[Luister] ‘Getroud met rugby’-sepie binnekort op die kassie

Louis van Niekerk en sy vrou. Foto: Louw Mulder

Louis van Niekerk en sy vrou. Foto: Louw Mulder

Die gewilde reeks, Getroud met rugby, wat as dramareeks op kykNET te sien was, is vanaf 4 April elke weeksaand as nuwe sepie op die kassie. Die bekendstelling van dié sepie het laas week in Johannesburg in Gauteng plaasgevind.

Karen Meiring, M-Net: Direkteur van Afrikaanse kanale, het gesê dié besluit het gevolg ná ’n deeglike tenderproses wat kykNET noukeurig oorweeg het. “Kykers se groot entoesiasme vir dié reeks het egter die deurslag gegee en uiteindelik was dit ’n eenparige besluit om hierdie gewilde drama in ’n sepie te omskep met halfuur lange episodes,” het sy gesê.

Meiring het ook gesê sy is baie opgewonde oor die nuwe era van Getroud met rugby. “Rugby lê die meeste Suid Afrikaners so na aan die hart en daarom het dié sport ʼn leefwêreld rondom hom wat altyd relevante en boeiende stories sal vertel.”

Deon Opperman, wat die dramareeks in ʼn sepie omskep het, vertel verskeie elemente, soos onder meer buiteskote, maak die sepie anders as ander sepies op die kassie. “Ons vertel die storielyne vinniger wat verseker dat die storie meer intens is en asof dit die regte lewe is. Alles en almal is ook vreeslik glansryk,” het hy gesê.

Opperman vertel kykers kan boeiende stories verwag. “Kykers kan uitsien na ingrypende stories, liefdesdriehoeke, aktualiteit en natuurlik pragtige lywe,” het hy geskerts.

Althus Theart, wat die rol van Faffa vertolk, sê daar is egter ook verskeie ooreenkomste met die karakters en die storielyn. “Dis ʼn dramareeks wat hom vermom het as ʼn sepie. Dieselfde intriges en dramas kan verwag word met nuwe gesigte en lekker nuwe storielyne. Dis dieselfde reeks wat aangebied word as sepie.”

Nadia Beukes, wat die rol van Iva vertolk, sê ʼn sepie oor rugby is so eie aan Afrikaans en Afrikaners en daarom sal dié storie ʼn treffer wees. “ʼn Sepie oor rugby is nog nie gedoen nie. Dis iets wat so eie is aan Suid-Afrika en aan Afrikaans. Dit is ‘geskiedenis’ en ek sien daarna uit.”

Getroud met rugby is van 4 April om 18:30 elke weeksaand op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Sal dit werklik ‘n suksesvolle sepie wees? Net tyd sal leer!

Sias Jansen van Vuren ·

Met al die advertensies en ongepaste onderbrekings word daar geen spanning geskep nie. Boonop is elke episode baie kort in die half uur tydgleuf. Mens sal miskien eers ‘n opsomming kan maak na ‘n week se episodes. Tot op hede laat die Sepie my koud. Die oorspronklike b Getroud Met Rugby was baie verre beter en het dit reg gekry om in een episode se tyd meer spanning te wek en was baie meer opwindend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.