Luister: Paul du Toit oor pryse, nuwe lewe in Kanada

Paul du Toit (Foto: Maroela Media)

Toe die bekroonde akteur Paul du Toit, bekend vir sy rol as Malan Koster in die kykNET-hospitaalsepie Binnelanders, in 2020 die land verlaat het vir ʼn nuwe lewe in Kanada, het hy geweet dit is nie sy laaste rol in Suid-Afrika nie.

Du Toit vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat sy Kanadese vrou, Clair, ʼn werkgeleentheid in Vancouver gekry het en vandaar die besluit om daarheen te verhuis.

Die goeie nuus vir plaaslike aanhangers is dat Du Toit voortaan steeds akteur- en teaterwerk in Suid-Afrika sal doen, terwyl hy ook sy voete in die Kanadese vermaakbedryf vind.

“Ons was lus vir ʼn nuwe avontuur, maar ek sal nooit die bedryf in Suid-Afrika verlaat nie,” sê Du Toit. “Hierdie is my mense, my land en my stories. Dit is wat vir my sin maak en ek is lief vir my taal.

“Ek vlieg verskriklik baie op die oomblik, want ek wil nie ophou om hier te werk nie. Dit gaan ʼn rukkie neem om myself in die Kanadese bedryf te vestig, en ek besef dit,” sê Du Toit en voeg dan skertsend by: “Dit is ook goed vir my ego om daar by oudisies aan te kom en niemand weet wie ek is nie.”

Hy sê sy verbintenis met Suid-Afrika is soos ʼn familieverhouding en al word hy kwaad oor dinge wat in die land gebeur, beteken dit nie dat hy Suid-Afrika permanent sal verlaat nie.

“Daar is ʼn geskiedenis vir my hier. My voorvaders het in die 1600’s al bloed en sweet gestort om te oorleef.” Du Toit vertel ook dat sy oupa se sussie, Joan du Toit, destyds die titelrol in Sarie Marais, Suid-Afrika se eerste klankrolprent, gespeel het.

Dan is daar Du Toit se verknogtheid aan Afrikaans. “Die taal is vir my net een van die mooiste goed ter wêreld. Ek is lief daarvoor om in Afrikaans te werk en soms voel dit vir my of klassieke Engelse tekste, soos dié van die Russiese dramaturg Anton Tsjechof, net beter in Afrikaans klink.”

In dié onderhoud brei Du Toit uit oor hulle lewe in Kanada en hy deel ʼn paar goed van Suid-Afrika waarna hy die meeste verlang: sonskyn, braaivleis, om branderplank te ry, biltong en selfs rugby.

“Om weer te begin rugby speel is seker die domste ding wat ek nog in my lewe gedoen het. Maar dit is op ʼn ander vlak en ek geniet dit net,” skerts hy.

Met die klank van branders wat neffens Du Toit se strandhuis in Pringlebaai breek en sy branderplank wat teen die muur gereed staan om ʼn golf of twee te gaan vang gesels hy ook oor twee pryse wat pas aan hom toegeken is.

Vir sy rol as James in die Afrikaanse rolprent Stiekyt het Du Toit by kykNET se tiende Silwerskermfees weggestap met die beeldjie vir beste akteur in ʼn vollengterolprent. In dieselfde week is hy met ʼn Fleur du Cap-teaterprys bekroon vir die regie van The Unlikely Secret Agent.

Du Toit meen die pryse wat aan Stiekyt en The Unlikely Secret Agent toegeken is, gaan minder oor die beeldjie of erkenning en meer oor die werk wat daarin gesit is.

“Stiekyt” (Foto: Verskaf)

“Die pryse wat hierdie produksies gewen het, is wonderlik. Dit is vir my net ʼn bewys dat die risiko’s wat geneem is, mense wat geld belê en hart en siel daarin gesit het, se harde werk die moeite werd was,” sê hy.

“Albei produksies het met ʼn sekere hoeveelheid risiko gepaardgegaan. Stiekyt is ʼn buitengewone fliek vir die Suid-Afrikaanse bedryf. Dit is nie die tipe storie, narratief of teksstruktuur wat ʼn mens al voorheen gesien het nie.”

Dié riller, wat toevallig in ʼn fopdosserklub afspeel, is die verhaal van ʼn akteur wat eers sy vrou se misnoeë oor sy nuwe werk moet hanteer en dan met die geheimsinnige moord op ʼn kollega gekonfronteer word. Die rolverdeling sluit bekende akteurs in soos Cintaine Schutte, Jacques Bessenger, Albert Pretorius, Ilse Roos en Llandi Beeslaer, asook die TV-aanbieder en kosskrywer Herman Lensing.

“As ʼn akteur en kunstenaar in die rolprentbedryf was dit vir my ʼn lekker projek om aan te werk, omdat dit so grensverskuiwend is.”

Du Toit verklap dat hy op oomblik aan verskeie plaaslike produksies werk. Een daarvan is Die goeie pa, ʼn teaterproduksie wat gegrond is op die Britse teks “The Good Dad” deur die Suid-Afrikaans gebore Gail Louw.

Dit is ʼn boeiende verhaal oor die invloed wat manlike toksisiteit, seksuele misbruik en bloedskande op drie verskillende vroue het. Du Toit het die stuk vertaal en aangepas om binne ʼn Suid-Afrikaanse milieu af te speel.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Paul du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.