Leon van Nierop se kassiekos-aanbevelings

Argieffoto (Foto: JESHOOTS.com/Pexels)

Te midde van die koronavirus-afsonderingsperiode is daar meer as genoeg om jou op die kassie mee besig te hou. Soos Rapport raakvat-sê: “Kassiekos.” Videovision het sopas aangekondig dat Leon Schuster se Mr. Bones asook Paljas nou beskikbaar is. Tik dit maar by “search” op jou stromingsplatforms in, en jy sal dit kry.

Wanneer ʼn mens so vasgekluister in jou huis hiberneer, verkies jy ʼn verskeidenheid van vermaak. Soms swaar, soms lig, soms vrolik, soms angswekkend, soms dramaties. Hier is twee produksies waarin jy jouself kan verlekker en jou verveling verloor wanneer die gesin jou na raserny dryf en jy jouself saans laat in die TV-kamer kan toesluit met “jou tyd”.

To All the Boys I’ve Loved Before    ***
Met Noah Cintineo en Lana Condor
Regisseur: Susan Johnson

Kyk, hierdie fliek is so vol wollerigheid soos daai ou trui wat jou ma 20 jaar gelede vir jou gebrei het en jy die wolle van afgetrek het, tot haar groot konsternasie, om ʼn boekmerk van te maak. Die storie het meer clichés as ʼn Valentynsdagkaartjie, met ander woorde, jy het alles al vantevore gesien en ken die verloop van die verhaal beter as jou tweemaaltafel. Maar daar is baie mooi mense wat in benarde situasies beland en wie se lewens besiger is as wat die William Nichol-snelweg die aand voor die inperking was.

Luister na hierdie storie! ʼn Jonk en jeukerige tienermeisie skryf vyf briewe aan vyf uiteenlopende seuns in haar skool (hulle is altyd mooi). Sy vertel vir hulle presies hoe sy oor hulle voel. Maar dit word nooit gepos nie, en dit is eintlik bedoel om haar eie private dagboekbriewe in haar kas te wees wat sy later gaan verbrand. Goed, jy het reg geraai. Die briewe beland in die verkeerde hande, en word aan die vyf seuns afgelewer. (Wie het dit gedoen? O gonna. Gaan jy ooit raai?) Maar nog erger! Dit word deur die hele skool versprei! Gil! Skok! Afgryse! Woede!

Die eerste brief gaan aan Noah Cintineo wat altyd in flieks sy hemp vinniger uitpluk (tot groot vermaak van kykers) as wat jy jou humeur verloor wanneer jy saam met die verkeerde mense ingeperk is. Die ander vier het elkeen ander geite. Gaan die regte seun homself aan ons heldin blootstel (emosioneel!) terwyl haar gesig so rooi is soos die binnekant van ʼn granaat? Dit is dalk wat jou enduit sal laat kyk. Ook om te sien of sy ophou bloos.

As jy net lus is vir ʼn stukkie souttert en ʼn lekker koeldrank in die hand, is hierdie wollerige vermaak vir jou. (Of die verbasterde woorde vlooifliek-vermaak).

Die vervolg, To All the Boys: Ps: I Still Love you, wys ook nou op Netflix. Dit mag help as jy oorweldig word deur die miljuisende lokprente wat sommer begin speel as jy op Netflix inskakel, nes ʼn onwelkome skoonfamilie wat kom kuier en aanhoudend om jou ore kwetter. Liefde is darem voorspelbaar in die flieks! Dit werk altyd, anders as, miskien, in jou lewe.

The Valhalla Murders ****
Met Aldis Amah Hamilton en Björn Thors
Skepper: Thordor Palsson

Soek jy ná die wollerige tienerromanse na iets met gewig? ʼn Reeks met borshare en gesag? Iets wat jou tot aan die einde sal laat raai? Laat ek begin met ʼn skoolhoofpreek. As jy ʼn probleem het met byskrifte, het jy nou die tyd om rustig te fliek en te verstaan hoekom ʼn mens ʼn fliek in sy oorspronklike taal moet hoor en dus byskrifte moet lees! Dit word spesifiek kursief geskryf, want ek kan steeds nie glo hoeveel mense bevooroordeeld is en hulleself uitmuntende fliek- en reeks-ervarings misgun “omdat ek te lui is om te lees nie”. A nee a man! Jy kan mos lees en tegelyk kyk! Ons is mos almal intelligent.

Met daardie skoolhoofpreek uit die pad, ʼn reeks waaroor mense gaande is, is die Yslandse reeks The Valhalla Murders. Ysland het nog nooit ʼn reeksmoordenaar gehad nie, eintlik skaars nog ʼn moord. (Vergelyk dit met Suid-Afrika!) Dus is hul polisiemag nie opgewasse vir drie moorde binne drie episodes nie. ʼn Profileerder word uit Oslo ontbied om die saak te help oplos. Maar hy het sy eie geheime.

Jy sal absoluut vasgenael sit en skaars bewus wees dat jy die spaarsamige, min dialoog terloops lees. Jy raak so gou gewoond daaraan as die stil strate deesdae. Die storie is belangrik en honderd maal beter as die ander leë reekse wat jy dalk kyk “net om besig te bly”. Probeer die moorde oplos voor die speurders dit doen. The Valhalla Murders op Netflix is vraatkyk op sy allerlekkerste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.