Leon van Nierop se resensie: Unsolved Mysteries

Unsolved Mysteries op Netflix

Unsolved Mysteries ****
Met Pistol Black en Anne-Sophia Martin
Regisseurs: Verskeie

Een van die gewildste genres naas romantiese komedies (en laat ons dit maar erken: ons het nou nodiger as ooit tevore om te lag!) is die sogenaamde whodunit of “wie het die moord gepleeg?” – Iets waarin Dame Agatha Christie uitgeblink het, en daar is steeds niemand wat haar dit kan nadoen nie. Maar dit was (hopelik!) fiksie.

Hierdie reeks, Unsolved Mysteries, neem die geheimenisse ʼn paar trappies met die trapleertjie op. Eerstens lê die sjarme reeds in die titel: dit gaan oor geheime wat nooit opgelos is nie. Tweedens is die probleem: dit is nie fiktiewe nagmerries uit ʼn griller-skrywer soos Stephen King se verbeelding nie. Elke episode is op die waarheid gegrond. En derdens is die leuse: “Die waarheid is vreemder as fiksie.” (“Truth is stranger than fiction.”)

Dink bietjie terug aan jou kinderdae met Oupa en Ouma wat vir jou saans, net voor ligte uit, vertel het van ʼn vloek wat uitgespreek is en hoe dit geslagte daarna bly teister het. Of ʼn “spook” wat ʼn kamer soms, altyd om middernag, besoek! En dikwels was daardie kamer jou gastekamer!

Hierdie reeks, ’n voortsetting van die berugte en geliefde Robert Stack-reeks van die tagtiger- en negentigerjare, een van die wêreld se gewildste reekse, plaas ses geheimsinnige gebeure onder die vergrootglas en vra jou: “Wat dink jy het regtig gebeur?” Vroetel in daardie breinselle en druk ’n skokstok daarteen. En maggies, is dit lekker om in verbystering na die waarheid te sit en kyk, die polisieondersoeke gade te slaan en dan versigtig vir die persoon langs jou te vra: “Pappie? (of, “Ou swaer”?) Wat dink jy het regtig gebeur?”

Kyk bietjie na vreemde verskynsels (ja, daar is vlieënde vreemde voorwerpe wat deur verskeie mense gesien is), individue wat spoorloos verdwyn het, en tergende familiemoorde. Maar wat was die motiewe? Hoe het die persoon of persone daarmee weggekom? Maar die tergendste vraag is: wat het werklik gebeur?

Hierdie reeks, op die ou staatmaker Netflix, sal jou in stomme verbasing oopmond laat – oppas dit raak eersdaags brommertyd! Dit het miskien nie meer die klipgesig Robert Stack wat jou uitdaag om die raaisel te probeer oplos nie, maar nog steeds wonder jy: Wat het werklik gebeur?

Ten sterkste aanbeveel. Jy sal ʼn hele dag om vraatkyk en bespiegel!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.