Luister: Neels gaan van ‘op my eish’ na ‘op my reis’

Neels van Jaarsveld. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Diereliefhebbers en hul vierpotige vriende kan hul dierevriendelike springmielies nader trek en hul waterbakke volmaak, dit is tyd om op reis te gaan saam met bekendes en hul troeteldiere.

Neels van Jaarsveld is bekend vir sy rolle in reekse en rolprente soos onder meer Die Pro, Vir die voëls, Binnelanders, Fynskrif en The Bang Bang Club. Deur die jare heen het hy die waters van die aanbiederswêreld en werklikheidsreekse getoets en sal eersdaags in nóg ʼn heerlike verkenning- en geselsprogram, Op reis met my beste vriend, te siene wees.

“Dit het begin by die idee om dierevriendelike restaurante en akkommodasie saam met Lulu, my worshondjie, te besoek,” het Neels in Maroela Media se ateljee vertel.

“Ons het toe dié idee bietjie verander en opgekikker.”

Neels en Lulu sal in die eerste episode van die reeks te siene wees, waarna hy die leisels in elke opvolgende episode aan ʼn nuwe bekende en sy of haar vierpotige vriend sal oorhandig. Neels was egter steeds deel van die hele verfilmingsproses, aangesien hy ook die skrywer en regisseur van die reeks is.

Die wêreld is propvol negatiwiteit, en dis waarom dit vir Neels wonderlik is om die kollig op troeteldiere, wat omtrent net positiwiteit uitstraal, te plaas.

“Troeteldiere het onvoorwaardelike liefde, passie vir die lewe, omgee, lojaliteit en verdraagsaamheid.

“Ek hoop dat mense na die program kyk en sê: ‘Sjoe, dit was nou lekker’, en dat hulle hulself kan distansieer van hul dilemmas en dat dit tot ʼn mate verligting bring.”

Neels van Jaarsveld saam met sy worshondjie, Lulu. (Foto: verskaf)

Daar sal ook in die reeks lig gewerp word op verskeie nie-winsgerigte organisasies en watter rol diere in die samelewing speel.

Die reeks sal deur onder meer Leah en haar twee Jack Russels, Theodore Jantjies en sy boerboel, Reandi Grey en haar goue apporteerhonde en Francois Jacobs en Nykie Pretorius se twee Staffordshire-terriërs aangebied word.

Eloïse Cupido en haar twee katte, Phantom en Coco Belle, besoek ʼn dieresiener en kuier by ʼn aannemingsentrum vir katte, terwyl Wilhelm van der Walt en sy katte, Seymour en Freddie, deur ʼn dierkundige besoek word.

Neels hoop om deur die reeks kykers bloot te stel aan ʼn dierevriendelike wêreld waar dit al hoe makliker word om jou troeteldier saam met jou op uitstappies te neem.

“Dit is altyd so wonderlik om by ʼn plek in te stap en die waterbak te sien staan. Dit is ʼn teken dat die plek dierevriendelik is.”

Die verbintenis tussen mense en hul troeteldiere is iets wat veral vir Neels uitstaan. Hoe diere tot op die minuut weet wanneer hul eienaar tuiskom, die wonderlike vriendskap wat tussen mens en dier gevorm word en die emosionele ondersteuning wat soms so maklik vloei wanneer ʼn dier hom- of haarself op jou skoot kom tuismaak.

“Dit doen iets aan jou psige, jou menslikheid.

“Dis eintlik so ʼn positiewe inspuiting. Dis ongelooflik dat ʼn mens so band met jou troeteldier kan hê. Op die einde van die dag word hulle jou beste vriende.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Neels van Jaarsveld oor Op reis met my beste vriend.
  • Op reis met my beste vriend begin vanaand (8 April) om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal vir die volgende 13 weke op die kassie kuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.