Leon van Nierop se resensie: Recipes for Love and Murder

Recipes for Love and Murder ****
Met Maria Doyle Kennedy en Arno Greeff
Regisseur: Christiaan Olwagen

Baie mense is dalk verslaaf aan die Tannie Maria-moordstories in romanvorm waarvan die jongste, The Milktart Murders tans op die rakke is. Hierin los ʼn goedige tannie, wat dol is oor melkterte en koeksisters, tannie Maria, moorde op terwyl sy haar resepte uittoets. En kalorieë tel.

In die televisieweergawe is sy nie so mollig of goedig soos in die romans nie. Om die waarheid te sê, sy is ʼn waardige Skotse vrou wat graag rokke met vrolike Engelse blomme dra, wat Prince Albert in die Karoo geniet en waardeer, dol is oor die mense op die dorp en so tussen haar gebak vir basaars moorde oplos. Sy lyk en klink dus anders as wat jy verwag (as jy die boeke gelees het).

In hierdie reeks val die klem op geselligheid. Knus moordstories word vertel waar daar nooit te veel geweld of bloed voorkom nie. Dit is dus die soort Sondagaandvermaak waar jy net met ʼn glasie iets in die hand sit en wens jy het nou ʼn bak koeksisters gehad, maar ook die tannie se skerp brein wat weet watter leidrade om raak te sien en watter vals leidrade jy moet ignoreer. Sy laat haar nie mislei nie!

Die reeks behoort jou in ʼn gesellige luim te plaas en tevrede met ʼn genoegsame glimlag droomland toe te stuur, hopelik met ʼn leë melktertbordjie langs jou bed.

Op M-Net Sondagaande om 20:00.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente en reekse soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.