Luister: ‘Kokkedoor’ se Joubert nog lank nie klaar gebraai

Joubert Spies. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Alhoewel Kokkedoor Vuur & Vlam se Joubert Spies ná die halfeindronde van die kompetisie sy voorskoot en braaitang moes ophang, sê dié braai-liefhebber dat hy vandag meer as ooit tevore braai.

Joubert, wat in ʼn professionele hoedanigheid ʼn rekenmeester van Pretoria is, glo dat Kokkedoor Vuur & Vlam hom gehelp het om op ʼn ander manier na die lewe te kyk.

“Ek is ʼn besigheidsman, vir my is baie goed óf wit óf swart. Ek het geleer om nie so hard op myself te wees nie,” vertel Joubert (38) in Maroela Media se ateljee.

“Tot vandag toe droom ek oor daardie harde aartappel en gebrande groenteballetjie [wat hom en sy spanmaat Cindy Menigo huis toe gestuur het]. Soms is mens geneig om nie na jou sukses te kyk nie, en net jou swakpunte raak te sien. Ek dink dit is belangrik om jouself erkenning te gee vir dit wat jy bereik het.”

Joubert het byna nie vir die kompetisie ingeskryf het nie; dit was sy skoonsussie en haar dogter, Lara van der Merwe, wat hom uiteindelik oortuig het. In daardie stadium het Joubert en Lara eintlik as ʼn span ingeskryf, hoewel dié plan nie die lig gesien het nie.

Joubert het bewoë geraak nadat Lara huis toe gestuur is. (Foto: verskaf)

Omdat Lara voedselwetenskappe studeer het, het hulle aanvanklik gedink dat sy as kinkelbraaier sou kon inskryf. Die reëls van die kompetisie het egter vereis dat kinkelbraaiers ʼn sjefkwalifikasie moes hê, wat uiteindelik beteken het dat Lara nie as ʼn kinkelbraaier gekwalifiseer het nie. Alhoewel dié familielede se plan om as ʼn span in te skryf daarna gesneuwel het, is nie een van hulle vandag spyt dat hulle uiteindelik as twee onthoubraaiers teen mekaar meegeding het nie.

“Dit was ʼn baie natuurlike ding om saam met Lara te braai,” vertel Joubert.

“Ek het haar sien grootword, dit was soos om my eie kind daar te hê. Sy het ʼn baie groot toekoms voor haar.”

Wanneer Joubert vandag terugdink aan elke braai-uitdaging wat hy deur die loop van die kompetisie moes aanpak, staan daar beslis een vir hom uit: die groentebraai-uitdaging.

Alhoewel daar telkemale die spot met hom gedryf is omdat hy nie ʼn groente-liefhebber is nie, sê hy dat dié uitdaging ʼn hele wêreld vir hom ontsluit het. Dit is juis die groentebraai-tegnieke wat hy in die kompetisie aangeleer het, wat hom vandag nog bybly.

Joubert en Gert. (Foto: verskaf)

Toe 20 braaiers 13 weke gelede by die Kokkedoor Vuur & Vlam-stoor ingestap het, was hulle vreemdelinge. Vandag, beskou Joubert sy mede-braaiers as goeie vriende, en hy het selfs al ʼn keer of wat weer saam met van hulle gebraai.

“Almal het gesien hoe ons teen mekaar kompeteer het. Wat mense egter nie gesien het nie, is dat ons saam in huise gebly het en elke aand gebraai het, selfs al het ons deur die dag ook gebraai,” onthou hy.

“Omdat dit ʼn braaiprogram is, is almal se kultuur baie soortgelyk. Almal wil braai en samesyn hê. Ek het baie oulike mense ontmoet waarmee ek goeie vriende geword het.”

Vir Gert en Karen, wat vroeër vandeesweek as die algehele wenners van die kompetisie aangewys het, wens hy net voorspoed toe. Hy het met elkeen ʼn hegte vriendskap gevorm, en weet dat hulle elkeen nog groot dinge in hul lewens en loopbane gaan vermag.

“Ek is baie bevoorreg om hulle te ken, ek is super trots op hulle en bly dat ek saam met hulle kon werk.”

Alhoewel hy nie sy droom om die kompetisie te wen, bewaarheid het nie, dra hy vandag steeds ʼn allemintige liefde vir dié kompetisie én braai in sy hart.

“Jy gaan nie altyd wen nie, maar gee net jou beste. As jy dit die dag nie maak nie, tel net jou kop op en gaan aan.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Joubert Spies van Kokkedoor Vuur & Vlam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.