Luister: Henrico Coetzer gryp die kollig aan

Henrico Coetzer.

Aanhangers van die kykNET-talentkompetisie Maak my famous was warm onder die kraag toe een van die gunstelingsangers, Henrico Coetzer, uitgestem is nadat hy na die top-8 deurgedring het.

Coetzer se splinternuwe enkelsnit, “Hoor my woorde”, is pas uitgereik. Hy wou graag dié enkelsnit uitreik om sy ontstoke aanhangers te paai, vertel Coetzer (27).

Hy was self uit die veld geslaan is toe hy hoor hy is uitgestem, bieg hy. “Die aanhangers was ontsteld, want dit was ʼn goeie aand vir my en ek het self gedink dit was een van my beste optredes. Ons het egter almal van die begin af geweet daar kan net een wenner wees.

“Een van die mentors, Alistair Izobell, het vir my gesê ek moet myself kans gee om te treur oor my verlies, maar daarna moet ek opstaan en aangaan. Ek het teen die volgende middag besluit dit is nóú my tyd en ek wil vir die aanhangers wat só ontsteld was iets gee.”

Hy het die liedjieskrywer Vaughan Gardiner, wat tans in Doebai woon, gekontak om vir hom ʼn liedjie te skryf.

“Ek het vir hom gesê ek voel dit is nou my tyd om op te staan en ʼn voorbeeld te wees vir ander kunstenaars. Hy het ʼn ongelooflike liedjie geskryf wat presies my visie in woorde en musiek vasgevang het.”

Die sanger lag as hy vertel dat hy skoon vergeet het hy het ingeskryf vir Maak my famous en was skoongeboul toe hy die oproep ontvang dat hy deurgedring het na die top-48 uit sowat 9 000 inskrywings.

“Ek is so dankbaar vir die ervaring op die program, want ek het soveel geleer. Dit was emosioneel uitputtend met tye, maar ek het die geleentheid gehad om saam met mense soos Emo Adams en Tarryn Lamb te werk. Ek sal dié ongelooflike ervaring vir niks verruil nie.”

“Hoor my woorde” is ʼn pragtige popliedjie met ’n ritmiese aanslag waarmee Coetzer graag vir die land wil wys wie hy is en dat hy vuur en vlam is oor die toekoms.

“Dit is ’n lekker-luister Afrikaanse liedjie met ʼn diep storie. Dit gaan oor hoe dit nóú my tyd is. Al was daar teleurstelling, veral toe ek uit Maak my famous gestem is, gaan dit my nie onderkry nie. Ek is reg vir die musiekbedryf en gaan alles insit om die beste weergawe van myself te wees wat ek kan.

Henrico Coetzer. (Foto: Facebook)

“Ek het my lewe lank vir ander kunstenaars geopen, maar nou kom die gehoor om vir my te kyk. Ek was altyd in die agtergrond, maar die kollig gaan nou op my skyn.”

“Hoor my woorde” is sy derde enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige treffer, “Soos reën”, wat bo-aan verskeie radiostasies se treffersparades gepronk het. Dit is ook sy eerste nuwe vrystelling na die uitreiking van sy tweede album, Dis wie ek is, in 2015.

Coetzer sing en speel klavier al sedert sy skooldae en het altyd geweet dat hy eendag ʼn musikant wou word en het gereeld vertonings aanmekaar gesit wat hy en sy sussie moes opvoer. Hy het sangopleiding gekry by die sanger Chris Coetzer (Drie Tenore) en sedert hy 18 jaar oud is open hy gereeld vertonings vir gewilde sangers soos Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan en Corlea Botha. Hy was ook deel van die ensemble in die musiekblyspel Droomkind.

Hoewel hy voorheen al aan verskeie talentkompetisies deelgeneem het, is hy bly dat hy nooit moed opgegee het nie en besluit het om in te skryf vir Maak My Famous, wat hy beskou as een van die hoogtepunte van sy musiekloopbaan.

“Ek het nooit in my wildste drome verwag ek sou deurdring na die top-10 van die kompetisie nie, maar ek is so bly dat ek het want dit was ’n ongelooflike avontuur. Só het ek die ware Henrico ontdek, geleer wie en wat ek is en waarheen ek op pad is. Die musiekbedryf is nie maklik nie, maar alles is moontlik as jy deursettingsvermoë het en bereid is om hard te werk.”

“Hoor my woorde” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.