Luister: Heinz Winckler, van ‘Idols’-wenner na pastoor met passie vir huwelike

Heinz Winckler. (Foto: Facebook/Heinz Winckler)

In 2002 was Heinz Winckler as jong Matie-student die eerste wenner van die Suid-Afrikaanse weergawe van die wêreldbekende sangkompetisie Idols.

Twee dekades later is hy steeds een van Suid-Afrika se gewildste sangers en ook pa van vier woelwaters, eggenoot vir die voorkomskonsultant en entrepreneur Aletté-Johanni en deesdae pastoor van sy eie bediening, die LoveKey-kerk in Somerset-Wes.

Winckler vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media die aand toe hy Idols gewen het, was tot dusver een van die grootste oomblikke van sy lewe.

“Daar was uiteraard geen sekerheid oor wie gaan wen nie; so ek was heeltemal verbaas. Jy besef egter nie eintlik presies hoe groot die oomblik is totdat jy jare later terugkyk daarop nie. Dit was beslis ʼn hoogtepunt van my lewe,” sê hy.

Hy het besluit om die loopbaan in die regte wat hy as LLB-student aan die Universiteit Stellenbosch beplan het, opsy te skuif om voltyds musiek te maak.

Heinz Winckler het in 2002 die eerste wenner van ‘Idols SA’ geword. (Foto: Skermgreep uit YouTube-video)

“Ek het nie aan Idols gaan deelneem om bekend te raak nie. Ek het deelgeneem om ʼn kontrak by ʼn platemaatskappy te kry, want dit is wat dit vir jou moontlik maak om musiek te maak en vertonings te doen. Bekendheid kom saam met die musiek, maar dit was nie die fokus nie. Ek wou musiek maak en ek wou ʼn loopbaan hê wat volhoubaar is.”

Sy eerste enkelsnit, “Once in a lifetime”, was ʼn massiewe treffer en is gevolg deur snitte soos “Can’t lose with you”, “24/7/365”, “Dis daai 20 minute”, “Ek kan weer in liefde glo” en “1 001 Soene”.

Hy sonder sy toer in 2005 saam met die Ierse popgroep Westlife uit as ʼn hoogtepunt in sy musiekloopbaan.

“Hoewel dit nie my eie toer was nie, kon ek my droom bewaarheid om my eie liedjies voor ʼn reuse-gehoor saam met ʼn orkes te speel en die gehoor sing my liedjies saam. In Johannesburg in die Coca-Cola Dome het 18 000 mense my liedjies saam gesing – dit was ʼn ongelooflike hoogtepunt.”

Hy het ook die geleentheid gekry om saam met die sangeres Charlize Berg die volkslied te sing by die opening van ʼn rugbywedstryd teen Nieu-Seeland. “Dit is ook iets waaroor ʼn mens as sanger droom.”

Heinz en sy vrou, Aletté-Johanni. Hulle is in 2006 getroud. (Foto: Facebook/LoveKey Church)

Aan die einde van 2013 het hy en Aletté-Johanni, met wie hy in 2006 getroud is, gevoel daar is ʼn draai in die seisoen in hulle lewens.

“Ons het ervaar die Here laat ons vier groot besluite neem wat ʼn groot invloed op ons lewens en geldsake gehad het. Die eerste was om Kaap toe te verhuis, die tweede was dat ek my kontrak met my platemaatskappy sou beëindig en ʼn onafhanklike kunstenaar word, die derde een was om ʼn huis te bou wat ons nie regtig kon bekostig nie en die vierde was om die skuif te maak van sekulêre musiek na geestelike musiek,” verduidelik hy.

“Dit was as’t ware ʼn proses om ontslae te raak van al die wêreldse goed waaraan ʼn mens nog vasgehou het.”

In 2016 het hy sy visier heeltemal op geestelike musiek gestel en by kerke begin optree, die aanbidding gelei en sy getuienis oor onder meer Idols gedeel. Hy het uiteindelik besluit dit is waar sy passie volkome lê – by die bediening.

“In 2018 het ek vir die Here gesê ek voel nie ek bereik genoeg mense nie. Nadat ek baie gebid en gedink het, het ek die idee gekry om ʼn reisende bediening te begin wat saam met skole en kerke werk in omgewings waar jy naweke aanbiedings het.

“Ons wou gesinne bereik, want ek en my vrou het ʼn hart om gesinne en huwelike heel en gesond te sien en die plan was om onder meer huwelikseminare in 2020 aan te bied. Dinge het aanvanklik baie goed gelyk, maar toe tref die pandemie en die inperking en alles verander weer,” vertel Winckler.

Heinz, Aletté-Johanni en hulle kroos. (Foto: Facebook/LoveKey Church)

“Van 2017 af al het die Here ʼn saadjie by my geplant dat ek ʼn kerk gaan plant. Ek het nie geweet wanneer en hoe nie, maar ek het geweet dit gaan kom, al het die idee my vreeslik senuweeagtig gemaak. Die idee het konstant gegroei en toe alles in 2020 op sy kop en deurmekaar is, het die Here steeds met my gepraat oor die kerk wat ek moet plant.”

In Oktober, nadat hy en sy vrou twee suksesvolle aanlyn huwelikseminare aangebied het, het hy ervaar die Here sê vir hom die kerk wat hy moet stig, is nie deel van ʼn bestaande organisasie nie.

“Ek het vir twee dae weggegaan van die huis af om hieroor te bid. Die Here het al my vrae en bekommernisse beantwoord en vir my ʼn duidelike prentjie gegee van wat moet gebeur. Ek het in my geestesoog die datum 22 November gesien en geweet dit is die dag waarop ek my eie kerk moet begin.”

Dit is hoe die LoveKey-kerk uiteindelik gestalte gekry het, sê hy. “Dit is absoluut ʼn familieding. Ek kan nie sien hoe kerk nié ʼn familieding kan wees nie. Ek en my vrou lei meeste Sondae saam die aanbidding en ons is mal daaroor. Ek voel ek is in die rol van my lewe en sien uit na wat voorlê.”

Die omslag van Heinz en Aletté-Johanni se boek, ‘Kom ons praat oor die huwelik’.

Heinz en Aletté-Johanni het onlangs die boek Kom ons praat oor die huwelik deur Lux Verbi uitgegee. In dié boek word geloofsbeginsels met hulle 15 jaar se huwelikservaring verweef met die doel om ander paartjies vanuit ʼn Christelike perspektief te ondersteun.

Volgens Heinz is die terugvoer wat hulle oor die boek ontvang uiters positief. “Ons is ontsettend dankbaar oor die terugvoer. Die boek het ʼn unieke aanslag en is op die man af – op ʼn goeie manier – en dit daag ʼn mens uit.”

Die LoveKey-kerk se dienste word Sondae om 09:30 aangebied by Laerskool Somerset-Wes se nasorgsaal met die ingang in Shortstraat. Vir meer inligting stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek die webwerf. Die dienste word ook deur YouTube en Facebook gestroom. Die kerk kan ook op Instagram gevolg word.

  • Lees meer hier oor vorige Idols SA-deelnemers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Althes ·

Baie voorspoed wens ek jul toe. Die Here seën altyd die wat gehoorsaam is aan Hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.