Luister: ‘Fluiters’-speurdrama verweef fiksie en realiteit


Fluiters. Foto: www.kyknet.dstv.co.za

Fluiters. Foto: www.kyknet.dstv.co.za

Vergeet vir eers van die liefde en familiedrama en sit jou speurhoed op – kykers kan vanaf 12 April ʼn opwindende nuwe speurdrama uit die pen van die veelbekroonde Deon Opperman op die kassie verwag.

Die speurdrama, Fluiters, voer kykers weg na ’n onbekende wêreld, ’n onderwêreld wat skouers skuur met die werklikheid en ’n verraderlike net van intrige wat die helde dwing om diep in hul eie lewe te gaan soek na die krag, vindingrykheid en moed om te oorleef.

Dié reeks vertel die storie van ʼn suksesvolle IT-onderneming wat deur ’n korrupte regeringsamptenaar gekelder word, maar besluit om dit nie daar te laat nie. Die onderneming slaan terug in die naam van geregtigheid deur ’n sogenaamde Secure Drop-webwerf te skep, waar Fluiters bewyse van korrupsie kan lek sonder dat hul identiteit verklap word.

Alles verloop glad volgens plan tot hulle ’n geheime dokument ontvang. In dié dokument kry hulle die eerste snuf in die neus van ’n sameswering op die hoogste vlak tussen twee korrupte agente van die Suid-Afrikaanse State Security Agency (SSA), politici en agente van Isis – ’n sameswering met die doelwit om uraan in Suid-Afrika tot wapengraad te verryk vir uitvoer na die Midde-Ooste.

Jacques Bessenger, wat die rol van die held Rudolf du Preez vertolk, sê Fluiters herinner aan politieke onregverdigheid en bring die vraag na vore of die publiek verantwoordelikheid in eie hand moet neem. “Die reeks is anders as ander programme. Dis ’n reeks wat moeilike kwessies aanpak wat Suid-Afrikaners elke dag in die gesig staar. Dis min dat mens aksiebelaaide Afrikaanse programme soos dié gaan teëkom,” het hy gesê.

Marius Weyers, ʼn boef, sê kykers kan ʼn aksiebelaaide storie verwag wat hulle op die punt van hul stoele gaan hou. “Deon Opperman het die reeks meesterlik geskryf. Baie van die feite in die storie is die waarheid. Dit laat mens dink jy is nêrens meer veilig nie en hoe blootgestel mens is. Feite word op ʼn fiktiewe manier deurgegee, maar dit het baie noue skakeling met die werklikheid,” het hy gesê.

Met akteurs soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Jacques Bessenger, Marisa Drummond, Neels van Jaarsveld, Kim Syster, Fezile Mpela en Wayne van Rooyen.

M-Net se direkteur van Afrikaanse Kanale, Karen Meiring, sê kykNET sien uit na die reeks.  “Ons probeer deurentyd ʼn verskeidenheid van genres aan ons kykers bied om ons eie unieke stories te bly vertel,” het sy gesê.

Fluiters is te sien vanaf 12 April om 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Reyn ·

Ek sal graag wil weet wie die musiek doen en wie die kunstenaar is.musiek is great.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.