Liefde blom vir dié TV-boere

Boer Johan. (Foto: kykNET)

Vanjaar was ʼn goeie oesjaar vir die 14de reeks van die gewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou, met vier uit die topvyf‑boere-deelnemers wat almal saam met die pasmaats wat hulle uiteindelik gekies het, by die reünie by die Devon Valley-hotel in Stellenbosch opgedaag het.

Sedert die reünieprogram in November verlede jaar geskiet is, het ʼn paar verwikkelinge in die boere se liefdeslewe plaasgevind.

Boer Johan, ʼn saai- en veeboer van Marquard in die Vrystaat, se liefdespad het intussen ʼn interessante wending geneem nadat hy liefde by een van die ander boere se meisies gevind het.

Johan en Esmerélda, wat boer Nelis se finale keuse was en saam met wie sy die reünie bygewoon het, het mekaar ontmoet en is nou ʼn paartjie. “Ja, die liefde het gewen,” skerts Johan.

Hy sê verder dat hy dit geniet het om aan die program deel te neem en dat hy ander mense sal aanmoedig om dit ook te doen.

“Ja, ek het die ervaring geniet. Ek het soveel van myself geleer en baie goeie vriende gemaak. Ek sal dit nie weer doen nie aangesien ek liefde gevind het, maar ek sal dit beslis aanbeveel.”

Sy liefdesraad aan boere wat vir die volgende reeks wil inskryf, is eenvoudig. “Doen dit net! Dit is ʼn baie lekker ervaring en ʼn goeie platform om moontlik jou pasmaat te ontmoet.”

Hoewel boer Nelis, ʼn veeboer van Vaal Marina in Gauteng, se verhouding met Esmerélda dalk nie heeltemal uitgewerk het soos wat hy gehoop het nie, is hy steeds van mening dat die liefde altyd seëvier, “al verloor jy ʼn paar veldslae op pad na die uiteindelike oorwinning”.

Nelis sê hy het ook die Boer soek ʼn vrou-ervaring geniet, baie van homself en ander mense geleer en dat een keer genoeg is mits jy dit voluit aanpak.

Is daar iets wat hy anders sou doen? “Nee, ek het my hart en instink gevolg en ek berus daarby. ʼn Mens kyk mos vorentoe as dit is waarheen jy wil gaan, of hoe?

“My stukkie wysheid aan mense wat wil inskryf, is om dit net te doen. Doen dit voluit, want daar is net ʼn upside.”

Tyson en Alri (Foto: Verskaf)

Tyson, die Engelse boer wat vanjaar se gewildste deelnemer was nadat hy verreweg die meeste briewe van hoopvolle vroue reg oor die land ontvang het, se oë blink steeds met Alri aan sy sy.

“Ja, die liefde het beslis vir my gewen. Ek en Alri gaan al vyf maande uit sedert Boer Soek ʼn Vrou klaargemaak het en dit gaan goed sover.”

Tyson verklap dat dit eintlik nie vir hom so ʼn aangename ervaring was om aan die program deel te neem nie.

“Dit is moeilik om te verduidelik, maar ek het nie van al die kameras en onderhoude gehou nie. Daar was baie druk op ons en die tyd was min. Ek sal dit nie weer doen nie, maar dit het liefde oor my pad gebring. So ja, dit het gewerk, maar ek het nie van die proses gehou nie.”

Sou boer Tyson dit anders gedoen het as hy kon? Nee, sê hy, hy was gelukkig met die manier waarop hy dit gedoen het en die program benader het.

“Ek het dit van die begin af gedoen met die hoop om ʼn vriendskap te kry wat in iets meer kan ontwikkel en ek het daarby gehou. Dit het vir my gewerk.”

Ook sy liefdesraad is ernstig en op die man af. “As iemand wil inskryf om liefde te vind, is dit die moeite werd, maar as jy net daar is vir die publisiteit, dan doen jy dit vir die verkeerde redes. As jy die kans wil vat, gaan daar baie moontlikhede wees om iemand te ontmoet.”

Boer Petré van Vierfontein in die Vrystaat en sy Lourize koer behoorlik. “Ek het gekry waarna ek op soek was en ons verhouding groei by die dag,” sê hy.

