom om die lof van dié reeks te besing – maar ook om duidelikheid te probeer kry op hul grootste kwelvrae van die slotepisode.

“Ek het so uitgesien na die einde, maar [die laaste episode] het my regtig so verwar en met te veel onduidelikhede gelos,” het Ronel Brink, die Van Jaarsveld-sangers se ma en bestuurder, op Twitter laat hoor.

“Dit was ʼn fantastiese reeks, maar die laaste episode was soos ʼn Springbok-game. Baie los en verwarrend,” het die radio-omroeper en televisiepersoonlikheid Johrné van Huyssteen geskryf.

Talle het gesê dié reeks se slotepisode is soos ʼn legkaart wat hul nié uitgepluis kry nie. kykNET se Facebook-blad is met meer as 250 kommentare oor dié reeks oorstroom.

Rolanda Marais (Foto: kykNET)

“Kan iemand asseblief vir my sê wat die uiteinde is? Ek en my man het dit elke Dinsdagaand gevolg, maar ons het dit deurmekaar gevind en gevoel soos verkleurmannetjies in ʼn Smartie-boks. Die reeks het vanaand geëindig en steeds kon ons nie agterkom wie het die moord gepleeg het en of dit eintlik net selfmoord was nie,” het Jeanette Hoekstra op Facebook gesê.

“Ek’t nie een episode gemis nie, maar ek kan nou nog nie kop of stert uitmaak wat het regtig gebeur nie,” het Delene Burger laat hoor. “Iewers het ek seker iets gemis. Ek verstaan glad nie die einde nie! Daar is dan seker maar ʼn opvolg,” het Toya Maritz gesê.

Talle aanhangers het hulself speurder gehou om dié einde te probeer uitpluis. “Ek dink Anna se boot met al sy geld is in die container. En die moordenaar is Wouter of Albert,” het Liesl Janse van Rensburg op Facebook gesê. “Stef het [alles] vir sy pa vertel die aand wat hy gehuil het en sy pa het die presiese storie vir die polisieman vertel, maar net met hom in Stef se plek. Hy is dus nou in die tronk vir sy seun. Ben het homself ingespuit met die byegif en so selfdood gepleeg,” het Henda Peiser laat hoor.

Leon Kruger, die draaiboekskrywer van Waterfront, het Donderdag aan Maroela Media gesê verskeie lesers is in die kol met hul speurwerk. “Ná Ruan en Stefan se gesprek het dit voorgekom asof die bewyse teen Stefan té veel raak – asof hy definitief die skuldige is. Die laaste episode van die reeks het dus gehandel oor die storie wat Stefan aan Ruan vertel het. Ruan het dus besluit om sy seun se plek te vat en Stefan se storie net so aan die polisie oor te vertel, maar met hom as die skuldige,” vertel hy.

Dawid Minnaar (Foto: kykNET)

Kruger sê omdat die storie nog nie in dié stadium verder geskryf is nie, is daar sommige dele van die slotepisode wat as ʼn oop einde beskou kan word. “Die storie wat Stefan aan sy pa vertel het, kan waar óf onwaar wees. Ons kan eintlik nog nie met sekerheid sê nie. Niemand weet of die storie wat Stefan aan sy pa vertel een honderd persent die waarheid is nie. Ruan het daardie besluit gemaak nadat Anna gesê het dat sy al haar lewe lank wag dat hy moet opstaan vir sy familie. Hy glo sy daad red sy seun. Wat wel seker is oor die slotepisode, is dat Ruan sy seun se storie aan die polisie oorvertel het – maar die moord is nog nie eintlik opgelos nie.”

kykNET het Donderdag aan Maroela Media gesê ʼn tweede aflewering van dié reeks kan nog nie in dié stadium bevestig word nie. Kruger het gesê nuwe storielyne, veral oor die onopgelosde moord, broei reeds in sy gedagtes en sal wel neergepen word indien die kanaal goedkeuring vir ʼn tweede reeks gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Raai Raai ·

Hoe kan so n goeie storie wat ons vasgenaal laat sit voor die kassie so eindig sonder n opvolg wat reeds geskryf is. Hoe kan net die helfte uitgesaai word maak eerder die storie klaar en saai die hele ding uit met die eerste slag, anders verloor n mens die draad v d storie

TvG ·

Meeste, meeste opvolg word eers geskryf na die seisoen eindig (om te sien hoe die kykers dit vind en belangrikste van als is die kykertal, en sponsors ens) Dis hoe How To Get Away With Murder, Stalker, Murder in the First en en en alles werk. Kykers moet bly wees hul het n local storie wat so aangrypend is gekry.

Ron ·

Ek hoop daar is n tweede reeks. Dit was briljant. Kyknet wys regtig kwaliteit stories en ons kan baie trots wees op ons goeie skrywers en fantastiese akteurs. Sal graag weer n nuwe reeks van Boland moorde wil sien. Die lekkerste lekker!

Anne-Marie Wagener ·

Uitstekende reeks. Ons kort meer reekse soos dié. Van die ander Afrikaanse reekse op Kyknet is werklik ‘n verleentheid vir Afrikaans. Hoop daar is ‘n opvolg.

Leeu ·

100% daai Wors en Ouboet…verskriklik swak, om van naar te word.

Alna ·

Pa sit vir seun in tronk. Seun het Oupa vermoor deur pille om te ruil as jy na die sakkie pille kyk wat beide seun en pa hanteer het…..ek vermoed so. Uitstekende program. Well done!

Nienie ·

Ek is baie teleurgesteld dat so goeie drama, so sleg geeindig het. A nee a!

Pytes ·

@Nienie, dis n briljante einde vir n drama reeks. Hoekom dink jy eindig enige drama op n clifhanger?? Om die kykers terug te lok en te hou, so eenvoudig soos dit.

Annalize ·

Ek hoop daar is beslis n tweede reeks. N uitstekende program gewees….

Kirsten ·

Ek is onsettend teleurgesteld in die einde, Hoekom sou Julia en haar Wouter die “spraypaint” hê? Wat is die doel daarvoor en hoe baat hulle? Stefan was lief vir sy oupa, hy sou hom nie doodmaak nie. Sy pa het hom definitief nie doodgemaak nie. Stefan het alles geweet van sy oupa maar was nie betrokke met Anna se ontwerp? Hoekom sou Ben die Waterfront eiendom bankrot laat en op ander plek bou? Hello, hy kon die plek op die mark gesit het in plaas om alles in vreemde plekke te belê. Nee kyk, ek het regtig meer verwag nadat ek 13 weke probeer by bly het met niks wat sin maak nie en nou weet ons nie eers of daar ‘n opvolg gaan wees. Die hele storie is deurmekaar. Maak geen sin nie. Jammer, maar uiters teleurgesteld. Kry Deon Meyer se hulp in met die skryf van hierdie reeks.

Adri ·

Reeks baie geniet maar erg geïrriteerd met almal se halwe sinne. Was nie eers mooi seker of dit dan nou die slot episode was nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.