Lee onthul ‘manipulasie, leuens’ agter die skerms van ‘The Bachelor SA’

Lee Thompson (Foto: Verskaf)

Lee Thompson, Suid-Afrika se eerste bachelor, gaan binnekort ʼn boek, The Truth Behind The Rose, uitbring wat onthul wat regtig agter die skerms van The Bachelor SA aangaan.

Lee vertel dat hy besig is om die boek te skryf om vir mense die waarheid te vertel oor sy The Bachelor SA-ervaring, maar ook oor sy kinderlewe, agtergrond en familie.

“Die boek sal baie fokus op die program, die goeie tye, maar ook die misleiding, manipulasie en leuens. Die boek sal ook praat oor die geestesgesondheidsprobleme wat die program veroorsaak het en hoe ek dit oorkom het.”

Lee moes aan die einde van die eerste seisoen van The Bachelor SA tussen die twee oorblywende vroue, Jozaan Digue en Gina Myers, kies. Hy het die finale roos vir Gina gegee, maar hul verhouding was van korte duur. Tydens die After the final rose-geleentheid, was die twee reeds weer uit mekaar.

Lee sê hy praat ook in die boek oor sy verhouding met van die deelnemers op die program en hy takel die gerugte wat oor hom opgemaak is.

“Hierdie boek gaan ʼn groot las van my skouers afhaal wat ek al vir ʼn lang tyd saam met my dra.”

Lee sê sy uitkyk op vroue en liefde het drasties verander nadat hy aan The Bachelor SA deelgeneem het.

Lee Thompson en Gina Myers (Foto: Instagram)

“Die program het my baie versigtig gemaak vir vroue en hulle ware bedoelings. Dit het my ook laat besef hoe belangrik liefde vir my is.”

Lee vertel dat hy nooit ingeskryf het om die rol van Suid-Afrika se eerste Bachelor te vertolk nie, maar dat die produksiespan hom daarvoor genader het.

“Hulle het my genader en my opgevlieg Johannesburg toe om hulle te ontmoet. Daarna het hulle die rol vir my aangebied. Ek het nooit ingeskryf nie en weet nou nog nie waar hulle aan my gekom het nie.”

Te midde van al die slegte goed waardeur hy gegaan het, sê Lee hy is nie spyt oor sy besluit om die rol te aanvaar nie.

“Ek het dit gedoen met die hoofdoel om iemand te vind saam met wie ek die res van my lewe kon deurbring, maar ongelukkig het dit nie gebeur nie.

“Nadat ek die program gekyk het en meer geleer het oor wat agter die skerms aan die gang was en oor die vroue wat deelgeneem het, sou ek ander keuses gemaak het in terme van die vrou vir wie ek gekies het. Dit het baie keer gebeur dat ek gemanipuleer was deur die produksiespan om sekere vroue te laat bly wat ek nie meer daar wou hê nie.”

Volgens Lee het hy ook al met Marc Buckner, Suid-Afrika se tweede bachelor, hieroor gepraat.

Lee Thompson (Foto: Verskaf)

“Ons het nou die dag ʼn lang gesprek gehad en hy voel dieselfde as ek oor om gemanipuleer en voor gejok te word.”

Op ʼn navraag aan M-Net, wat The Bachelor SA vervaardig, het hulle laat hoor dat hulle dit geniet het om saam met Lee te werk en dat hulle hom nie opsetlik manipuleer het nie.

“Alle werklikheidsprogramme word geregisseer om die gehalte van die produksie te bestuur, maar nie om die uitkomste daarvan te manipuleer nie. Ons het dit geniet om saam met Lee Thompson te werk en ons wens hom alles van die beste toe.”

Oor Lee se bewering dat die program gelei het na geestesgesondheidsprobleme, sê M-Net dat hulle professionele hulp bied aan alle deelnemers wat aan hul werklikheidsreekse deelneem.

Lee saam met die nuwe vrou in sy lewe oor wie hy nog geheimsinnig is.  (Foto: Instagram)

“Professionele hulp word gedurende produksie aangebied, en is ook na die tyd beskikbaar,” sê M-Net.

Lee sê hy het ʼn paar goeie vriendskappe met van die vroue op die program gesluit, maar dat nie een van die verhoudings ooit verder as ʼn vriendskap gevorder het na die program nie. Hy het wel intussen liefde gevind by ʼn Afrikaanse dokter, oor wie hy geheimsinnig is.

“Ek geniet dit om weer lief te kan hê en om my hart heeltemal te kan oopmaak vir iemand. Dit is spesiaal om te weet iemand is daar vir jou net soveel soos jy daar is vir hulle.”

Lee sê die nuwe vrou in die lewe het hom gevra om haar identiteit vir eers ʼn geheim te hou en hy respekteer dit. Hy sê wel sy is van ʼn klein dorpie en spesialiseer in oftalmologie.

“Ons het dieselfde sin vir humor en sy motiveer my om ʼn beter man te word,” voeg hy by.

Lee sê hy is ernstig oor haar en dat hulle reeds saam ingetrek het en oor kinders praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Hoor hier ou perd. As jy nie ingeskryf het nie, hoekom het jy dit aanvaar. Die vakansietjie geniet?? hierdie program, en so ook single wifes, is ‘n pot snot!

koos10 ·

Lee, is jy so naief om te verwag dat ‘n realiteits reeks vervaardig word sodat jy ‘n vrou kan kry? Dit word gemaak om geld te maak, waaruit jy ook geput het, en nou skryf jy ‘n boeke en gooi die mense wat jou “bekend” gemaak het, onder die bus in? Ek moet eerlik waar sê dat ek nie weet wie jy is nie, en dat ek nog nie een episode van die reekse gekyk het nie.

Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat as jy jouself as ‘n toffie wil uitgee, moet jy bereid wees om gekou te word.

Estelle ·

Ag Lee ek het dit geniet om na jou te kyk. Al kon ek jou ouma gewees het. Jy is my gunsteling bachelor en die mense wat so venynig is, is net jaloers op jou. Eks bly jy het iemand ontmoet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.