Lewe van vyf vroue verweef in ‘Afgrond’

Van links na regs: Gretchen Ramsden, Kanya Viljoen, Jana Kruger, Marguerite van Eeden en Kim Cloete. (Foto: kykNET)

Die nuwe Afrikaanse kykNET-dramareeks, Afgrond, bekyk die lewens van vyf vroue van uiteenlopende wêrelde en ondersoek die een vraag wat hulle almal in die gesig staar: Hoe naby moet ons aan die rand van ʼn afgrond staan voor ons besluit om verantwoordelikheid vir ons eie besluite te neem?

Afgrond het ’n sterbelaaide rolverdeling. Kykers kan regmaak vir vertolkings deur gesoute akteurs soos Elsabé Daneel, Ivan Zimmerman, Craig Adriaanse, Nadia Valvekens, Khadija Heeger, Chris van Niekerk en Maurice Carpede.

Jana Kruger vertolk die rol van Julia Cilliers, ʼn sielkundige wat sukkel om haar skuldgevoel oor haar kind se dood te verwerk. Dit dwing haar om te bly in ʼn moeilike huwelik met Basson Brink, vertolk deur Stian Bam, ook die hoof van Cilliers, Molefe en Mouton, ʼn suksesvolle regsfirma in Kaapstad.

Fynskrif en Vergeet my nie se Marguerite van Eeden is te sien in die rol van Hannelie Fourie, ʼn vrou wat Julia besoek vir berading omdat sy by die werk seksueel mishandel word. Sy word gedwing om ʼn moeilike keuse te maak wat haar uiteindelik sal bevry.

Lana Bridget, vertolk deur Kim Cloete, is ’n glansryke sepiester wat ná vyf jaar uit ʼn koma ontwaak en besef sy het geheueverlies. Sy kry hipnoterapie by Julia om haar te help onthou en sy ontdek skokkende geheime oor haarself en haar verlede.

Gretchen Ramsden is Nadine May, ʼn jong kandidaatprokureur van Vredendal. Haar droom om ʼn pos by Cilliers, Molefe en Mouton los te slaan word bewaarheid. Sy moet egter kies tussen haar geliefde, Franklin, vertolk deur Roberto Kyle, en die nuwe werkgeleentheid.

Leora van Niekerk, gespeel deur Kanya Viljoen, moet haar pa se begrafnisonderneming oorneem. Terwyl sy kop bo water probeer hou by die werk vind sy skokkende waarhede uit oor haar verloofde, Etienne, wat vertolk word deur Wilhelm van der Walt.

Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van Afgrond, sê sy het nog altyd belang gestel in inhoud wat kyk hoe verskillende mense en gebeure verwant is aanmekaar.

“Ek het die konsep gehad om vyf vroue se lewens te verweef en te wys hoe hulle verbind is. Ek is baie dankbaar vir kykNET dat ons die geleentheid gekry het om dié storie te vertel,” sê Durrant.

Die onderliggende temas van die reeks is patriargie en mishandeling in al sy vorme, maar dit is ook ’n reeks oor vroue wat deur hulle donkerste geheime werk om hulself te bevry.

Afgrond word vervaardig deur Penguin Films, wat ook reekse soos Projek Dina, Sara se geheim en die telenovella Arendsvlei vervaardig.

Afgrond word op Woensdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.