Liefde op unieke manier gevind met nuwe realiteitsreeks

Liefde vind is nie aldag maklik nie en daar is niks erger as om met ʼn mond vol tande op daardie eerste ongemaklike afspraak te sit nie – maar wat as jy die kat uit die boom kon kyk vóór jy ʼn voornemende pasmaat ontmoet?

Dít is presies wat kykNET se splinternuwe maatsoekprogram nou moontlik maak. Hoor my, sien my, soen my is ʼn nuwe realiteitsreeks op kykNET wat gebaseer is op die internasionale treffer-reeks Hear me, love me, see me.

Deur dié program kan jy en ʼn voornemende pasmaat mekaar beter leer ken deur ’n dag saam deur te bring sonder om mekaar ooit in lewende lywe te sien. “In die reeks sal deelnemers op ’n virtuele toe-oog afspraak met drie potensiële pasmaats gaan. Deur middel van die lyfkameras wat die pasmaats dra, sal die deelnemer ʼn blik op elk van hulle se lewens kry,” sê Suzaan Keyter, bemarkingsbestuurder van kykNET.

“Só leer ken die betrokke partye mekaar en kry hulle die geleentheid om te gesels en te flankeer sonder om ooit te sien hoe die ander een lyk!”

Aan die einde van die dag, ná drie toe-oog afsprake, besluit die deelnemer met watter pasmaat hy of sy meer tyd wil deurbring. Dan volg die oomblik waar die deelnemer vir die eerste keer die drie pasmaats van aangesig tot aangesig ontmoet.

Inskrywings vir Hoor my, sien my, soen my is van vandag af oop vir enige Suid-Afrikaners (bo die ouderdom van 18) wat op soek is na liefde. Voornemende deelnemers en pasmaats het tot 18 Augustus vanjaar kans om in te skryf deur die vraelys op kykNET se webwerf te voltooi en ’n kort video in te stuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.