Lea en Trix Vivier: Kaapse susters betower die klein kassie

Trix en Lea Vivier. (Foto: Verskaf)

As dogtertjies het die susters Trix en Lea Vivier saam op al wat verhoog is en selfs in hulle ouers se sitkamer gedans en konsert gehou.

Dié twee Kaapse aktrises het dit eens dat hulle nog altyd geweet het hulle sal eendag die kunstebedryf professioneel betree. Lea is tans te sien as die aweregse prokureursklerk Lilani in die kykNET-regsdrama Fynskrif en Trix het ook ʼn draai in dié reeks gemaak as die selfversekerde Bianca.

Trix vertel sy geniet dit om die rol van die katalisator van ander karakters se groei in ʼn produksie te speel en dit is presies die rol van Bianca in Fynskrif. Bianca ontmoet vir Lara, prokureur by Van Wyk en Vennote (vertolk deur Tinarie van Wyk Loots), in seisoen een en plant die saadjie vir haar om haar eie regsfirma te begin.

In seisoen drie keer Bianca weer terug wanneer sy op Lara se knoppie druk vir regshulp nadat sy in ʼn woedebui haar kunstenaarkêrel se peperduur beeldhouwerk breek. Sy skerts dat sy, wat op haar gemaklikste in ʼn sweetpakbroek is, die geleentheid gehad het om ʼn byderwetse, noupassende leerrompie te dra vir dié rol.

“Daardie uitrusting was on fleek!” roep Lea uit, met wie Fynskrif-kykers reeds in seisoen twee kennis gemaak het en nou weer in seisoen drie te sien is. Die tweede en derde seisoene is verlede jaar aaneenlopend geskiet in Kaapstad.

“Ek het reeds van Lilani afskeid geneem en haar weggepak, maar ek was mal daaroor om haar te speel. Ek pak altyd ʼn karakter weg wanneer ek klaar is met haar,” vertel Lea.

“Lilani se twee grootste dryfvere is om haar klerkskap by Van Wyk en Vennote te voltooi en om liefde te vind. Sy is puntenerig en perfeksionisties en wanneer Thandi terugkeer, ontstaan daar ʼn heerlike kompetisie tussen dié twee.”

Trix en Lea Vivier woon die 10de Fiësta-toekennings by. (Foto: Verskaf)

Thandi se geliefde karakter word vertolk deur Crystal Donna Roberts, wat in die eerste seisoen kykers se harte gesteel het as die opgewekte klerk wat uiteindelik met die geharde prokureur Corné Hanekom, vertolk deur Beer Adriaanse, bevriend raak.

“Lilani se grootste vrees is dat Thandi in haar pad gaan staan om haar klerkskap te voltooi. Dit was heerlik om weer teenoor Crystal te speel. Ons het voorheen vir sewe weke saam op die stel van Mense Mense gewerk en het ʼn hegte werksverhouding opgebou en vriendinne geraak. Op die stel het hulle na ons begin verwys as Thandilani,” lag sy.

Trix se tonele in seisoen drie is in een dag geskiet en die susters het mekaar nie op die stel raakgeloop nie. Hulle verklap dat hulle ook nog nooit saam in ʼn produksie verskyn of teenoor mekaar gespeel het nie – ʼn groot droom wat hulle al van kindsbeen af koester.

“Ons tree al saam op vandat ons klein was en ons was altyd duetmaats in akrobaat. Ons beweeg nog altyd in dieselfde kringe in terme van die kunste, so dit voel heeltemal normaal vir Trix om saam met my al hierdie goed te doen. Ons wil verskriklik graag teenoor mekaar speel en is besig om in daardie rigting te werk met die vervaardiging van ʼn teaterproduksie.”

Die susters se gemaklike verhouding is tasbaar terwyl hulle uit twee verskillende voorstede in Kaapstad met Maroela Media via ʼn Zoom-onderhoud gesels.

Lea vertel sy bring die afsonderingstydperk wat ingestel is om die Covid-19-virus te bekamp by haar ouers se huis op Melkbosstrand deur. Sy bestee die meeste van haar tyd aan lees en doen ook deeltydse skryfwerk vir ʼn oorklankingsateljee.

