kykNET-program kyk uit ‘n ander hoek na boere

Foto: Verskaf

Hardwerkend en innoverend, maar ook stylvol en skeppend. In voeling met hul wêreld en ingestel op ’n moderne bestaan – dis Suid-Afrika se boere.

In ’n nuwe leefstylreeks Ons Boere, Ons Inspirasie wil kykNET ’n vars blik gee op die moderne Suid-Afrikaanse boer. kykNet gaan oor 13 episodes besoek aflê by ʼn dinamiese en diverse groep mense om te wys dat tussen stof en wingerde, boorde en hooibale lê ’n wêreld van vasbyt, styl en passie.

Elke episode sal by ʼn ander boer in die land aanklop. Die eerste episode wat Donderdagaand om 21:00 uitgesaai word, fokus op die Cilliers-familie se boerdery in Douglas, in die Noord-Kaap.

Die familie boer met aartappels, gars, koring, hawer, mielies en uie, pekanneute en lusern. Die 43-jarige HF Cilliers, een van vyf kinders, en die naasoudste tussen drie broers en een suster, bestuur die plaas.

Foto: Meerfout Films

“Die Cilliers-familie, en al die boere in die reeks, is uiteraard wonderlike, inspirerende mense. Hulle is net so lief vir die gemeenskap as wat hulle vir hul familie is en ondersteun die gemeenskap op ʼn stil manier,” vertel Eloïse Pretorius, Ons Boere, Ons Inspirasie se mede-aanbieder, aan Maroela Media.

“Dis nogal asemrowend wat die familie daar regkry, veral in die droogte. Etlike jare terug het mense vir HF gesê dat hy nooit met besproeiing in Douglas sal kan boer nie, maar hy het besluit dit is nie ʼn verskoning nie en steeds aanhou boer. Hy het aan ʼn baie innoverende manier gedink om wel te besproei en mense gaan in dié episode sien watter innovasie en genie na vore gekom het,” sê Pretorius.

Is die idee van die program om hoop te skep? “Ja, ja en absoluut ja,” sê sy. “Ons is geweldig opgewonde dat mense kan deel in hierdie kykie in ons boere se lewe. Die wonderlike ding van die program is juis dat dit ʼn nuwe lig op boere werp en ʼn groter blik sal gee van wat ʼn boer nou eintlik is.

“Daar is soveel uiteenlopende beskouings van boere, maar ek sien hulle as dapper. Dit is mense wat vir baie kans sien. Ons was by boere aan huis waar dit agt jaar laas gereën het. As ek ʼn boer was, sou ek nie die moed en hart gehad het om aan te gaan nie. Die boere het self gesê hulle weet nie hoe hulle dit regkry tussen al die uitdagings nie, maar tog beur hulle voort.

“Dis omdat die boere standvastigheid op ʼn ander vlak ervaar, deur ʼn naby-verhouding met die aarde,” sê sy.

Foto: Meerfout Films

Pretorius sê die program wil ook jongmense se oë vir die landboubedryf oopmaak en wys daar is ʼn toekoms in dié sektor. “Landbou is vir almal en daar is legio geleenthede in die bedryf. Jy hoef nie eens te boer nie, maar kan die innoveerder van nuwe tegnologie wees wat die boere kan aanhelp.”

Sy sê die program is die kyk werd, want selfs al stel mense nie in die storielyn belang nie, stel die regisseurs Janhendrik en Berdine Burger die pragtige land waarin ons woon ten toon en gee dit kykers die kans om die land te beleef. “Die program is so kunstig aanmekaar gesit.”

Die program word aangebied in samewerking met die SARIE-tydskrif, GWK, McDonald’s en John Deere. Pretorius gaan die program saam met Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur aanbied.

“Hierdie projek is ’n samekoms van harte wat vir Suid-Afrika se boere klop. Dis die mense wat kos op ons tafels sit en ons ook inspireer,” sê Loren Greyling, kykNET se toesigvervaardiger van die reeks.

“Dis ook volronde mense wat nie nét in plaasklere kan woeker nie, maar ook ’n balrok of aandpak kan aantrek na die opera, ’n duikpak om branders te ry of ’n paar tekkies om ’n avontuur aan te pak.”

Volgens Michélle van Breda, SARIE se redakteur, staan SARIE vir inspirasie en min dinge is so inspirerend soos ons land se boere en hul unieke stories.

“Hierdie is mans en vroue wat na aan die grond leef en werk met elke seisoen se goedheid en guns. Wat kos op ons tafel sit en omgee, skep en weer probeer. Wat verlies ervaar en vreugde vier. En hoop, bly glo.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Netekke ·

Net jammer niemand kan meer KykNet bekostig nie. Dink al lankal KykNet moes sy eie potjie begin krap op ‘n manier. Weg van DSTV. Sêmaarnet.

Johanna Botha ·

Baie en meee geleenthede vir boere soos mense die bedryf verlaat omdat dit so gevaarlik nie

Johanna Botha ·

Baie en meer geleenthede vir boere soos mense die bedryf verlaat omdat dit so gevaarlik is !

Gam ·

Douglas het baie water. Baie mense wat baie lank daar besproei.

Jiem ·

Wat beteken “dis ook volronde mense”? Vir my n vreemde uitdrukking. Ek weet ek klink seker nou baie dom , maar ek is bloot nuuskierig.

Terloops ·

Geluk kykNet. Ek sien uit daarna. Julle het hier ‘n nis-onderwerp raakgeboor wat inderdaad inspirerend gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.