Liefde klop ook aan boer Déan se deur

Boer Déan en Megan Wille is nou ‘n paartjie. (Foto: Instagram/Déan Botma)

Kykers van die 13de seisoen van die TV-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou was verbaas en selfs geskok toe boer Déan Botma die blondekop-balletdanser Megan Wille eerste van die plaas af huis toe gestuur het.

Duidelik het aanhangers toe al iets gesien wat Déan nie destyds besef het nie, want vandag is dié twee Nelspruiters ʼn paartjie.

Déan, wat onlangs permanent na George in die Wes-Kaap verhuis het, vertel Megan het saam met hom die trekkery aangedurf om hom te help uitpak en om sy voete te vind. Sy gaan egter oor ʼn paar dae weer terug Nelspruit toe, waarna hulle ʼn langafstandverhouding sal aanpak.

“Dit gaan baie goed met ons. Sy het eers ʼn paar dinge wat sy in Nelspruit moet afhandel, maar die uiteindelike doelwit sal wees dat sy haar by my in George aansluit.”

Hy sê hulle hou daarvan om tyd saam deur te bring in koffiewinkels en restaurante en geniet dit om saam te gaan stap. “Megan hou nie van stilsit nie, so ons is altyd op pad iewers heen.”

Volgens Déan, wat met makadamianeute by Nelspruit geboer het, is dit Megan se mooi hart wat haar na hom toe aantrek.

“Sy het ʼn verskriklike klein hartjie en wil nie mense in die steek laat nie. Sy het ʼn baie sagte kant en hou nie van konflik nie. Sy stel dikwels ander mense bo haarself en dit gee my soms grys hare.”

Déan en Megan bestee soveel moontlik tyd saam. (Foto: Instagram/Déan Botma)

Hy herinner kykers wat kritiek in die sosiale media lewer oor die kwessie dat hy van die begin af “ʼn fout begaan het” deur vir Megan eerste huis toe te laat gaan daaraan dat hulle nie in sy skoene was nie.

“Ek het met ʼn vooropgestelde idee oor wat ek wil hê in die proses ingestap en van die begin af geweet watter twee vroue beslis plaas toe sal gaan. Dit was toe ook die twee vroue wat toevallig laaste op die plaas oorgebly het.

“Ek en Marné [wat laaste op die plaas oorgebly en saam met hom die reünie bygewoon het] het baie goed oor die weg gekom en dinge het uitgespeel soos wat dit het. Ek was egter baie deurmekaar toe Megan ook op die plaas was, dermate dat ek die vervaardigers gevra het of al drie nie tot die einde van die week kan aanbly nie.”

Hy en Marné het voor die reünie al besluit om net vriende te wees en die liefde het intussen aan sy en Megan se deure kom klop.

Megan het dié foto van haar en Déan op Instagram gedeel. “Klou heeltemal te styf vas vir hom om my weer huis toe te stuur… ” het sy by die foto geskerts. (Foto: Instagram/Megan Wille)

Hy sê hoewel hy en Marné nie kontak het nie, volg hulle mekaar op Instagram en bly só op die hoogte van wat in mekaar se lewe aangaan. “Daar is geen kwade gevoelens van my kant af nie,” sê Déan.

Volgens Déan, wat al die wêreld platgereis en baie lewenservaring opgedoen het, was Boer soek ʼn vrou een van sy gunstelingervarings.

“Ek het ook nie gedink ek sal ooit so iets doen nie, maar dit was ʼn opbouende ervaring. Vir voornemende TV-boere sou ek net sê dat jy jou nie oor negatiwiteit moet bekommer nie. Mense gaan jou opsom ongeag hoe jy werklik is. Daarom is dit belangrik om dit bloot in die oomblik te geniet vir wat dit is.”

Nuwe reeks

Hubare Suid-Afrikaanse boere of plaasbestuurders, mans en vroue, kan deelneem aan die 14de seisoen. Dié reeks sal in Januarie volgende jaar uitgesaai word.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ʼn inskrywingsvorm kan aflaai.
  • Bel Marche Media by 079 335 5137.
  • Stuur ʼn e-pos na [email protected] (let wel: .media en nie .com of .co.za nie).

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 13 Mei 2021 bereik.
  • Hou kykNET se sosialemediaplatforms of die media dop vir die aankondiging oor 2022 se toptien boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Hou Maroela Media dop vir nog opwindende Boer soek ʼn vrou-nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
SomeOne

pragtig vir nog 2 van boer soek ‘n vrou