Trix is saam met haar man en twee honde by hulle huis in Vredehoek en sê sy kon vir die eerste keer in ʼn lang tyd aandag gee aan huistake wat agterweë gebly het terwyl sy die land vol gereis het vir die een produksie ná die ander.

Trix Vivier. (Foto: IMDb)

Sy vertolk die rol van Flea van Jaarsveld in die aksiebelaaide televisiereeks Trackers, wat gebaseer is op die politieke riller met dieselfde titel deur Deon Meyer.

Dit is aanvanklik in Suid-Afrika op M-Net en Showmax uitgesaai en word ook binnekort op die televisienetwerk HBO Max in die VSA en Suid-Amerika uitgesaai.

Trackers vertel die verhaal van ʼn diverse groep mense wie se lewenspaaie kruis wanneer hulle by aardskuddende gebeure betrokke raak. Lemmer, ʼn voormalige lid van die spesiale magte, raak betrokke by die verplasing van twee swartrenosters, maar beland in ʼn lokval.

Die hele rolverdeling bestaan uit Suid-Afrikaanse akteurs soos Rolanda Marais, Sandi Schultz, Thapelo Mokoena, Brendon Daniels en James Gracie (ook bekend as James Alexander).

“Ek het nog nooit vantevore aan ʼn projek gewerk waar die teks op ʼn boek geskoei is nie. Gewoonlik moet jy met ʼn oorspronklike teks lewe gee aan ʼn karakter waar jy haar agtergrond van geboorte tot waar sy nou is self moet opmaak, iets wat ek baie geniet – ek is ʼn groot nerd as dit kom by karaktervoorbereiding,” vertel Trix.

“Teen die tyd dat ek op die stel van Trackers gestap het, het ek reeds die boek twee keer en die teks deurgelees, en dus ʼn volledige geskiedenis gehad van wie Flea van Jaarsveld en haar doel in die storie is.”

Sy voeg by dat sy trots is daarop dat sy in haar eie aksent kon werk aan ʼn produksie wat Suid-Afrikaanse stories vertel deur Suid-Afrikaanse akteurs, maar met ʼn groot HBO-begroting.

“Iets wat ons gehad het met dié produksie wat ons nie gewoonlik het nie, is tyd. Tyd is geld, en daarom word Suid-Afrikaanse produksies gewoonlik so vinnig moontlik afgehandel.”

Lea Vivier. (Foto: Antonia Steyn/IMDb)

Die Finse regisseur Jyri Kähönen het die regie van die reeks behartig en Trix sê dit was wonderlik om onder sy leiding te werk.

“Ek is mal daaroor om saam met nuwe mense te werk. Jy ontdek dan nuwe dinge van jouself. Ek vind as ʼn mens oor en oor saam met dieselfde mense werk, is dit asof julle gewoond raak aan mekaar se ritmes. Met nuwe mense is dit onmoontlik om die chemistry vooraf te bepaal. Jyri het ʼn ander styl, hy praat ʼn ander taal en filmtaal, hy het ʼn ander agtergrond en kom van ʼn ander land af. Dit was interessant om te sien hoe hy met ʼn teks in Suid-Afrikaanse konteks omgaan.”

Daarom neem sy nou ʼn blaaskans en maak tyd om op te vang met vriendinne en haar susters. “Ek waardeer die tyd wat ek nou by die huis kan deurbring en om net in die oomblik te kan leef. As vryskutakteur is ek altyd besig om te werk en sodra dit einde se kant toe staan, begin ek wonder waar die volgende werk vandaan gaan kom. Ek is baie bevoorreg dat ek dinge nou een dag op ʼn slag kan vat met die wete dat daar werk vir my aan die ander kant van die afsonderingstydperk wag.”

Intussen werk Trix en Lea daaraan om hulle teaterproduksiedroom te bewaarheid. “Ek is nuuskierig om te sien wat gebeur wanneer ons teenoor mekaar speel – ek dink daar is iets wat ons as susters het wat sal translate op die skerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.