kykNET-kykers kan hierna uitsien

Die Boekklub (Foto: YouTube-skermskoot)

kykNET het pas sy jongste inhoud en hoogtepunte vir Julie bekend gemaak en beloof om jou kykgenot te gee tot aan die einde van die jaar.

Kykers kan vanaf dié maand uitsien na selfs meer komedie en intrige met nuwe gesigte soos Elana Afrika-Bredenkamp, Leandie du Randt-Bosch, Franci Swanepoel, Marissa Drummond en Lynelle Kenned.

Die uiters gewilde Boekklub 2 keer terug na die kassie, en ʼn nuwe seisoen vir Sara se geheim is ook vandeesweek aangekondig.

Hier is die hoogtepunte:

Elke skewe pot

Begin: 10 Julie (Maandae om 20:00)
Sandra Koekemoer is die 45-jarige eienaar van ʼn afspraakwebwerf genaamd “Elke skewe pot”. Van kleins af het sy die gawe om die perfekte pasmaats bymekaar te bring, en sy het reeds vir baie paartjies die sprokie van “vir ewig en altyd” ʼn werklikheid gemaak. Uiteindelik werk vier vroue in verskillende lewensfases vir dié aanlyn diens waar ware liefde hulle bly ontwyk. Met Franci Swanepoel, Marissa Drummond, Carien Botha en Carine Rous.

Die Boekklub 2
Begin: 11 Julie (Dinsdae om 20:00)

Tom en die Boekklub-lede beleef saam avonture en die karakters kruip opnuut in kykers se harte. Gaan Tom in Merweville bly? Kom Lily terug? Net tyd sal jou vrae beantwoord.

Parlement, Parlement
Begin: 10 Julie (Maandae om 20:30)

Dié program is ʼn skreeusnaakse paneelprogram waar komediante die parlement oorneem om oor die sake wat Jan Alleman die diepste raak, te debatteer. Dit word ʼn plek waar ons saam met ons politici kan lag. Elana Afrika-Bredenkamp is Madam Speaker en Louw Venter en Joey Rasdien is die opposisie.

Groen Namibië
Begin: 12 Julie (Woensdae om 20:30)

In die jongste seisoen sien ons hoe dinge werk by rehabilitasiesentrums vir diere en wat dit verg om ʼn wilde dier te rehabiliteer en vry te laat in die natuur.

Jý Geld
Begin: 9 Julie (Sondae om 18:00)

Laat net die blote gedagte aan finansiële beplanning jou in koue sweet uitslaan? Ontspan! In dié splinternuwe reeks, met aanbieder Lynelle Kenned, spreek sy al daardie klein jakkalsies aan. Die reeks praat onder meer oor hoe jy moet beplan vir jou troue, huiskoop, kinders en aftrede.

Hond se gedagtes
Begin: 4 Julie (Dinsdae om 17:30)

As jy wil uitvind hoekom honde die mens se beste vriend geword het en waarom dit waarskynlik nog lank so sal bly, sal dié reeks al jou vrae beantwoord. Die reeks kyk ook na die geskiedenis en argeologie van die hond. Met aanbieder Lizma van Zyl.

Die legendes van Afrikaanse musiek
Begin: 6 Julie (Donderdae om 20:00)

Die dokumentêre reeks vertel die stories van musieklegendes soos Gé Korsten, Rina Hugo, Johan van Rensburg, Boet Pretorius en Lucas Maree.

Wild en wragtig
Begin: 10 Julie (Maandae om 21:30)

In elke episode word die kyker op ʼn jagtog geneem, van kleiner tot gevaarlike wild- en voëljag. Daar word nie net gekyk watter kaliber of boog geskik is vir ʼn bepaalde spesie in spesifieke omstandighede nie, maar die jagter se ervaring in die natuur word ook gedeel.

Slank 2
Begin: 9 Julie (Sondae om 18:30)

ʼn Dokumentêre leefstylreeks wat daarop gemik is om die deelnemers, wat reeds elke dieet en gesondheidsdrankie op die rak probeer het, te help en te motiveer om gewig te verloor. Leandie du Randt-Bosch is die aanbieder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.