Leah verklap agter-die-skerms-staaltjies oor ‘Boer soek ʼn vrou’

Leah geniet haarself gate uit op boer André se plaas. (Foto: Verskaf)

Leah geniet haarself gate uit op boer André se plaas. (Foto: Verskaf)

Verlede week het kykers van die 11de reeks van die kykNET-werklikheidsprogram Boer soek ʼn vrou en die tien nuwe boere vir die eerste keer kennis gemaak met die nuwe aanbieder van die reeks, die gewilde sangeres en aktrise Leah.

Terwyl die loodsepisode daaraan gewy was om die tien boere – Frikkie (28), Toanette (23), Schalk (26), Rèan (26), Marx (24), Johan (30), Duncan (26), Cassie (28), Byron (28) en André (35) – en die nuwe aanbieder van nader te aanskou, is daar ʼn hele rits prettighede agter die skerms wat kykers misloop.

Leah het ʼn paar snaakse staaltjies met Maroela Media gedeel. “Ek het tydens ʼn onderhoud met Marx op sy plaas teen ʼn draad vasgestap en ʼn hele klos van my hare het agtergebly,” lag sy.

“Toe ek vir Duncan die eerste keer moes groet, het ek uit die kar gespring en daar val my mikrofoonpak heeltemal uit! Ek moes net so omdraai en terug in die kar klim, net om hom weer te moes groet.”

Op Toanette se plaas het ʼn steeks donkie en ʼn mak vlakvark vir groot konsternasie gesorg. “Die donkie wou ewe skielik ook in die skoot wees en het geweier om te loop. Ons moes redelik lank wag voordat sy besluit het sy het genoeg van die kameras gehad!

“Die vlakvark het ʼn paar keer teen die kamera se driepoot vasgeloop of net daarteen gaan lê. Hy was nogal groot!” onthou Leah.

En dan die snaaksste ding wat gebeur het: “ʼn Bees op Johan se plaas het sy ‘besigheid’ gedoen terwyl ons geskiet het en só lekker sy stert geswaai dat van sy ‘besigheid’ op my klere en gesig beland het. Maar ag, dis mos die plaas!” lag sy.

Skakel elke Donderdag om 20:00 in op DStv-kanaal 144 vir ʼn nuwe episode van Boer soek ’n vrou.

Leah. (Foto: Verskaf)

Leah. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan Erasmus ·

Dit het skaars begin en dit is interessant. Ek hoop net die Tannies wat dit so haat bly weg en kyk nie skelm dat hul tone omkrul van lekkerkry nie.

AmY ·

Ek stem saam met jou, Daan.
Kom ons hoop die breinaald-brigade en koeksister-komitee kla hierdie keer nie.
En dat die konsistorie-piesangs die humor in elke situasie sal raaksien.

Leon ·

Ek hoop die een gaan so interessant soos Minkie vd Westhuizen s’n wees.
Lea lyk nogals of sy van die plaas af kan kom, want sy lyk so gemaklik tussen die diere en implemente.

Verstom ·

Plat op die aarde, pragtige mens. What you see is what you get. Born Cape Tonian.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.