Luister: Mila Guy nou ook aanbieder

Mila Guy. (Foto: Charné Kingwill)

Die borrelende Hotel-aktrise Mila Guy het al verskeie kere op die kassie in haar wit rok voor die kansel gestaan en selfs al op die voorblad van die troutydskrif Wedding Guide gepronk.

Guy het spottenderwys in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat dit haar ʼn voorsprong gegee het om die nuwe aanbieder van VIA se nuwe werklikheidsreeks, Eendag, te wees.

“Ek onthou dat ek in my oudisie gesê het dat ek in sewe [vertolkings] van my karakters al ʼn bruid op televisie was en dat dit nou tyd is vir my om ʼn trouprogram aan te bied,” sê Guy.

Dit is iets wat sy nog altyd wou doen en daarom is Guy opgewonde oor haar eerste aanbiedersrol. “Ek is so bly dat dit uitgewerk het, want dit was ʼn wonderlike ervaring. Dit is goed om alles in ons bedryf te probeer.”

Maroela Media het vroeër berig dat Guy in 2021 haar debuut as regisseur van ʼn vollengte rolprent gemaak het met Die begin. Sy ook tans te sien as die minder vriendelike Malanie Schmidt in die vyfde reeks van kykNET se komediereeks Hotel.

“Dit is hartseer dat die reeks nou eindig, want ek dink dit is min dat ʼn mens hierdie soort ervaring saam met medeakteurs het. Hotel is beslis ʼn hoogtepunt in my loopbaan.”

Kykers is gaande oor Malanie en het dikwels ook vir Guy vertel hoe baie die reeks vir hulle beteken. “Dit is veral lekker as gesinne na jou toe kom en sê dit is die eerste keer in ʼn lang ruk wat hulle saam na ʼn Afrikaanse televisieprogram kyk.”

Mila Guy agter die skerms van VIA se nuwe werklikheidsreeks, Eendag. (Foto: Photastic Photography)

In Eendag kry paartjies wat nie die geleentheid gehad het om voor die kansel te staan nie, ʼn kans om uiteindelik hul troudag te vier. Daar is egter ʼn kinkel in die kabel: Paartjies het net een dag om al die troureëlings self te tref.

“Wanneer jy ʼn karakter se woorde leer is dit iemand ander sʼn, maar om ʼn aanbieder te wees beteken dat jy jouself is en dikwels moet improviseer.

“Boonop moes ek mense op hul troudag kalm hou en moed in praat wanneer hulle effens angstig was. Nietemin was dit ʼn heerlike ervaring en ek sal in die toekoms graag meer aanbiedingswerk wil doen.”

Guy sê dit was wonderlik om deel van ʼn span te wees wat ander mense op hierdie manier help.

“Die 13 paartjies wat hieraan deelgeneem het se liefde vir mekaar is so duidelik sigbaar. Ten spyte van die terugslae en struikelblokke wat hulle al getrotseer het, kies hulle mekaar en daarom was dit so ongelooflik spesiaal om in die geluk en liefde te deel.

“Ek het op elke troue gehuil en ek wou op elke troue dans. Daar was lekker kos en oulike mense. Dit was lieflik.”

Eendag begin Woensdag (9 Februarie) om 20:00 op VIA, DStv-kanaal 147.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Mila Guy. Sy gesels oor die kykNET-komediereeks Hotel, en haar eerste aanbiedersrol in VIA se werklikheidsreeks, Eendag.

Eendag | Seisoen 2 | Woensdae 20:00

Die maand van liefde is hier en om die liefde te vier keer #Eendag terug vir ’n tweede seisoen! Dié keer met Mila Guy as die aanbieder. Dertien paartjies moet hul droomtroues binne net een dag reël. Skakel elke Woensdagaand om 20:00 in vir nóg meer drama, trane en natuurlik ’n sprokiestroue.

Posted by VIA TV on Thursday, February 3, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Hotel kan ek haar verdrae, maar verder as dit nie regtig nie, ek hoop die aanbieding hou haar uit stories uit. :) voorspoed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.