Luister: Adam Tas vertel oor nuwe program vir jagters, hengelaars

Adam Tas (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Adam Tas, die bekende sanger en liedjieskrywer, sal eersdaags weer te sien wees as aanbieder van die splinternuwe jag- en visvangprogram, Byt en Buskruit.

Dié program, wat bestaan uit ses jag- en ses visvangepisodes, is ook die eerste program wat op die Afrikaanse stromingsdiens, Dapper Media, uitgesaai gaan word. Dapper Media is ʼn splinternuwe verspreidingshuis wat binnekort sy eie aanlyn vermaaknetwerk bekendstel.

Intekenaars van dié stromingsdiens sal gratis toegang hê tot ʼn legio Afrikaanse programme wat vervaardig word deur Dapper Media en Forum Films. Sodra jy ingeteken is, sal jy gratis toegang hê tot goeie gehalte inhoud in Afrikaans teen geen koste nie – al wat jy moet hê, is toegang tot die internet.

Tas is die voorsitter van die direksie van die Dapper Media. Hy vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media oor die eksotiese bestemmings wat hy besoek het tydens die vervaardiging van dié avontuurprogram.

“Ek word na die wonderlikste plekke oral in die wêreld gestuur. Ek droom al vandat die reeks Arende uitgekom het om St. Helena-eiland te besoek en dit is een van die bestemmings waar ek gaan visvang. Ons besoek ook Florida, Mosambiek, Mauritius en Namibië,” vertel hy.

In elke episode reis ʼn bekende gas saam met Tas en ná afloop van elke dag se avontuur word heerlik kos gemaak met die vangs van die dag en gesellig om die kampvuur gekuier. Kykers sal eerstehands kan sien hoe vis- en wildsvleisgeregte berei word en dié resepte sal ook eksklusief op Maroela Media beskikbaar wees.

“Ek is ʼn jagter wat hoofsaaklik jag vir die vleis en in ons huis eet ons wildsvleis. Die res van die karkas word geskenk aan Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-projek, waarvan ek ʼn ambassadeur is. Dit is wonderlike werk wat hulle met dié projek doen en tans word sowat 8 000 kinders daagliks gevoed deur die projek,” vertel Tas.

Adam Tas in Byt en Buskruit (Foto: Verskaf)

“Ek en William, die finansiële man van AfriForum, het eendag om ʼn kampvuur gesit en ons het daaroor gesels om ʼn program te maak wat jag en visvang kombineer. Hy het nie verder nodig gehad om my te oortuig toe hy sê ek kan kies waar ek in die wêreld wil gaan visvang nie,” lag hy.

Tas het al in die verlede sy lyf aanbieder gehou op programme soos Wild en Wragtig en Woema, maar verklap dat hy soms nog skrikkerig is vir ʼn kamera. “Ek het wel die vrees so deur die jare al gesystap en ek kyk nie meer vir die kamera nie, hy moet maar vir my kyk!”

Nog ʼn program waarmee Dapper Media en Forum Films tans besig is vir die stromingsdiens, is getiteld Kaalvoethelde. “Dit gaan oor die ou heldestories waarmee ek grootgeword het as kind. Dirkie Uys en Wolraad Woltemade en Racheltjie de Beer,” verklap hy.

“Dit was vir ons van die begin af baie belangrik om programme van baie goeie gehalte te vervaardig en die span wat ons gebruik, is uitstekend. Om by te hou tydens ʼn volspoedjagtog of in visvangomstandighede, avontuurgoed, en dit kunstig te laat lyk, verg nogal baie.”

Byt en Buskruit sien in September die lig op Dapper Media. Kliek hier om gratis op Dapper Media te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tilla ·

Dit is nou jammer. Dit gaan alweer net vir ‘n uitgelese groep mense wees want hoeveel ander veral pensionarise sal dit nie kan sien omdat hulle nie internet het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.