Leah hang haar plaasstewels op

Leah op die stel van 'Boer soek 'n Vrou;. (Foto: Instagram)

Leah op die stel van ‘Boer soek ‘n Vrou’ (Foto: Instagram)

Boer soek ʼn vrou het na afloop van Donderdagaand se laaste episode van die 12de seisoen aangekondig dat Leah, die blondekop aanbieder van dié gewilde kykNET-reeks, vir eers die plaas vaarwel toeroep.

Wilmer Muller, reklamebeampte vir die Boer soek ʼn Vrou-reeks, het dit aan Maroela Media bevestig.

Leah was die aanbieder van die 11de en 12de seisoen nadat sy die leisels by Minki van der Westhuizen oorgeneem het.

Leah vertel aan Maroela Media dit is nou weer tyd vir ʼn nuwe seisoen in haar lewe. “Ek glo volkome dat alles met ʼn rede gebeur en Boer soek ʼn vrou het absoluut op die regte en beste tyd oor my pad gekom. Dit is nou vir my ʼn nuwe seisoen, gevul met baie musiek en vertonings,” vertel die sangeres.

Haar splinternuwe album, Kyk na my, is onlangs uitgereik.

“Ek dink nie daar is genoeg woorde om my dankbaarheid te beskryf vir almal wat my so deurentyd ondersteun en aanvaar het as die nuwe aanbieder nie. Ek het groot skoene gehad om vol te staan en het my beste en alles gegee. Ek gaan Boer soek ʼn vrou regtig mis.”

Leah vertel sy het tydens haar Boer soek ʼn vrou-reis talle lewenslange vriende bygekry. “Ek het van die ongelooflikste mense leer ken – van die boere tot die span waarmee ons elke dag gewerk het, asook mense agter die skerms.”

Die boere groet vir Leah tydens die laaste episode van 'Boer soek 'n vrou'. (Foto: Skermgreep uit video)

Seisoen 12 se boere groet vir Leah tydens die laaste episode van ‘Boer soek ‘n vrou’. (Foto: Skermgreep uit video)

Sy voeg by dat sy opnuut nuwe respek vir die boere van Suid-Afrika gekry het. “Hulle het soveel passie ondanks die moeilike tye en dit sal my vir ewig en altyd bybly. Ek dink ook ek wil nou self ʼn plaasjapie word,” skerts sy.

“Die publiek het my ook baie ondersteun en dit het vir seker bygedra tot ʼn lewenslange waardering vir ons land se mense.”

Leah kan nie uitgepraat raak oor die gasvryheid van die boere nie. “Ek het die karameltertjies op Graham se plaas só geniet, Theunis se ma het omtrent gebak en brou, Albert het heerlike biltong aangedra en Brandon se ma het ‘shortbread tart’ voorgesit. Ag, die moeite wat elke boer en sy familie met ons gedoen het, was ongelooflik!”

Sy sê sy glo dit is steeds die moeite werd om in te skryf vir Boer soek ʼn vrou, al vind jy nie noodwendig ʼn pasmaat aan die einde van die seisoen nie.

Die omslag van Leah se album “Kyk na my”. (Foto: Willem Botha)

“Ek het oor die twee seisoene gesien hoe mense se lewe daadwerklik verander het, al het hulle nie noodwendig ʼn pasmaat gevind nie. Jy word by die diep kant ingegooi, maar die waarde van die ervaring wat jy opdoen en die lesse wat jy leer, kan nie gemeet word nie. Jy sal nuwe vriende maak en mense leer ken wat jy nooit andersins sou nie. Jy sal plekke sien wat jy nie voorheen by sou uitkom nie en jy stap weg met ʼn storie.”

Die volgende aanbieder van die program is nog nie bekendgemaak nie. Tog het Leah goeie raad vir haar opvolger.

“Ek dink die belangrikste ding van die aanbieder is regtig om net jouself te bly en jou hart en kop oop te maak vir die boere en die pasmaats,” sê Leah.

“Hulle plaas hul hart op die spel – die aanbieder moet sensitief wees daarvoor en terselfdertyd ondersteunend bly. Probeer die boere regtig leer ken van dag een af, want hulle is bitter spesiaal en hoe gemakliker hulle by jou is, hoe beter gaan alles verloop. Dis een ongelooflike ervaring en het ook sy uitdagings, maar dis elke oomblik werd.”

Leah beplan om vanjaar saam met die sanger Willem Botha te toer. “Ek mag dalk ook ʼn bietjie teaterwerk doen en gaan begin skryf aan ʼn paar projekte. Daar is mos altyd ʼn verrassing of twee met my – hou dop!” lag sy.

Luister hier na Leah se volle boodskap:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louis La Grange ·

Leah jy was ñ wonderlike aanbieder. Aan al die boere en dames en mans wat ingeskryf het en nog gaan. Sterkte vir julle toekoms en ek hoop alles werk ten goede uit vir elke persoon.

Niklaas ·

Prag dametjie met mooi persoonlikheid wat sommer gougou in jou hart inkruip. Dan is sy nog talentvol ook. Ons het haar sien optree by Innibos , Nelspruit vanjaar as sangeressie. Alle voorspoed vir haar !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.