kykNET ‘klik’ oor nuwe pretprogram vir alle kinders

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Klikkerland, ʼn splinternuwe televisiereeks wat fokus op gehalte, pret en opvoedkundige vermaak, is te sien op kykNET-kanaal 146 van Maandag tot Vrydag om 08:00.

Klikkerland se kleurvolle karakters is so ontwikkel sodat daar ʼn persoonlikheidstipe vir elke kind is. Selfs die name van die karakters is gekies om te help om kindertongetjies te oefen om moeilike Afrikaanse klanke uit te spreek! Kinders wie se huistaal nie Afrikaans is nie sal ook baat vind by Klikkerland.

Klikkerland is in 2012 begin deur ʼn groep talentvolle kunstenaars met ʼn passie vir kindervermaak en ʼn liefde vir teater. Klikkerland se optredes by KKNK 2014, 2015, 2016 is ook met groot sukses ontvang.

“Ons wou altyd seker wees dat die produk geskik is vir die ouderdom kind wat ons wou bereik, en het baie moeite gedoen om alle aspekte van die produk by kinders te toets,” het die vervaardigers van dié kinderprogram in ‘n verklaring gesê.

Die Klikkerhuis is die perfekte agtergrond vir die wonder en avontuur wat die Klikkerland-karakters beleef in die Klikkerland-episodes!

“Ons is baie lief vir ons stel en trots om die Oakhurst Insurance George Arts Theatre die huis van Klikkerland te noem.”

Die verfilming van die DVD-reeks het goed afgeskop met die eerste DVD in die reeks waarin die Klikkerlanders leer van troeteldiere en hoe om hul vrese te hanteer. Volume 2 het vinnig gevolg met ʼn reis na ʼn melkplaas om te gaan kyk waar melk vandaan kom en daar word ook geleer hoe belangrik oefening is. Volume 3 in die reeks stel die maats voor aan nuwe Klikkerland-karakters en die groep besoek ʼn volstruisplaas en die see.

Hierdie drie DVD’s is in episodes ingedeel en tans te sien op kykNET-kanaal 146. Die reeks word ook versprei deur WOW Music Distribution by verskeie musiekwinkels landwyd. Die volledige episodes is digitaal beskikbaar op die Klikkerland-webwerf.

“Noudat die wiel aan die rol is, gaan daar baie deure oop, en ons is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou.”

Kontak die Klikkerlanders gerus per e-pos by [email protected] of gaan kuier op hul webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tish ·

goed en wel maar wie is tuis in die week 08h00 – kinders by skool en kleuterskole. dus sal daar niemand wees in daardie tydgleuf om te kyk nie

Carina Beukes ·

Ja 8h00 is baie vroeg ! Maar u kan Klikkerland DVD’s by uitgesoekte winkels koop of digitaal op ons webtuiste klikkerland.co.za. Daar is ook lekker video’s om na te kyk op ons Klikkerland YouTube kanaal Klikkerland. Ons is ook op Facebook en sal hopelik gou in u area kom kuier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.