Lee-Ann van Rooi maak sepiedebuut in ‘Suidooster’

Lee-Ann van Rooi as Farah in ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

Aanhangers van die gewilde kykNET-sepie Suidooster kan binnekort ʼn opwindende nuwe storielyn verwag wanneer die gesoute aktrise Lee-Ann van Rooi haar sepiedebuut in dié gewilde daaglikse drama maak.

Van Rooi, wat bekend is om haar rolle in Die Boekklub, Sara se Geheim en Die Byl, sal teen einde Julie as Farah in Suidooster te sien wees.

Van Rooi vertel Farah is ʼn vrou in haar dertigs wie se man sowat vier jaar gelede oorlede is. Hy het nie veel geld nagelaat nie en sy word gedwing om na haarself om te sien.

“Farah begin dan met haar hande werk en maak handerome en sepies. Sy kom uiteindelik in Ruiterbosch aan om haar produkte te smous. Bianca (vertolk deur Simone Biscombe) is die eerste persoon waarmee sy kennis maak en sy help haar om blyplek te kry, asook met die bemarking van haar produkte. Sy maak ook kennis met AB Samsodien (vertolk deur Cedwyn Joel) wat haar die geleentheid gee om haar goedjies in die apteek te verkoop. Só begin die storie,” vertel Van Rooi.

Sy vertel dit was met tye ʼn uitdaging om ʼn kopdoek te dra vir die rol, aangesien sy ʼn natuurlike bos krulle het. “Ek dra gewoonlik ʼn doek, maar nie heeltemal so styf teen my kop nie. Nou is dit iets heel anders, maar ek geniet dit. Andrea Absolom is ons kopdoekghoeroe op die stel; ek sit net agteroor en sy maak my mooi met ongelooflike style.”

Van Rooi voeg by dit is die eerste keer dat sy ʼn Moslem-karakter vertolk. “Gewoonlik kry jy mos maar jou kostuum en daar is gewoonlik ʼn horlosie of juwele of ringe wat die karakter sal dra, maar dié keer is daar die mooiste uitrustings met bypassende kopdoeke. Ons doen baie moeite om seker te maak ʼn spesifieke uitrusting pas by wie en wat Farah is.”

Om deel van die Suidooster-familie te wees is heerlik, sê Van Rooi. “Dis beautiful. Ek ken soveel van die mense in die span. Ek het saam met Cedwyn aan Die Boekklub gewerk en het al ʼn paar keer saam met Marlo Minnaar gewerk. Ek het ook al saam met Denise Newman, Simone Biscombe, Marcel van Heerden, Monique Rockman en Dean Smith in ander produksies, van verhoogstukke tot radiodramas, gespeel.”

Lee-Ann van Rooi en Cedwyn Joel. (Foto: Verskaf)

Sy vertel die pas van ʼn sepiestel is iets wat haar ʼn paar weke gevat het om aan gewoond te raak en sê dit verskil hemelsbreed van die stel van ʼn rolprent of reeks.

“Dit is glad nie maklik nie. Met die sepiemasjien moet ʼn mens elke dag die aand voor die tyd woorde leer en jy moet ontsettend goed voorberei wees. Dit het my so ʼn week of twee gevat om in die ding te kom en nou is ek in. Ek haal my hoed af vir sepieakteurs, want dit is iets heel anders wat ek nou moes leer om te doen.”

Die tegniese aspekte van ʼn sepiestel was ook ʼn nuwe terrein wat sy moes leer navigeer. “Daar is drie kameras op jou gerig en jy moet met al drie werk. Jy moet die voorbereiding wat jy gedoen het toepas terwyl jy jou deel doen waar emosies betrokke is. Jou voorbereiding moet ook van so aard wees dat jy nie gegooi word wanneer die regisseur jou vra om iets anders te probeer nie,” verduidelik sy.

“Baie van die akteurs ken hulle karakters al so goed dat hulle presies weet hoe die karakter sou optree of reageer. Die regisseur sal insette gee en ʼn mens word halfpad ontmoet, maar jy kan nie onvoorbereid op die stel stap en niks gee nie. Dis lekker om só te werk saam met mense, want daar is nie ʼn persoon op daai stel wat nie hard werk nie en daarvoor is ek dankbaar. Niemand sit agteroor nie.”

Lee-Ann van Rooi as Farah. (Foto: Verskaf)

Sy glo die feit dat kykers kan vereenselwig met die Samsodien-familie en hulle doen en late op Ruiterbosch, dra by tot die gewildheid van die sepie.

“Wanneer Kaapse verhale vertel word, sien ons nooit ʼn familie soos die Samsodiens nie. Hier het jy ʼn goeie familie en die lingo en dialek wat gebruik word, is iets heel anders. Ons probeer baie hard om iets eg te skep, nie in die sin van ons is nou in die tyd van Covid-19 so nou speel alles in Ruiterbosch ook af in dié tyd nie. Eerder egtheid van menswees en om eerlik te wees en om saam met mekaar te werk. Die karakters is mense wat net soos ons is; nie vergesogte karakters nie, maar eerder mense wat jy glo bestaan.”

Volgens Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Suidooster, sal Van Rooi vanaf 28 Julie in Suidooster as Farah te sien wees.

“Farah het ʼn interessante storielyn wat beloof om kykers te verras, maar terselfdertyd gaan dit ’n moontlik omstrede kinkel hê,” sê hy.

Suidooster is Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.