Laaste dae van Federer se tennisloopbaan in dokkie bekyk

Roger Federer. (Foto: Ben STANSALL/AFP)

Prime Video slaan nóg ʼn kishou met ʼn dokumentêre rolprent oor Roger Federer wat dié stromingsplatform eersdaags gaan tref.

Federer: Twelve Final Days bekyk die laaste 12 dae van die 42-jarige tennisster se loopbaan en gee kykers ʼn blik van sy emosies en binnewêreld gedurende hierdie tydperk in sy lewe.

Ná meer as 20 jaar in die tenniswêreld, duisende wedstryde en 20 Grand Slam-titels agter sy naam, het Roger in September 2022 sy uittrede aangekondig.

Tussen 2005 en 2010 het hy in 18 van die 19 Grand Slam-eindstryde gespeel. Terselfdertyd het hy die Amerikaanse Ope vyf keer agtereenvolgend – tussen 2004 en 2008 – gewen.

Hy het al ʼn magdom tennisbekers omhoog gehou en is ook die sportster met die meeste Laureus-titels agter sy naam. Hy is vyf keer as die sportman van die jaar by dié sporttoekenningsgeleentheid vereer.

Hy was 22 jaar oud toe hy die eerste keer as die wêreld se voorste speler aangewys is, en in 2018 het hy die oudste speler geword om die septer op die ATP-ranglys te swaai.

Hy was toe 36 jaar oud gewees.

Hy het ses Australiese Opes, een Franse Ope, agt Wimbledon-toernooie en vyf Amerikaanse Opes gewen.

Die bekroonde regisseurs Asif Kapadia en Joe Sabia het die regie van die fliek behartig. Die fliek is geskep uit tuisbeeldmateriaal wat eintlik nie vir die publiek bedoel was nie.

Kyk hier na die lokprent van die dokumentêre rolprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.