Lag te lekker vroegoggend saam met Die Koekemoers

Die Koekemoers

Foto: Verskaf

Die Koekemoers, ʼn splinternuwe minireeks van die ATKV, van môre te sien op Die GROOT Ontbyt van kykNET, sal gesinne binne drie minute laat skater van die lag voordat hulle die pad werk toe aandurf.

Volgens die ATKV sal gesinne se vakansiekaskenades, -skandes en -ballades tong-in-die-kies en skreeusnaaks uitgebeeld word en kykers sal hulle kan vereenselwig met vele hiervan.

“Ons wil graag inhoud vir Afrikaanse kykers en ons vakansiegangers bied wat hul aandag vestig op tipiese vakansieganger-gebeurtenisse wat die meeste van ons dalk al ervaar het,” verduidelik Reinard du Plessis, hoofbestuurder van bemarking en kommunikasie by ATKV-Sake. “Sommige van die tonele is effe gedramatiseer, maar die ‘tong-in-die-kies-ondertoon’ sal beslis sorg vir ʼn bietjie gesonde vroegoggend-humor. Dink maar aan die destydse kortverhale soggens net voordat almal werk toe is, soos Het Jou Katvis!.”

Al is Die Koekemoers aanmekaar gesit om kykers te vermaak en te laat lag, was hierdie produksie glo geen grap nie. Du Plessis voeg by fyn beplanning het gesorg vir ʼn sterk storielyn. Elke episode is slegs drie minute lank en die uitsending strek oor 12 weke, wat ʼn aanduiding van die skerp en plofbare humor is.

Die hoofrol van Johan Koekemoer word deur die bekende Afrikaanse sanger, Joe F, vertolk. Die res van die huisgesin sluit in die moeder en anker van die familie, Marguerite Koekemoer (vertolk deur Lizé van der Walt), Megan “Viper” Koekemoer, die moeilike tienerdogter (Danielle Du Plessis) en Johan Junior Koekmoer (TJ Day), die apatiese seunskind wat nie kan ophou om met sy gadgets (elektroniese speelgoed) te speel nie.

Maar die reeks is nie bloot gebou om kykers slegs ʼn skoot gesonde humor te bied nie. Volgens Du Plessis is daar weekliks ook waardevolle vakansievoorstelle en wenke op die ATKV-oorde se Facebook-blad wat aansluit by daardie week se episode.

“Kykers moet ook op die uitkyk wees vir die aanloklike pryse wat op die spel is van Mei tot Augustus, as deel van die ATKV-oorde se Winterpromosies, want die doel is om deur die meelewing van elke kykergesin dit ʼn ware ATKV-vriendelike ervaring te maak,” het hy afgesluit.

Die Koekemoers word van 18 Mei af elke Woensdag om 07:00 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nickey ·

Ai, ek gaan dit moet skip want sommiges van ons is al 6uur by die werk.
Ek het na Su-An geluister op Groot FM en het baie lekker gelag.

Wiebo ·

Voor werk??? 7 uur is kopeloos te laat. Swak beplanning……………….

kyknou net ·

Lekkerman! Hoe meer Afrikaans hoe beter en LAG daarby in die oggend! MOOISO! Dankie kyknet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.