Liefde gedy vir ‘Boer soek ʼn vrou’ se Hentie en Hantie

Boer Hentie en sy Hantie. (Foto: Verskaf)

Dit was so hittete of die gewilde Boer soek ʼn vrou-paartjie, boer Hentie en sy Hantie, se verhouding het skipbreuk gely nog voordat dit begin het.

Hentie (51) het verlede jaar kykers van die 12de seisoen van dié kykNET-werklikheidsreeks op die punte van hulle stoele gehad toe hy prontuit teenoor Leah, destyds die aanbieder van die program, erken het dat hy vir Hester sou kies – dit nadat sy self besluit het om die plaas te verlaat.

Ten spyte van dié erkenning het Hantie (48) kykers ʼn sug van verligting laat slaak toe sy vir Hentie nog ʼn kans gegee het en vandag is dié paartjie nog dolgelukkig.

“Ons het nie pyne nie,” sê Hentie aan Maroela Media. “Dit gaan regtig baie goed. Hantie geniet dit verskriklik baie hier op die plaas en het só goed hier aangepas.”

Hantie het in Desember die skuif van Pretoria na die rooibosteeplaas op Clanwilliam in die Wes-Kaap gemaak waar Hentie bestuurder van die Elandsberg-teeverwerkingsaanleg is. Sy was skaars ʼn paar maande op die plaas toe die nasionale inperkingstydperk in Maart ingestel is weens die wêreldwye koronaviruspandemie.

“Die inperking het uiteraard sy uitdagings gehad, maar wat my en Hantie betref het dit ons eintlik goed gedoen. Ons kon soveel meer tyd saam deurbring, want ons kon voorheen eintlik net naweke behoorlik kuier,” verduidelik Hentie.

Hantie is werksaam as boedelberedderaar by ʼn prokureursfirma op die dorp. Wanneer hulle nie werk nie, geniet hulle dit om op die buurplaas by boer Willem Pool en sy verloofde, Sanel Prinsloo, te kuier. Dié paartjie, wat ook in die 12de seisoen van die reeks te sien was, het in Julie verloof geraak op die plaas Langbergpunt naby Clanwilliam.

Boer Hentie en sy Hantie. (Foto: Verskaf)

“Ons maak ook gereeld plan om by die kinders, veral dié wat naby is, te gaan kuier,” sê Hentie. Hy het twee dogters, Charlise (25) en Delanie (22), en Hantie het ook twee kinders, ʼn seun JD (28) en dogter Janneke (25).

Hentie en Hantie het albei ná huwelike van 23 jaar deur egskeidings gegaan. Daarom het hulle nie enige druk op hulle om binnekort voor die kansel te staan nie, sê hy.

“Ons praat daaroor, maar ons is nou al ouer en wyser en is regtig nie haastig nie. Ons beplan om permanent bymekaar te wees, so miskien sal iets in die ingewing van die oomblik gebeur. Ons het nog twee kinders wat moet trou en ons wil nou eers vir die jongmense ʼn kans gee,” lag Hentie.

Hy vertel dat mense hulle steeds gereeld voorkeer om geselsies aan te knoop as hulle op die dorp herken word.

“Ons kan nie regtig by ʼn plek instap sonder dat ons trompop geloop word deur iemand wat met ons kom gesels asof ons al jare bevriend is nie, maar ons gee nie om nie. Dit is vir ons lekker om vir mense te kan sê en te kan wys dit gaan goed met ons.”

Die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou sal van Donderdag 21 Januarie 2021 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word. Marciel Hopkins is vanjaar die aanbieder van die reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.