Luister: Mia Spies oor passie vir nuus, SA

Mia Spies kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die dinamiese joernalis en aanbieder Mia Spies staan elke oggend met ʼn glimlag uit die bed uit op – al gaan die wekker soms vir dae aaneen elke oggend om 05:00 af.

Die rede vir haar volgehoue vrolikheid is die feit dat sy uiters passievol oor haar werk as professionele joernalis is. Sy vervul dié rol al die afgelope dekade en deesdae is sy ook te sien as aanbieder van die kykNET-nuusprogram Wie’s nuus.

Haar podsendingsprogram, Nuus met Spies, hou luisteraars ook op hoogte van die jongste plaaslike en internasionale nuusgebeure, aktuele sake en brandende kwessies.

Spies vertel in die Maroela Media-ateljee dat sy doen waarvoor sy lief is en dat sy weet sy maak ʼn verskil, en daarom hoef sy nie soseer energie van êrens te put om haar drome na te jaag nie.

“Ek leef werklik my passie uit. Alles wat ek doen en oral waarheen ek gaan, en of ek nou op die televisie of oor die radio gesels, is vir my ongelooflik lekker.”

Op eie bodem is sy ʼn gerekende nuuskenner en kry daagliks te doen met uiteenlopende stories. Dit is egter die stories van hoop en bemagtiging wat haar naaste aan die hart lê.

“Goedvoelstories is vir my só lekker om te vertel. Die stories wat wys hoe mense na mekaar uitreik en regtig ʼn verskil wil maak in hulle omgewing. Voorbeelde hiervan is Ignite Kroonstad en die Moot-projek in Pretoria, waar inwoners van dorpe en stede die besluit geneem het om self hulle moue op te rol en hulle hande vuil te maak en nie langer te wag vir die regering om byvoorbeeld slaggate of aanwysingsborde reg te maak nie,” vertel Spies geesdriftig.

“As ʼn mens deur die land ry, kan jy sien hoe plekke wat voorheen gehawend was, nou beter lyk. Iets so eenvoudig soos ʼn sypaadjie waar mense self begin skoon maak het, maak so ʼn groot verskil. ʼn Paar van die stories haal die nuus, maar daar is regtig soveel wat nié die nuus haal nie.”

Dit is ook die landsburgers met ʼn opbouende gesindheid wat haar motiveer om nie haar tasse te pak en na die buiteland te verhuis nie.

Mia Spies. (Foto: Sulet Fourie)

“’n Paar jaar gelede het ek voor ʼn kruispad gestaan waar ek die geleentheid gehad het om te emigreer, maar ek kon dit net nie doen nie. Ek voel vir die land en ek werk in Afrikaans. Om in my eie taal te kan teruggee en ʼn positiewe impak te maak, laat my glo dat ek hier die grootste verskil kan maak. Ek dink nie ek sal ooit die land kan verlaat nie.”

Sy vertel dat haar suster, Esté, as veearts vir die Dierebeskermingsvereniging in die Kaap gewerk het, en dat sy deur haar suster se beroep geleer het hoe belangrik dit is dat mense troeteldiere by skuilings aanneem.

“Ek het ʼn absolute passie daarvoor, want daar is duisende diere wat huise kort,” sê sy en voeg by dat sy self ʼn aanneemhondjie, Penny, by die huis het.

“Penny is my dogter! Ek weet nie watse tipe hond sy is nie – ek sê altyd sy is ʼn opregte hond, want haar ma is ʼn hond én haar pa is ʼn hond,” sê Spies laggend.

“Dit is wonderlik om te sien hoe ʼn dier wat ʼn tweede kans gekry het, kan floreer, net soos mense. Dit is lekker om nog ʼn asempie in die huis te hê.”

Sy vertel dat sy sonder skroom jongmense wat ʼn aanvoeling het vir die nuus en om inligting te deel, aanmoedig om in ʼn joernalistieke rigting te studeer.

“Ek het eers baie laat in my lewe geweet wat ek wil studeer, maar toe ek uiteindelik besef dat die joernalistiek die plek is waar ek moet wees, het ek volstoom daarmee voortgegaan.

“’n Joernalis se werk is baie opwindend aangesien geen twee dae dieselfde is nie. Jy kom die dag werk toe en jy het geen idee wat die dag gaan inhou nie. Gaan jy in ʼn hof sit, of gaan jy in ʼn betoging stap? Gaan jy in ʼn bekende persoon of politikus se huis sit?”

Mia en haar ‘dogter’, Penny. (Foto: Instagram/Mia Spies)

In Wie’s nuus skuif die nuus agter die lessenaar uit en word weeklikse nuusmakers deur Spies en ʼn span joernaliste en kenners bespreek en ondersoek.

“Die program fokus elke week op ʼn verskillende nuusmaker – die persoon wat daardie week op almal se lippe is by die werk, kerk en om die braaivleisvuur. Ons plaas die persoon onder die vergrootglas in ʼn gemaklike geselstrant,” verduidelik Spies.

As vryskutjoernalis, wat met die aanvang van die pandemie in 2020 van Pretoria na Seepunt verhuis het om by haar verloofde aan te sluit, het sy nou effens meer van ʼn roetine met die verfilming van Wie’s nuus wat in ʼn ateljee in Kaapstad plaasvind.

Spies is intussen met Johan Odendaal getroud en tussendeur die belangrike kwessies wat sy weekliks ondersoek, maak sy ook tyd om ballet te doen en het sy ook onlangs begin draf.

“Dis lekker om betrokke te wees by elke faset van die nuusprogramme wat ek aanbied. Dit is vir my belangrik om nie net in die aanbiederstoel te wees nie, maar om betrokke te wees by die proses van inligting insamel en die invalshoeke vas te stel.

“My werk is nie vir my ʼn werk nie. Ek leef my passie en my drome uit en dit is vir my regtig deel van wie en wat ek is.”

Wie’s nuus is elke Donderdagaand om 21:00 op kykNET te sien. Dit word ook op DStv Catch Up uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.