kykNET hou partytjie en jy is genooi

Op 15 November word daar groot makietie gehou vir kykNET se 20ste verjaardag. Dit gaan ’n geleentheid wees met asembenemende optredes, kleurvolle en komiese hoogtepunte, asook ’n terugblik na waar dit alles begin het. Dus, ’n aand vol verrassings, hoogtepunte en die room van die vermaakwêreld op een verhoog – van toeka tot nou – van Coenie de Villiers tot Early B.

En die beste van alles: kykers is genooi! Hierdie jollifikasie word op 15 November om 20:00 regstreeks op kykNET uitgesaai om kykers deel te maak van die viering van ’n kanaal wat juis so ’n suksesverhaal is danksy volgehoue ondersteuning van al die kykers.

Wat kan jy verwag? Wel, alles en almal – ons praat hier van 60 van kykNET se bekendste persoonlikhede! Van die aanbieders is Tracey Lange, Henré Pretorius, Hannes van Wyk, Elana Afrika-Bredenkamp, Janina Oberholzer, Leah en Kim Cloete.

Ook op die program is Emo Adams, Nadia Beukes, Willem Botha, Rian van Heerden en Terence Bridgett wat ’n liedjie gaan sing oor kykNET se programme en aanbieders oor die jare.

Die klawers gaan behoorlik sing met Pedro Kruger, Rocco de Villiers, Coenie de Villiers en Clint Brink wat hulle staal gaan wys. ’n Paar kykNET-gesigte gaan sorg vir die komedie en ’n reeks bekendes gaan meer as net ’n paar interessante danspassies ten toon stel.

Daar is ’n Boer soek ’n vrou-verrassing en Hannon kom bespreek saam met Cindy Swanepoel en Bennie Fourie die filmbedryf. Die wenners van die eertydse Zing!-kompetisie, die sangpaar Johnny Davids en Vivian Molauly, tree vir die eerste keer in ’n lang tyd weer saam op.

Sandra Prinsloo en Amanda Strydom gaan verdere glans aan die aand bring en ons finaal wys – Afrikaners ís plesierig. Kortweg, ’n geleentheid wat nie misgeloop moet word nie. So, skuif reg op 15 November en klink ’n glasie op kykNET se spesiale mylpaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Thea Bothma ·

Waar is Steve Hofmeyr, hy het een van die langst lopende programme aangebied
Dis hoe dit is , Moet alles van ons ontneem word, hy het n groot bydrae gemaak in die sukses van Kyknet gedoen. Karen Meiring kry bietjie murg in jou pyppe.
Steve bo!!!!!!!!

EO ·

Thea Bothma, DALK gaan Steve daar wees. Mens weet nooit??? Onthou AL die name en inligting kan nie hier genoem word hier nie. Daar is te veel om op te noem. Ek is ook mal oor Steve!! Wie weet………………..???

John ·

KykNet gaan sy swanesang sing en dans… boring-vervelig en te duur vir plesier. Baai!

EO ·

Ai ou John, GELUKKIG is jy nie veplig om te kyk nie. Klink my jy is net so boring!!!! Hou verby ou maat.

Agter die skerms ·

Hierdie besonderse program moet ek kyk want Kyknet het my al baie besig gehou. Die flieks – Binnelanders – Boer soek ‘n vrou – Glam Guru – hene daar is net te veel om van te praat. En waar is Steve is die regte vraag ook. Maar ek sien uit na dit Vrydagaand. Ek kan ook net dink hoe opgewonde die mense op die verhoog ook gaan wees. ‘n Aand om te onthou .

EO ·

“Agter die skerms”, ek dink dit gaan beslis ‘n unieke program wees. Ek is mal oor KykNet.
Ek kyk BAIE programme op KykNet en geniet elke oomblik daarvan. Kan nie wag vir Vrydagaand nie!!!!!

Jax ·

O my liewe land! Soveel te “geniet” – nee wat dankie. Ek het beter dinge om te doen. Net hier en daar miskien een of twee wat gaanbaar is – die res – ugh!

EO ·

Jax, Jy gaan seker net met een oog loer na die program terwyl jy “ander beter dinge” het om te doen.

AndrewL ·

Kyknet, is dit die multichoice kanaal wat soos rugby, net vir die volle aanbieding beskikbaar is oor te veel Afrikaans?

Neef ·

Net so. Nee wat dankie, my geld gaan ook nou nie meer vir ‘n maatskappy waar my mense en hulle opinie nie welkom is nie.

SjN ·

Dankie vir die uitnodiging maar sal dit ongelukkig nie kan bywoon nie, n sekere sanger wat gaan optree gee my erge sooibrand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.