Luister: Nuwe Afrikaanse stromingsdiens eersdaags bekendgestel

Adam Tas in Byt en Buskruit (Foto: Verskaf)

Dapper Media is ʼn splinternuwe verspreidingshuis wat binnekort sy eie aanlyn vermaaknetwerk bekendstel. Intekenaars van dié stromingsdiens sal gratis toegang hê tot ʼn legio Afrikaanse programme wat vervaardig word deur Dapper Media en Forum Films.

“Dapper Media is sowat twee jaar gelede as ʼn maatskappy gestig en aanvanklik was ons hooffokus om vir kunstenaars wat deur die politiek van die dag deur die bedryf uitgelaat word, ʼn platform te gee,” verduidelik William Waugh, die meesterbrein agter Dapper Media, in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

Intekenaars van dié splinternuwe stromingsdiens sal gratis toegang hê tot goeie gehalte inhoud in Afrikaans teen geen koste nie – al wat jy benodig is toegang tot die internet en ʼn Dapper Media-rekening.

Tommy Fraser, Martin Roux, Adam Tas, Chris Chameleon, Conrad Theron en Philip van Zyl saam met vand ie kameraspan (Foto: Verskaf)

“Op die oomblik word al die inhoud op Dapper Media deur Forum Films gekonseptualiseer en vervaardig en dit is regtig van baie hoë gehalte. Ons het ook hard gewerk om met verskeie gevestigde Afrikaanse kunstenaars, sowel as opkomende kunstenaars, verhoudings te bou,” sê Waugh.

“Die hele idee is dat mense toegang tot die programme op Dapper Media moet hê daar waar hulle is, hetsy dit nou op rekenaars, tablette of selfone is. Die programme handel oor ʼn wye verskeidenheid onderwerpe, soos die jag-en-visvangreeks, Byt en Buskruit, wat in September die lig sal sien op Dapper Media.”

Byt en Buskruit word aangebied deur die gesoute jagprogram-aanbieder, sanger en liedjieskrywer, Adam Tas. Tas is ook die voorsitter van die direksie van Dapper Media.

“Jag- en visvangprogramme is albei gewilde programme op die kassie en ons het met die idee vorendag gekom om dit in een program te kombineer,” vertel Waugh. Die idee vir dié program het rondom ʼn kampvuur ontstaan en bestaan uit ses jag- en ses visvangepisodes.

Adam Tas, Ichnus Wait en Douglas Fletcher in Byt en Buskruit (Foto: Verskaf)

“Die program word so geskiet dat kykers die natuurskoon kan bewonder en nie net die jag en visvangaktiwiteite nie,” voeg Waugh by. Bekendes soos Pieter Smith, Sorina ‘Die Flooze’ Erasmus, Chris Chameleon en Steve Hofmeyr maak saam met Tas ʼn draai in gesogte, eksotiese bestemmings soos  Mauritius, Mosambiek, St. Helena-eiland en Namibië.

Na afloop van elke dag se avontuur word daar heerlik kos gemaak met die vangs van die dag en daar word gesellig om die kampvuur gekuier. Kykers sal eerstehands kan sien hoe vis- en wildsvleisgeregte berei word en dié resepte sal ook eksklusief op Maroela Media beskikbaar wees.

Adam Tas in Byt en Buskruit (Foto: Verskaf)

Al die wild wat tydens die vervaardiging van die programme gejag word, word aan die #HelpJag-inisiatief van Solidariteit Helpende Hand geskenk. Dié inisiatief voed daagliks sowat 8 000 kinders en tot op hede is meer as 12 000 kg wildsvleis aan dié projek geskenk.

Kliek hier om gratis op Dapper Media te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pop ·

Dankie vir julle hulp aan die kindertjies met die wild en vis. Kinders kan nie help vir grootmens dinge nie.

ChrisE ·

Baie goeie inisiatief. Ek steun dit heelhartig. Moet asseblief tog net nie dat die “hoofstroom media en ander ongure karakters” hul pote daarop lê of toegang daartoe verkry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.