Lindie Strydom se spruite volg in haar drama-voetspore

Lindie Strydom saam met haar man, Johann, en drie kinders Paul, Hugo en Nina. (Foto: verskaf)

Selfs al het haar oudste seun reeds as baba sy eerste verskyning op die kassie gemaak, het die aktrise Lindie Strydom nimmer as te nooit verwag dat ʼn loopbaan in die vermaakbedryf dalk vir dié spruit van haar sou wink nie.

Paul, wat tans in sy matriekjaar is aan die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes, was in ʼn onlangse episode van die kykNET-misdaadreeks, Projek Dina, te sien.

Sy verskyning in dié rol is ʼn blote uitvloeisel van Paul se ingebore liefde vir die kunste, vertel hy.

“Ek het nog altyd, van jongs af, ʼn liefde vir toneelspel gehad,” vertel die 18-jarige akteur aan Maroela Media.

“Die lekkerste deel van toneelspel is die mense. Dit sou nie bestaan het sonder die mense vir wie ons speel nie, en ek is baie dankbaar vir mense wat kom kyk en teater ondersteun.”

Paul tydens die verfilming van ‘Projek Dina’. (Foto: verskaf)

Lindie en haar man, Johann (49), het drie kinders: die 18-jarige Paul en hul 16-jarige tweeling, Nina en Hugo, en elkeen het ʼn liefde vir die verhoog.

Sy het hulle reeds van baie jonk af vir redenaarskompetisies en dramageleenthede ingeskryf.

“Dit was om ʼn vaardigheid te ontwikkel om gemaklik voor mense te kan praat, maar op ʼn lekker-luister manier sonder vreemde infleksies of onnatuurlike spraakritmes,” verduidelik Lindie aan Maroela Media.

“Hulle is vandag nie een bang om sommer heel eerste hulle hand op te steek om die klasmondeling agter die rug te kry nie en het elkeen sy of haar unieke styl ontdek wat net so hemelsbreed as hulle drie se persoonlikhede van mekaar verskil.”

‘n Foto wat destyds op die stel van ‘Egoli’ geneem is. (Foto: verskaf)

Dié 45-jarige aktrise het bekendheid verwerf toe sy as jong vrou deel geword het van die bekende sepie, Egoli. Dit is juis op die stel van dié sepie waar Paul sy eerste ontmoeting met die vermaakbedryf gehad het.  Hy het die rol van Adrian Edwards in Egoli vertolk.

“In daardie stadium was dit sommer net ʼn lekker praktiese reëling om my eie kind te kan gebruik en by my op stel te hê.”

Paul en sy sussie, Nina, het onlangs na die ATKV-Digitoneel se top-agt deurgedring, iets wat die Strydom-gesin beskou as ʼn heerlike geleentheid om saam met gevestigde akteurs in die vermaakbedryf te werk.

Dié twee Strydom-spruite het onlangs ʼn werkswinkel by Gold Reef City in Johannesburg bygewoon waartydens die akteurs JJ van Niekerk, Pietie Beyers, Solomon Cupido en Wilhelm van der Walt hul gelei het in die opvoering van monoloë.

Die leerders se onderskeie monoloë sal later vanjaar in die werklikheidsreeks, Gekies vir die kollig, te sien wees.

“Dit was een groot bederf en ʼn reuse-inspirasie-inspuiting, veral voor ons die ATKV-tienertoneelseisoen afskop,” vertel Lindie.

Paul sal vanjaar vir die laaste keer aan die ATKV-Tienertoneel deelneem, en dié keer sal dit saam met sy boetie en sussie wees. Hulle sal ook later vanjaar die verhoog deel tydens die skool se uitvoering van die alombekende The Wizard of Oz.

Paul en Lindie saam met Hannes van Wyk tydens hul kuier by ‘Kwêla’. (Foto: verskaf)

Paul het ook die tienertoneelproduksie, Slaansak, geskryf en sal die regie daarvoor behartig. Sy boetie, Hugo, sal ook in dié toneelstuk verskyn.

“Ek het ʼn ensemble van nege spelers en dit is ʼn fantastiese ervaring om met hulle te kan werk. Hulle is toegewyd en gedissiplineerd; hulle wil hierdie produksie op die planke sien werk,” vertel Paul.

“Die mooiste ding wat ek nog gesien het, is hoe ons ensemble hierdie teks vat soos ʼn geskenk en hulle eie maak.

“Ek raak vinnig verveeld as ek niks doen nie en hou daarvan om besig te bly. My jaar is propvol en hierdie produksie is ʼn groot deel daarvan.”

“Ek dink my kinders het heel onbewus van my agtergrond, hul eie stemme en paaie gevind, sonder om te voel dat hulle in sekere voetspore moes probeer volg,” sê Lindie.

Paul het die Nasionale Toneelkompetisie in 2022 gewen. Hier staan hy saam met Darryl Spijkers, kultuurhoof van Hoërskool Parel Vallei. (Foto: verskaf)

Tog het sy deur haar kinders se grootwordjare heen ʼn passie en liefde vir die kunste, wat van redenaars tot drama en debat strek, onder hulle aangewakker. Die waarde wat in gemak op ʼn verhoog of voor ʼn groep mense opgesluit lê, beskou sy as onvervangbaar.

“Nou voel dit vir my of hulle talent al onder my (eintlik baie beperkte) vermoë en (sonder enige formele drama-opleiding) penspersepsie uitgegroei het, en of ek hulle eintlik niks verder kan leer of wys nie,” vertel Lindie.

“Dit is ʼn goeie gevoel, want hulle het eienaarskap geneem en is rentmeesters van hulle talent. Ek geniet elkeen van my kinders en my gebed vir hulle is eenvoudig dat hulle met hulle lewe vir die Here sal dankie sê!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.