“As ek die kans kry om weer aan so iets deel te neem, sal ek dit sonder twyfel weer doen. Ek het soveel oor myself geleer, soveel mense leer ken, vriende gemaak, gelag, gedans, piekniek onder die sterre gehou, geleer wyn drink (aangesien al my gekose dames van die Kaap was), mooi plekke gesien en natuurlik my potensiële trouvrou ontmoet.”

Petré sê hy is tevrede met hoe dinge uitgewerk het en dat hy nie noodwendig iets anders sou wou doen nie, maar voeg skertsend by: “Behalwe om die meisies eerder op ʼn mooi warm somersdag te laat swem en nie in die winter nie.”

Op die vraag oor liefdesraad antwoord Petré dat dit belangrik is om negatiewe kommentaar te kan aanvaar en aan te beweeg.

“Jy moet op ʼn plek in jou lewe wees waar jy presies weet wie en wat jy is en waarna jy soek. Wie weet? Jy mag dalk net so gelukkig soos ek wees om liefde te vind.

Lourize en boer Petré. (Foto: Verskaf)

“Ek sal dit vir enige enkellopende boer aanbeveel. Dit is ʼn vreeslike lekker proses. Om meer van jouself te leer, moet jy buite jou gemaksone beweeg.”

Die res van die toptien‑boere-deelnemers het ook die reünie bygewoon: Mary-Lou, Gerhard, Carel en Hannis het almal enkellopend opgedaag.

Mary-Lou, ʼn wynboer van die Paarl en die enigste vrou in die top-10, moedig boere aan om met ʼn oop gemoed in te skryf. “Jy het niks om te verloor nie. Ek het nuwe vriende gemaak en pret gehad. Dit maak dit die moeite werd selfs al ontmoet jy nie ʼn lewensmaat nie.”

Gerhard, die wild- en skaapboer van Beaufort-Wes, sê hy het die ervaring in sekere opsigte geniet, maar hy twyfel of hy weer so iets sal doen.

Boer Carel van Perdekop in Mpumalanga glo liefde is ʼn nodig lewensles. “Baie keer werk dit nie, al probeer jy jou bes. Met vertroue in die Here weet ek wel dat daar êrens iemand spesiaal is wat vir my wag.”

Vat die kans op liefde en wees net jouself, is sy raad aan boere wat dit oorweeg om in te skryf. “Plaas jouself buite jou gemaksone en dan leer jy sommer baie vinnig iets van jouself ook in die proses.”

Hoewel die liefde nie aan boer Hannis van Brakfontein in KwaZulu-Natal se deur geklop het nie, weet hy nou meer van die liefde.

“Dit was ’n belewenis wat ek vir niks sal veruil nie, ongeag die uitkoms. Dit is iets wat ek enige dag weer sal doen en beslis sal aanbeveel.

“My raad aan ander boere is om hulle nie te veel aan ander mense te steur nie en net jou eie kop te volg. Negatiewe kommentaar sal daar altyd wees, maar mens moet jou net nie daaraan steur nie.”

Nuwe reeks

Hubare Suid-Afrikaanse boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, kan deelneem aan die 15de seisoen. Dié reeks sal in Januarie volgende jaar uitgesaai word.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel die vervaardigers, Wolflight, by 076 600 6090;
  • Stuur ʼn e-pos na [email protected]

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 5 Mei 2022 bereik.
  • Hou kykNET se sosiale media of die media dop vir die aankondiging oor 2023 se toptien‑boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Die 15de reeks sal van Januarie 2023 op kykNET uitgesaai word.
  • Hou Maroela Media dop vir nog opwindende Boer soek ʼn vrou-nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannelie ·

Kyk nou net vir boer Johan en Esmerelda. Die liefde het gewen.

Jaco ·

Ek het al na van dié reeks se episodes gekyk: deel van die reeks is dat elke boer wys hoe lyk sy plaas, waarmee boer hy en waarmee is hy besig elke dag. Dis net ‘n ope uitnodiging wat skree: onteien my eendag sonder vergoeding. Dieselfde met TV reekse soos Grootplaas en Megaboere. Moenie dink daars geen Afrikaanssprekendes in die ANC, EFF en BLF nie. Hulle kyk ook TV en baie van hulle het ook DSTV. Wanneer gaan Kyknet en ons mense leer om hulself nie so bloot te stel nie?

...M... ·

Ek lees niks raak van Boer Albertus nie?
Ek wil my dood lag vir hom en sal graag wil weet of hy en daai meisie nog saam is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.