Lana Joubert terug met nog ʼn seisoen van ‘Eksieperfeksie’

Lana Joubert (Foto: Verskaf)

Diegene wat ingeteken is op MYtv en kykers van StarSat kan uitsien na ʼn nuwe seisoen van die program Eksieperfeksie waar die mooimaakspesialis Lana Joubert vroue wys hoe om ʼn vars en nuwe voorkoms te kry.

Joubert se ateljee is in Hartbeespoort geleë waar sy daagliks vroue ontvang, konsultasies doen en na gelang van elke vrou se persoonlikheid, gesigvorm, gelaat en daaglikse roetine besluit watter haarstyl en -kleur haar die beste sal pas voordat sy haar towerstaffie begin rondswaai.

“Wie hou nie daarvan om te sien hoe iemand mooi gemaak word nie? StarSat en MYtv se program Eksieperfeksie is ’n gewilde program en beloof om nie teleur te stel nie.  Die program sal kykers twee keer wil laat kyk met veranderinge wat jou asem sal wegslaan,” sê MYtv in ʼn verklaring.

Voor-en-na-foto’s van ‘n mooimaaksessie (Foto: Verskaf)

Joubert doen elke episode ʼn mooimaaksessie en haar gaste wissel van 18-jariges wat pas skool verlaat het tot ouer vroue wat reeds grys word en weer hul woema wil terugkry.

In die eerste episode van seisoen 3 gee Joubert vir die 18-jarige Megan ʼn mooimaaksessie om haar gereed te maak vir ʼn nuwe seisoen in haar lewe.

Megan is tans in matriek en gaan volgende jaar onderwys studeer. Joubert help haar om ʼn nuwe haarstyl te kry en wys haar hoe om maklik haar eie grimering te doen as ʼn jong volwassene.

“Sy lyk soos ʼn totaal ander mens met ʼn maklike haarstyl wat sy tjoef-tjaf self kan hanteer,” sê Joubert na Megan se mooimaaksessie.

Voor-en-na-foto’s van ‘n mooimaaksessie (Foto: Verskaf)

Elke week gee Joubert raad en maklik selfdoenwenke aan mense om die mooiste weergawe van hulself te wees.

Eksieperfeksie is Dinsdae om 20:00 op kanaal 460 op StarSat beskikbaar. Mense wat nie ʼn StarSat-dekodeerde besit nie, kan dit gratis op MYtv se webtuiste kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.