‘Legacy’-paartjie se dogtertjie gebore

Sean-Marco Vorster, wat in ‘Legacy’ en ‘Alles Malan’ te sien is, saam met sy babadogtertjie, Ayla. (Foto: Instagram/Sean-Marco Vorster)

Die akteurspaar Sean-Marco Vorster en Jay Anstey, wat onderskeidelik die rolle van Stefan en Lexi in die M-Net-telenovelle Legacy vertolk, het op Instagram aangekondig dat hul babadogtertjie gebore is.

Die dogtertjie, Ayla, is reeds op 6 Desember gebore. Anstey en Vorster het die afgelope naweek op hul onderskeie profiele die baba se geboorte op Instagram bekend gemaak.

Volgens die paartjie se inskrywings is klein Ayla deur middel van vrygeboorte in die lewe gebring. Dit beteken dat geen mediese hulp verleen is tydens die geboorte nie.

“Ons sal meer hieroor deel wanneer ons meer uitgerus het,” het Anstey geskryf by ‘n foto van haar en Ayla.

“Ek is die gelukkigste man op aarde. My dogter, Ayla, het veilig aangekom. Ek is in absolute verwondering van Jay en die vrygeboorte wat sy volbring het. Haar natuurlike vermoëns om ons dogter in die lewe te bring het ʼn hele nuwe hoofstuk van die lewe in myself en ons familie wakker gemaak,” het Vorster by ʼn foto van hom, met klein Ayla in sy arms, geskryf.

Hy is tans ook in die kykNET-dramareeks Alles Malan te sien, waarin hy ook die pa van ‘n pasgebore babadogtertjie speel.

Vorster (29) en Anstey (30) het vroeër vanjaar bekend gemaak dat hulle ʼn paartjie is nadat hulle die verhouding maande lank geheim gehou het. Hulle het in Augustus die swangerskap bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Baie geluk met jul dogter se geboorte.
Ek wil net noem dat die sogenaambe “vrygeboorte” niks nuuts is nie, ons oumas en oumagrootjies het almal vrygeboortes gehad, veral die wat op die platteland gewoon het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.