kykNET, MultiChoice wen groot by Saftas

Clint Brink van Binnelanders. (Foto: Verskaf)

MultiChoice het Saterdagaand op die 15de Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekennings (Saftas) altesaam 47 toekennings ingeoes.

Die stories wat deur Suid-Afrikaanse talent vertel word op die DStv-kanale Mzansi Magic, 1Magic, kykNET en M-Net, sowel as die stromingsdiens Showmax, het verseker dat MultiChoice ʼn groot hoeveelheid toekennings in verskeie kategorieë ingeoes het.

kykNET het ook ʼn goeie aand gehad: Clint Brink het ʼn Safta-toekenning gewen vir beste akteur in ʼn sepie vir sy rol as Steve Abrahams in Binnelanders.

Gerrit Schoonhoven, wat einde 2020 oorlede is, was deel van die regiespan wat die Safta-toekenning vir Beste regie in ʼn TV-sepie (Binnelanders) ontvang het. Die reeks is tans in sy vyftiende seisoen.

James Borthwick is vir die tweede keer aangewys as beste akteur in televisiekomedie vir sy rol as Ferdie in die Hotel. Martelize Kolver het ook ʼn Safta-toekenning vir beste ondersteunende aktrise in ʼn komedie vir haar rol as Brenda in Hotel ontvang.

June van Merch het haar eerste Safta gewen vir beste ondersteunende aktrise in ʼn televisiedrama vir haar rol as Sara in Sara se Geheim.

Ander Safta-toekennings vir kykNET sluit in:

  • Best speelfilm: Griekwastad
  • Beste prestasie in redigering – speelfilm: Griekwastad
  • Beste prestasie in regie – TV-sepie: Binnelanders
  • Beste TV-program in ’n internasionale formaat: Hoor My, Sien My, Soen My
  • Beste verskeidenheidsprogram: Republiek van Zoid Afrika
  • Beste prestasie in regie – TV-drama: Tydelik Terminaal

Mzansi Magic se Gomora stap weg met die toekenning vir die gewildste TV-sepie/Telenovela soos gestem deur die publiek.

M-Net se Legacy het die prys vir beste telenovela ingeoes, terwyl Showmanx se Life With Kelly Khumalo gewen het vir beste gestruktureerde werklikheids-TV-sepie.

Showmax se How To Steal A Country het gewen vir beste dokumentêre rolprent terwyl SuperSport se Chasing the Sun die toekenning vir beste televisiedokumentêr ingeoes het.

Ongeveer 4 000 ure se plaaslike inhoud is verlede jaar in ʼn groot verskeidenheid van tale en lande deur MultiChoice geskep.

“Hierdie toekenningsgeleentheid word opgedra aan die talent en produksiespanne wat voortdurend uitblink, ten spyte van die ongelooflike druk waaronder die bedryf die afgelope jaar as gevolg van die invloed van die pandemie was,” het Yolisa Phahle MultiChoice se uitvoerende groepshoof van algemene vermaak en video-inhoud gesê.“Dankie aan die harte en kreatiewe breine wat bydra tot die bedryf se groei en die samelewing oor die algemeen.”

Klik hier vir ʼn volledige lys van wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.