Luister: Ander sy van Francois te sien in ‘Op my eish!’

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

Vir die eerste keer is die akteur Francois Jacobs in ʼn rol waar hy homself speel en nie in die skoene van ʼn karakter staan nie.

Jacobs, wat bekend is vir flieks soos Kaalgat Karel, Vir die voëls en Pad na jou hart, is eersdaags op die kassie te sien in die tweede reeks van Op my eish! waar kykers saam met hom sy pad na liefde gaan volg.

In die nuwe reeks gaan Jacobs 15 vroue uit al die inskrywings kies, hulle in Johannesburg ontmoet en met elkeen ʼn blitsafspraak hê. Nie net sal kykers inskakel om te sien wie die gelukkige vrou is wat Jacobs se hart steel nie, hulle sal ook in die volgende vier weke vir Jacobs beter leer ken.

“Ek is nogal opgewonde en ʼn bietjie bang, maar meestal opgewonde om met die wêreld te deel wie Franna regtig is.

“Daar is so baie verskillende goed wat ek ook van myself geleer het. Ek het van voor af geleer hoe om vroue te hanteer as dames.

“ʼn Mens dink jy kom uit ʼn goeie huis uit en dat jy goed gemanierd is, maar elke persoon is so uniek en anders. Dit gaan daaroor om op te let en om te besef dat dit uiteindelik die klein goedjies is wat saak maak.”

Hy verklap in die Maroela Media-ateljee dat dit nogal intimiderend was om voor die kamera te verskyn en homself te wees. “Daar is nie ʼn jas of ʼn skoen wat jy aantrek of ʼn aksent wat jy bysit nie. Dit is die egte ek, en ja, dit is nogal vreesaanjaend.”

Dié boorling van Mbombela (Nelspruit) sê twee goed was vir hom van die begin af belangrik: dat die vroue weet waar hy vandaan kom en hoe die bedryf lyk waarin hy werk.

Hierdie seisoen word, anders as die eerste een, op verskillende dorpe in die Mbombela-omgewing geskiet.

Die komediant Schalk Bezuidenhout sal die akteur Francois Jacobs bystaan in sy soeke na liefde in die tweede seisoen van kykNET se ‘Op my eish’. (Foto: Verskaf)

“Ek kan nie te veel sê oor die avonture en wat op kykers wag nie, maar daar is hope opwinding wat voorlê,” sê Jacobs.

Net soos in die vorige reeks, waar die akteur Neels van Jaarsveld deur die akteur en aanbieder van die program, Henré Pretorius, ondersteun is, staan die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout dié keer vir Jacobs op sy reis na ware liefde by.

Jacobs vertel hy en Bezuidenhout het mekaar op stel van die Afrikaanse rolprent Kanarie ontmoet en dadelik bevriend geraak. Hulle paaie het weer gekruis tydens die verfilming van Kaalgat Karel, waarin Bezuidenhout die rol van Flip speel.

“Wat ek die meeste van Schalk tydens hierdie proses waardeer het, is sy eerlikheid,” vertel Jacobs. “Dit was lekker om iemand daar te hê wat van ʼn buiteperspektief daarna kyk. Schalk was beslis ʼn uitstekende wingman.”

Skakel vanaf Donderdag 14 April 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op my eish!. Die reeks sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.