Teatergangers sal Llandi Beeslaar herken van die vele rolle wat sy al as aktrise op Suid-Afrikaanse verhoë vertolk het, terwyl aanhangers van die kykNET-program Die Republiek van Zoid Afrika haar sal ken as die komieklike karakter Mielie Senekal.
Beeslaar is eersdaags te sien in haar eerste rol in ʼn televisiereeks in die splinternuwe kykNET-reeks Ekstra Medium. Hierin vertolk sy die rol van Kleintjie, die beste skoolvriendin van die hoofkarakter Bertie Heyns.
Bertie (vertolk deur Wilhelm van der Walt) is in sy dertigs en is pas geskei. Hy is genoop om by sy suster, Sophia (vertolk deur Cintaine Schutte), en haar aweregse gesin aan te klop vir ʼn dak oor sy kop.
Hy bestee sy laaste spaargeld aan ʼn gebou met nostalgiese waarde, met die halfgebakte plan om dit in ʼn kroeg te omskep.
“Kleintjie is Bertie se vriendin al van skooldae af en is iemand op wie se knoppie hy nog altyd kon druk,” vertel Beeslaar oor haar karakter.
“Sy het nog nooit uit die dorp getrek nie, maar sy is nie bitter daaroor nie. Sy is ʼn baie rustige mens.”
Ander spelers in die reeks sluit in Marvin-Lee Beukes, Gerben Kamper, Dean Balie, Mila Guy, Amalia Uys en June van Merch. Die reeks is deur Beer Adriaanse en Retief Scholtz geskryf. Scholtz het ook aan reekse soos onder meer Alles Malan en Dwaalster geskryf.
“Retief kon dit reg kry om die ander kant van elkeen van die karakters na vore te bring,” sê Beeslaar oor die karakters in Ekstra Medium.
“Nie een van hulle is werklik soos wat hulle op die oppervlak voorkom nie. Episode na episode besef jy hulle is almal ʼn bietjie aweregs – net soos regte mense. Dit was lekker dat ons kon speel met karakters wat nie net een faset het nie. Daar is ʼn regte hart wat klop in elkeen van hulle.”
Sy voeg by dat dit ʼn uitdaging was om nie die rol van Kleintjie as ʼn stereotipe te speel nie. “Ek wou haar so eerlik as moontlik vertolk, want ʼn mens het die verteenwoordiging van alle soort karakters in die wêreld nodig. Daar is mense met alternatiewe lewens en om dit uit te beeld is ʼn gesonde oefening. Die grootste uitdaging was om dit ordentlik te doen.”
Die spoed waarmee hulle op die stel gewerk het, was aanvanklik vir dié teateraktrise ʼn groot aanpassing, bieg sy.
“Aan die begin was ek redelik senuweeagtig. Dit is my eerste rol in ʼn dramareeks; so dit was ʼn hele nuwe terrein vir my. Dit het gehelp dat ek saam met ongelooflike mense gewerk het wat ek al jare ken soos Wilhelm en Cintaine. Ek het baie veilig gevoel op die stel en Beer, wat die regie behartig het, was regtig baie geduldig met my.”
Een van haar persoonlike hoogtepunte op die stel was om saam met Juan-Christoff Smith, die jong akteur wat die rol van Ivan in dié reeks vertolk, te werk. Sy suster, die aktrise Carla Smith, is ook in die reeks te sien.
“Hy is ʼn ongelooflike slim outjie en ek het dit baie geniet om tyd saam met hom deur te bring op die stel. Hy het my interessante feite oor allerhande onderwerpe geleer.”
Hoewel sy die laaste paar jaar die aandag van Zoid Afrika-aanhangers getrek het as die pittige Mielie Senekal, het sy lank gesukkel om werk as aktrise te kry, vertel sy.
“Ek bedoel nie net ʼn paar maande nie – ek praat van jare,” beklemtoon sy. “Ek het gelukkig ʼn goeie vriendskap met Hugo Theart [onder meer artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees], wat oral waar hy kon vir my ʼn werkie aangebied het.”
Uiteindelik het sy werk gekry as produksie-assistent op die stel van Die Republiek van Zoid Afrika. Só het sy Carien Loubser, vervaardiger en regisseur van die program, ontmoet.
“Ek het die wêreld se respek en tyd vir haar gekry. Haar suster, die fotograaf Anelia Loubser, het in Carien se oor gefluister dat ek ʼn goeie sin vir humor en komedie het. Later het hulle net iemand in die agtergrond nodig gehad en uiteindelik het ek Mielie Senekal geword.”
Sy glo mense vind aanklank by Mielie omdat sy onbeskaamd haarself is. “Sy is ʼn ongeredigeerde weergawe van haarself. Dit is hoekom soveel mense van haar hou, want sy maak nie verskoning vir wie sy is nie.”
Dit is wat kykers ook uit Ekstra Medium kan neem, sê sy. “Dit vertel alternatiewe narratiewe, wat uitbeeld dat jy byvoorbeeld nie op 30 jou hele lewe uitgesorteer hoef te hê nie. Jou lewe en jou werk hoef nie soos almal anders s’n te wees nie. Dit gee die boodskap vir jongmense dat weet jy wat, jy is eintlik oukei en jy kan saam met die vloei gaan en wees net wie en wat jy wil.”
Ekstra Medium begin op 22 September om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.